SuperTeachers-Banner-1354902_954x330

Wat is dit?

SuperOnnies is ’n reeks gratis aanlyn hulpbronne vir onderwysers en leerders. Dis van vandag af op huisgenoot.com beskikbaar.

Dié hulpbronne, vir verskeie grade en vakke, kan as e-boeke afgelaai word. Dit behels onder meer PDF-drukstukke wat onderwysers na goeddunke kan kopieer en in die klaskamer kan gebruik. Die e-boeke is geskep deur regte onderwysers wat die materiaal graag met ander onderwysers wil deel.

Hoe kry jy dit?

Onderwysers landwyd van verskillende laer- en hoërskole lê hul lesse met spesiale sagteware vas en bêre dit dan op die SuperOnnie-inhoudsblad. Jy bereik dié blad deur na huisgenoot.com te gaan en links onder op die blad op Kopskuif-Onnies te klik. Soek nou vir die ligblou SuperOnnie-logo en klik daarop.

Gerrie Schoeman van Scriblr Educator, die maatskappy wat sagteware vir onderwysers skep om hul lesse in oudio-visuele formaat op te neem, sê die hoofdoel is om die kennisoordrag in die klaskamer te verewig. “In die deursnee-personeelkamer is daar tussen 300 en 400 jaar se gesamentlike kennis en ervaring wat daagliks aan leerders oorgedra word. Die doel is om te verseker dat hierdie kennis behoue bly vir leerders en ander onderwysers.”

Die SuperOnnies skep dus nuwe leermateriaal wat tradisionele hulpbronne soos handboeke aanvul en stel dit aan ander onnies beskikbaar. “Dis onderwysers wat as ’t ware hul eie mini-modules skryf oor onderwerpe wat hulle in die klaskamer aanbied.”

Leerders kan ook ná afloop van die les dié hulpbronne aflaai en die kennis op hul eie vaslê. Dit beteken die leerders kan oor en oor na die les luister, tot die materiaal vasgelê is. Dink daaraan as ’n digitale tutor wat hulle by die huis kan raadpleeg.

Die meeste inhoud wat tans beskikbaar is, is gerig op wiskunde van gr. 7 tot 11. Soos die onderwysers nuwe inhoud opneem, sal gebruikers dit gratis kan aflaai.

  • Besoek huisgenoot.com, klik na Kopskuif-Onnies en klik op die SuperOnnies-ikoon om op die inhoudsblad rond te snuffel

- Shané Barnard