Statistiek toon “teksbestuurders” se kans op ’n ongeluk is 23 keer so groot soos dié van die “vervelige” bestuurder wat op die pad konsentreer.

Soms is die teksbestuurder nie self in ’n ongeluk betrokke nie, maar hy of sy is verantwoordelik vir ’n ongeluk tussen ander voertuie.

Hoe gereeld sien jy dit nie wanneer jy in verkeer ry nie: Slimjan Teksbestuurder verander sonder enige waarskuwing van baan, spoed en rigting. Die res betaal gewoonlik die gelag.

Mense praat ook nie net op die foon of stuur of beantwoord ’n SMS nie; sommige werk selfs hul Facebook-status by, hou Snapchat aan die gang en maak seker hul Instagram-rekening bly nie agterweë nie.

Dit is eintlik skrikwekkend dat daardie klein instrument, jou selfoon, magtig genoeg is om jou lewe te regeer en in gevalle dit, en dié van ander, ook kan ruïneer.

Maar wat gebeur wanneer tieners gekonfronteer word met iemand wie se lewe op soveel maniere deur die onbesonnenheid van ’n teksbestuurder verwoes is?

Kyk gerus die video en besluit self wie se gesig jy wil sien voor jy weer jou selfoon nader trek terwyl jy bestuur. Dit kan jy wees. Of jou kind. Of jou ma of pa.

Hoe keer jy dat jou selfoon jou aandag aflei terwyl jy bestuur?

1. Geen verantwoordelike bestuurder stuur teksboodskappe terwyl hy of sy bestuur nie.

2. Dink voor jy jou motor se aansitter draai oor watter oproepe jy moet maak of watter boodskappe wat jy moet stuur. Handel dit af voor jy vertrek.

3. As jy op pad noodgedwonge sake telefonies moet afhandel, vra ’n vriend of kollega om jou aangewese bestuurder te wees.

4. Aktiveer jou selfoon se antwoorddiens en stel ’n SMS op wat outomaties ’n boodskap aan die beller se selfoon sal stuur wat aandui jy bestuur en sal op ’n meer geleë tyd terugbel.

5. As jy die oproep absoluut moet beantwoord, trek op ’n veilige plek van die pad af. Handel die gesprek dan af.

6. Sit jou selfoon in die kattebak terwyl jy ry.

7. Daar is verskeie apps vir iPhone en Android beskikbaar wat jou selfoon sal sluit sodra jy bestuur. Wanneer die motor weer tot stilstand kom, is jou selfoon weer aktief.

Bronne: digitalresponsibility.org, cellcontrol.com, donttextdrive.com