Na raming begin 56 persent van werkende Suid-Afrikaners op 28 spaar, terwyl die aanbevole ouderdom 23 is, volgens vanjaar se Sanlam Benchmark-ondersoek.

Ouers speel ’n kritieke rol daarin om kinders te leer spaar, sê Lezanne Human, die uitvoerende hoof van FNB se beleggingsprodukte. “Ouers dwarsoor die inkomstespektrum spaar vir hul kinders en dis verantwoordelik van hulle, maar as hulle nie hul kinders pertinent leer spaar nie, kweek hulle nie die regte spaargewoontes by hulle nie.”

Hier is ons wenke om jong kinders te leer spaar:

  • Maak ’n deursigtige spaarbus sodat hulle kan sien hoe hul spaargeld meer word.
  • Maak vir hulle ’n bankrekening oop en neem hulle bank toe om hul geld in te betaal wanneer die spaarbus vol is.
  • Laat hulle vir iets spesifieks spaar, byvoorbeeld ’n selfoon of ’n skaatsplank. Bied aan om hulle rand vir rand te subsidieer.
  • Moenie polisieman speel oor hul spaargeld nie. As hulle besluit om dit op iets doms te blaas, laat hulle toe. As hulle dan ongelukkig is oor die selfoon of skaatsplank wat buite bereik bly, sal hulle spaar beter begin verstaan.

-          Elna van der Merwe