Die babadogtertjie lyk skoon verlore waar sy in haar skattige geel rokkie kniediep in die water staan. Sy kyk verward rond tot sy haar aandag begin toespits op die heldergroen plakkie wat voor haar ronddryf. Sy leun vorentoe, vat-vat aan die plakkie, en verloor dan skielik haar balans.

Die kleine Julia, net ses en ’n half maande oud, val kop eerste vooroor en beland heeltemal onder die water. Toe sy eindelik op haar ruggie lê, skop sy haar voetjies en klap haar handjies in ’n desperate poging om haar kop bo die water te hou.

Al is sy sigbaar ontsteld en kreun sy hard, help nie een van die vele volwassenes teenwoordig haar nie.

Dié video, wat by ’n Amerikaanse swemskool geneem is, het onlangs wye reaksie aanlyn ontlok en is in die laaste week al meer as ’n miljoen keer gekyk.

Dit het ’n hele debat ontketen oor hoe baba’s op ’n baie jong ouderdom geleer moet word wat om te doen sou hulle onverwags in water val.

Keri Morrison, Julia se ma, het nadat die video aanlyn gedeel is vir Fox News vertel sy het doelbewus besluit om haar dogtertjie so te leer swem omdat haar seun, Jake, op twee verdrink het.

Die Mail Online skryf Julia is 13 maande oud, maar in die video kan gehoor word hoe die instrukteur sê “nie sleg vir ’n baba van ses en ’n half maande nie”.

Tog voel heelwat ouers dit is heeltemal te traumaties om kinders so te leer swem, al kan dit dalk hul lewe red.

Die betrokke metode staan bekend as Infant Swimming Resource (ISR), verduidelik Enid Whelan, ’n swemafrigter met meer as drie dekades se ervaring om kinders te leer swem. Deesdae lei Enid, van Dulstroom, ander swemafrigters op.

“Die ISR-metode kan werk,” meen Enid, maar eis sy tol. “Dit is beslis baie traumaties vir die kind,” sê sy beslis.

“Ek is glad nie ten gunste daarvan nie,” sê Eliana Botha, ’n eertydse kollega van Enid en deesdae eienaar van ’n swemskool in Centurion.

Volgens Eliana fokus die ISR-metode meer daarop om kinders te leer dryf as om te swem. Sy gee toe dit kan dalk hul lewe red as hulle per ongeluk in byvoorbeeld ’n swembad beland. “Maar hoe lank kan hulle dryf? Hoogstens 15 minute, dan moet iemand hulle vind en red.”

Lees ook: Oorlewingswenke vir ouers

Sy meen kinders moet eerder geleer word om lief te wees vir water en hoe om self daaruit te klim as hulle daarin beland.

Maar hierdie metode verg natuurlik meer tyd en bekommerde ouers wil eerder die gerusstelling hê dat hul spruite nie so maklik sal verdrink as hulle as baba in water sou val nie, gee sy toe.

Tog is daar ’n moontlik blywende nadeel aan die ISR-metode: Dit kan by dié wat daardeur is, ’n lewenslange vrees vir water skep.

“Ek het al met talle volwassenes gesels wat daardeur is as kleuters,” vertel Enid, “en baie het tot vandag toe ’n vrees vir water.”

Enid meen ook as afrigter is dit nie aangenaam om die ISR-metode te gebruik nie. “Dit is nie lekker om te sien hoe kinders onder water beland en water sluk nie.”

Buiten die trauma is daar ander nadelige gevolge van hierdie metode wat ongesiens by party ouers kan verbygaan. “Die kind sluk dalk meer water as wat ’n mens dink en kry vog op hul longe. Of dit lei tot watervergiftiging,” waarsku sy.

Die metode is beslis ook nie onfeilbaar nie. “Toe ek 30 jaar gelede begin swemlesse gee het, het ’n baba eendag tot op die bodem van die swembad gesink,” vertel Enid. “Daar was te min suurstof in sy longe. Dit was skrikwekkend.”

Maar, gee sy toe, nie alle kinders reageer dieselfde op al die metodes nie. Dit is belangrik dat kinders, selfs van net ses maande oud, weet hoe om te reageer as hulle in die water is, maar tog kan sy steeds nie met ’n geruste hart die ISR-metode aanbeveel nie.

“Ouers moet maar hul eie besluite neem. Ons kan hulle net waarsku dat dit traumaties kan wees, maar ons begryp ouers wil keer dat hul kinders verdrink.

“Die sielkundige gevolge van die metode moet net beslis in ag geneem word.”

[caption id="attachment_125589" align="alignnone" width="600"]Foto: Wikipedia Commons Foto: Wikipedia Commons[/caption]

Wat is die alternatief?

“Ons benader swemlesse eerder op ’n liefdevolle manier,” sê Eliana. Sy verduidelik hulle wil eerder kinders meer waterbewus maak. Die ouers is saam met hul spruite in die water en hou hulle deurentyd liefderik vas.

“Eers op 18 maande skuif die ouers uit die swembad en werk ek alleen met die kleintjies,” verduidelik sy.

Ja, hierdie metode duur dalk langer, gee Eliana toe. “Maar ouers moet onthou: Daar is geen kitsoplossing nie.”

Ook op Huisgenoot.com

Verloor só gewig sonder om enige kos uit te sny

Dis hoe lank kenners meen jy moet verslank om die vetjies vir goed weg te hou

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Tob jy te veel? Slaan dié gewoonte gou-gou hok

Pienk v. blou: Dié kleurfeite gaan sekere gevestigde tradisies op hul kop keer

Met dié 10 kitsoplossings sal jy jou huis lag-lag skoon hou