“Ek het in 2012 by ’n opleidingsentrum aangeklop, maar hulle het gesê die skool is te vol. Ek is op ’n waglys geplaas, maar het die hele jaar lank niks gehoor nie.”

In 2013 het Doreen, ’n enkelma, gehoor van ’n hoofstroomskool in Orange Farm, waar hulle woon, wat kinders met leergestremdhede aanvaar.

Die skool het ingestem om Gift (nou 9), by hulle te laat inskryf. “Die onderwyser het gesê hy vorder oukei, maar was ’n bietjie agter met kommunikasie en skryfwerk.”

Behalwe daarvoor kon hy meeste van die take verrig wat sy maats in gr. R ook probeer baasraak het, soos om ’n skêr te gebruik, te plak en in te kleur.

Maar in die helfte van die jaar is Doreen ingelig arbeidsterapeute en maatskaplike werkers gaan al die gr. R-leerders assesseer. Hulle het vir haar gesê Gift moet by die opleidingsentrum wees waar sy reeds aansoek gedoen het. Nadat sy verduidelik het hy is reeds op die waglys daar, het die maatskaplike werker ’n distrikshoof gebel. Dié het haar ’n brief gegee wat sy vir die opleidingsentrum kon gee om dadelik toelating vir Gift te kry.

Die sentrum was egter steeds te vol, en Gift is terug na die hoofstroomskool in Orange Farm – op voorwaarde dat hy tuis sou bly op dae dat die maatskaplike werkers besoek aflê.

“Hy moes drie tot vier dae uit die skool bly sodat die maatskaplike werkers hom nie daar kry nie.”

Dit het gewerk vir twee besoeke, maar die skool is onkant betrap met ’n derde besoek en ’n onderwyser het Gift vinnig huis toe geneem.

“Hulle moes hom wegsteek, asof hy in die geheim daar is, en nie ’n kind is wat veronderstel is om in die skool te wees nie,” sê Doreen.

Boonop was dit bloot toevallig dat Doreen se dogter daardie dag tuis was en na Gift kon omsien. “Stel jou voor as daar niemand tuis was nie?”

Eindelik het die opleidingsentrum plek gekry vir Gift, maar omdat dit eers vanaf volgende jaar beskikbaar is, loop hy nou baie skoolwerk mis. Die gesin is ook onlangs ’n plek by ’n skool in Randburg aangebied.

“Dit beteken ons sal 03:30 moet opstaan vir die reis vanaf Orange Farm na Randburg,” sê Doreen, wat werk by Afrika-Tikkun, ’n vereniging wat families met gestremde kinders help.

“Die skole wat so ver geleë is, het ons gevra om een te kry wat nader is, want dis baie moeilik vir die kinders wat so vroeg moet opstaan. Teen die middel van die oggend is hulle moeg en kan hulle nie konsentreer nie. Ek wil hê hy moet dieselfde geleenthede en sorg hê as die ander kinders.”

Bron: News24 Wire