Leerders uit agt verskillende provinsies het Saterdag in Stellenbosch saamgetrek om hul spelvaardighede te toets by die Woorde Open Wêrelde se Nasionale Spelfees-kompetisie.

Hoewel woorde met elke ronde meer gekompliseerd geraak het en  deelnemers se spanningsvlakke tot die uiterste getoets is, was dit steeds pret. “Ek was baie senuweeagtig, maar ek het die kompetisie baie geniet,” sê Shantille Klaase (15), ‘n graad 9 leerder van St. Anna Hoërskool in Springbok. Na 26 moeilike rondes het Shantille eerste geëindig toe sy die woord “raffinadery” reg spel. “Ek kan nie glo ek het gewen nie. Dit was baie onverwags.”

In die Graad 10-groep was die twee top-presteerders van dieselfde skool afkomstig, Bernadino Heights Sekondêr in Kraaifontein. Rowena Fortuin (16) en Candice Jantjies (16) was onderskeidelik eerste en tweede. Hulle Afrikaans-onderwyseres, Sonia Cupido, was nie verbaas dat haar leerders so puik gepresteer het nie. Bernadino Heights bied al vir vier jaar ‘n spel- en leesprogram aan. “Elke week leer die leeders 50 nuwe woorde aan,” sê Sonia.

Die kompetisie was vir leerders tussen graad 1 en 10. Graad 1 en 2 moes woorde klank, terwyl die res moes spel. Deelnemers het wel woordlyste ontvang om hulle voor te berei, maar sommige van die woorde wat in die kompetisie gevra is, was nie vooraf bekend nie.

Elke graad-wenner het weggestap met ‘n kontantprys, ‘n trofee en ‘n boekprys van NB-uitgewers.

In ses kort jare het die kompetisie geweldig gegroei. Die eerste spelfees is in 2008 gehou met slegs twee skole wat deelgeneem het. Vanjaar het skole uit elke provinsie, behalwe KwaZulu-Natal, deelgeneem. Leerders van meer as 600 skole het teen mekaar meegeding by streeks- en provinsiale uitdunne. Spelfees hoop om KwaZulu-Natal volgende jaar te betrek.