Durban – Deon Governder, van Durban North College, het vandeesweek die versoek op Facebook geplaas.

Hy het Woensdag tussendeur klasse met News24 gesels en gesê hy sien uit na sy spesiale aand op Saterdag. “Ek was al by baie danse met ander meisies van ander skole. Nes ek, was hulle gelukkig genoeg om die geld te hê om dit te laat gebeur, en nes ’n mens sou verwag, was hierdie danse baie spesiale aande.

“In die aanloop tot my dans het ek niemand gehad om saam met my te gaan nie, en ek het gedink aan wie ek kon saamvat. En toe besef ek daar is mense wat nog nooit so iets kon doen nie. Ek wou iemand neem wat nooit die kans gehad het nie oor ’n gebrek aan geld of ander probleme in hu lewe. Nie almal is so gelukkig soos ek nie.”

'Belangrike aand'

Hy sê dit was ’n “belangrike aand” in sy lewe en hy wou hê iemand anders moes dieselfde gevoel ervaar. “As ek ’n verandering in iemand se lewe kan maak, sou dit my gelukkig maak,” sê Deon.

Die tiener sê hy het met sy ma daaroor gepraat en sy ondersteun dit wat hy probeer doen. “My ma het gesê sy sou my help betaal vir die meisie se rok en vervoer. Ek soek iemand wat dit verdien en nie iemand wat my gaan uitbuit nie.”

Sy ma, Vino, sê sy loop oor van die trots oor wat haar seun wil doen. “Ek is so oorweldig met sy keuse en baie trots. Hy het in die verlede al na baie danse met meisies gegaan. Hy wou hê sy dans moes spesiaal voel en wou iemand wonderlik laat voel,” sê sy.

Vino het op haar Facebookblad geskryf: “Liewe wonderlike mense. Eerskomende Saterdag is my seun se matriekdans en hy het ’n spesiale versoek. Hy wil graag hê sy maat vir die aand moet iemand wees wat nog nooit die voorreg of geleentheid gehad het om ’n matriekdans by te woon nie of weens finansiële of ander beperkinge nooit daardie geleentheid sal hê nie. Ras of geslag maak nie saak nie. Indien die persoon ’n vrou is, sal die rok, hare, grimering en verover na en vanaf die plek verskaf word. Ek vra dat julle my asseblief help om my seun se droom vir iemand anders te bewaarheid. Ek is seker ons sal dit kan regkry. God sal julle seën. Deel dit asseblief.”

News24