Sy het die eerstedie eerste keer vermoed haar 17-jarige dogter is gay toe dié ’n nuwe vriendin huis toe bring. Hul lyftaal het gou verklap hulle is meer as net goeie maats. Sandra du Plessis* (47), ’n geskeide ma van twee van Roodepoort, wou nie bly raai en wonder nie. Toe vra sy Janine reguit of sy gay is. Die antwoord was ja.

'My eerste gedagte was: Dit is nie wat ek graag vir my kind wil hê nie.'

“My eerste gedagte was: Dit is nie wat ek graag vir my kind wil hê nie,” erken Sandra, nou twee jaar later.

“Ek het groot drome vir my jongste dogter gehad – dat sy eendag sou trou en kinders hê. Maar dit het my nie lank geneem om haar keuse te respekteer nie. As ek negatief gereageer het, sou dit net my verhouding met haar versuur het en ek wou dit vermy.”

Sandra was in ’n mate voorbereid op die situasie, maar ouers wat nog nooit gedink het hul kinders kan dalk gay wees nie, het ook nog nooit gedink hoe hulle in sulke omstandighede sal reageer nie.

Hoe gemaak as jou kind op ’n dag aankondig: “Ma, Pa, ek is gay . . .”? Is dit ’n grap? is dalk jou eerste gedagte. Of miskien is dit net ’n fase wat sal oorwaai. Maar sê nou dit is nie? Beteken dit ek sal nooit kleinkinders hê nie? En wat sal die familie sê?

Vir ’n ouer bied hul kinders se tienerjare genoeg uitdagings, maar ouers van gay tieners moet ook hul kinders se seksualiteit leer aanvaar en hulle help met die sosiale probleme waarvoor gay mense steeds te staan kom.

Janine se ma het besluit “om haar niks minder lief te hê nie”  en haar besluit te steun, maar nie almal in die familie was so begrypend nie. Sandra sê haar skoonouers weier steeds om te aanvaar hul kleindogter is gay.

“Hulle behandel haar asof sy ’n ruimtewese is en weier om met haar maat te praat. Hulle laat geen kans verbygaan om die een of ander neerhalende aanmerking te maak nie. Of anders ignoreer hulle haar heeltemal. Al sê sy dit pla haar nie, weet ek dit maak haar seer. En dit is so onnodig.”

Tog sê Sandra sy is bly Janine is openlik oor haar seksualiteit.

“Ek het al gesien hoe kinders wat dit vir hul ouers en vriende probeer wegsteek, basies ’n dubbele lewe lei.

“En as dit nie versigtig hanteer word nie, kan dit vernietigende gevolge hê, vir die ouer én die kind.”

Vir Tyler Clementi (18), ’n Amerikaanse universiteitstudent, het selfmoord na al opsie gelyk toe die geheim uitlek dat hy gay is. Nadat sy kamermaat hom skelm saam met ’n ander manstudent afgeneem en die video op die internet geplaas het, het hy van ’n brug afgespring.

Dit was een van die tragiese gevalle wat onlangs in die nuus was in Amerika waar verskeie gay tieners selfmoord gepleeg het nadat hulle geteister is.

Nog een, Asher Brown, was maar 13 toe hy hom met sy pa se vuurwapen skiet nadat hy oor sy seksualiteit geterg is.

Verwerping

Verwerping deur hul gesin kan net so erg of selfs erger vir gay tieners wees as klasmaats se geterg.

In ’n ondersoek aan die Staatsuniversiteit van San Francisco is gevind gay jong volwassenes wat sê hul gesin het hulle in ’n groot mate tydens hul belangrike tienerjare verwerp, was agt keer meer geneig om te probeer selfmoord pleeg. Hulle het ook ’n ses keer groter risiko geloop om erg depressief te raak en ’n drie keer groter risiko om onwettige dwelms te gebruik vergeleke met tydgenote uit gesinne waarin hulle geen of min verwerping ervaar het.

In Suid-Afrika speel ál meer gay kinders nou oop kaarte met hul ouers oor hul seksualiteit, meen Hanita Prag, ’n kliniese sielkundige van Port Elizabeth. Daarom is dit belangrik dat ouers weet hoe om dit te hanteer as daardie dag dalk aanbreek.

Te veel ouers konsentreer net op die seksuele aspekte van gaywees. Dit lei daartoe dat hulle in ’n mate weerstand daarteen bied of selfs die idee verwerp, sê navorsers van die Amerikaanse Vereniging vir Maatskaplike Gesondheid.

In ander gevalle redeneer ouers dikwels as hulle die eerstes is wat hul gay kind verwerp, sal dit dié van plan laat verander. Op hierdie manier hoop hulle om ’n beter lewe vir die kind te verseker en hom of haar by die samelewing te help inpas, sê Caitlin Ryan, ’n maatskaplike werker aan die Staatsuniversiteit van San Francisco. “Hulle sal die kinders dikwels verbied om tyd saam met enige gay vriende deur te bring en hulle toegang weier tot inligting oor hoe dit is om gay te wees. Dikwels laat hulle na om te sê dat hulle steeds vir hul kind lief is,” voeg sy by. Carolyn Wagner, ondervoorsitter van Parents, Families and Friends of Lesbians and Gays in Amerika, sê baie ouers is so besig om te dink hoe dit hulle sal raak dat hulle vergeet om in die eerste plek hul gay kind te ondersteun.

'Ouers projekteer dikwels hul eie planne en drome oor troues en kleinkinders.

“Ouers projekteer dikwels hul eie planne en drome oor troues en kleinkinders, pleks om te vra wat hul kinders se eie toekomsdrome is.

“Al is jou kind nie heteroseksueel nie, beteken dit nie meer deesdae dat daar geen troue of kleinkinders sal wees nie,” sê Carolyn.

As jy vermoed jou kind is gay, kan dit makliker wees om dié daaroor te pols as om te wag dat hy of sy die moed bymekaarskraap om jou te vertel, sê Hanita.

“Gay kinders sê oor die algemeen die maklikste manier om die onderwerp aan te roer, is as die ma of pa iets sou sê soos: ‘Ek dink al vir ’n ruk jy kan dalk gay wees.

‘As jy is, wil ek hê jy moet weet dit maak geen verskil aan my liefde vir jou nie. Ek sal nog meer oor die onderwerp moet uitvind sodat ek kan weet hoe om jou beter ’n gelukkige lewe te help lei.

‘Of jy gay is, of nie, ek is lief vir jou. Kom ons praat daaroor, as dit jou sal help.’ ”

* Nie hul regte name nie.

Hanteer jou kind se gaywees so

Al is jy dalk eers verbaas of ongemaklik oor jou kind se seksualiteit, onthou wat belangrik is en die dinge wat jy die graagste vir hom of haar wil hê, soos ’n goeie opvoeding, ’n liefdevolle verhouding, loopbaansukses, gesondheid en geluk.

Gay tieners kan met baie sosiale problem te doen kry. Hulle sal sekerheid nodig hê en iemand op wie hulle kan staatmaak. Sorg dat jy daardie mens is eerder as ’n buitestander wat hulle negatief kan beïnvloed.

Sluit by steungroepe aan en vind uit hoe ander ouers hul gay kinders hanteer. As jy beter ingelig is, kan jy enige botsende gevoelens wat jy daaroor het, beter verstaan en hanteer.

Carolyn Wagner van Parents, Families and Friends of Lesbians and Gays moedig ouers aan om hul geloof in hul kind te skei van enige godsdienstige geloofsoortuigings wat homoseksualiteit veroordeel. As jy jou gay kinders verwerp, sal niemand iets baat nie.

Vra iemand anders om met jou kind te praat as jy ongemaklik daaroor voel, sê Hanita Prag, ’n sielkundige. Al sukkel jy om dit te aanvaar, moet jy besef hulle het iemand nodig met wie hulle kan praat.

“Daar is ’n tyd om op te hou praat,” voeg Hanita by. “As alles eers klaar gesê en dalk al herhaal is, los die onderwerp. Laat die lewe gewoonweg aangaan – dit sal op sigself help. Maar sê ook vir jou kind jy sal altyd daar wees as hy of sy wil praat.”

Ondersteun jou kind met moontlike afknouery by die skool deur hom of haar te herinner dit is onaanvaarbare gedrag. Sê jy sal help as hulle geboelie word en met die skoolhoof gaan praat as dit nodig is.

Wanneer jy hul meisie of kêrel ontmoet, probeer die verhouding presies dieselfde hanteer as wat jy ’n heteroseksuele verhouding sou hanteer het, sê Hanita. “Dis belangrik dat jou kind gelukkige vriendskappe en verhoudings het.”

Vra jou kind of hy of sy jul familie en vriende daarvan wil vertel of vra hul toestemming voor jy hulle self vertel.

- Kim van Reizig

- Ekstra bronne: www.time.com; www.familyeducation.com; www.healthnews.com; www.psychcentral.com; www.ashastd.org