Leerders van gr. 6 tot gr. 12 kry vanjaar weer ’n kans om groot pryse te wen met Solidariteit Helpende Hand se tweede entrepreneurswedstryd.

Verlede jaar se wenner, Eddie Pienaar, wil sy prysgeld van R15 000 gebruik om stoetooie te koop. Dié 13-jarige seun, ’n gr. 7-leerder aan die Laerskool Dagbreek op Carletonville, boer al met boerbokke vandat hy vyf is.

Motiveer jou leerders om vanjaar aan die wedstryd deel te neem wat hul van jongs af vaardighede vir sakesukses help aanleer. Leerders kan van 19 Februarie inskryf, en een vindingryke leerder gaan die groot prys van R15 000 vir hom en R15 000 vir sy skool wen.

Onnies kan ook registreer as daar leerders by hul skool is wat aan die wedstryd gaan deelneem. Jy sal dan toegang kry tot opvoedkundige video’s wat jy in die klas kan gebruik. Die video’s bevat onder meer inligting oor hoe ’n mens ’n sakeplan opstel en hoe ’n mens ’n diens of produk bemark.

Videomateriaal is net in Afrikaans beskikbaar, maar enige leerder wat Afrikaans magtig is, kan vir die wedstryd inskryf. Inskryfvorms en inligting is ook in Engels te kry.

Die wedstryd bestaan uit drie fases: Leerders moet registreer en voor 2 Mei 2014 hul sake-idee instuur. Die 50 beste idees dring deur tot fase twee, wanneer die semifinaliste kans kry om aan hul sakeplan te skaaf en ’n bemarkingsvideo van hul produk te maak. Dié inhoud moet teen 8 Augustus 2014 ingestuur word.

Die 10 beste sakeplanne dring dan deur na die eindronde wat op 18 September in die Atterbury-teater in Pretoria plaasvind. Finaliste moet hul plan aan ’n gehoor en paneel beoordelaars voorlê.

Leerders en skole kan die volgende pryse wen:

  • Die wenner kry R15 000 en die wenner se skool* ook
  • Tweede prys: R8 000 vir die deelnemer en hul skool*
  • Derde prys: R5 000 vir deelnemers en hul skool*
  • Die skool met die meeste inskrywings vir Fase 1, kry R2 000*
  • Die skool met die meeste leerders in die finale beoordeling op 18 September in die Atterbury-teater, kry R1 000.*

*skole moet die geld aanwend vir entrepreneursontwikkeling

Leerders kan van 19 Februarie hier registreer vir Helpende Hand se entrepreneurswedstryd 2014.

Onderwysers wat graag die entrepreneursvideo’s wil ontvang, kan Karin Venter nader by Karin@helpendehand.co.za.