Die Kopskuifonnies-projek

Ná honderde inskrywings het ons uiteindelik ons 12 Kopskuifonnies van die jaar gevind! Indien jy dit misgeloop het: Huisgenoot, YOU en DRUM wil 12 van die land se beste onderwysers beloon met waardevolle tegnologiese en ander hulpbronne wat die manier waarop hulle onderrig, vir altyd kan verander. Ons het onderwysers gaan soek met hope waagmoed en positiewe  energie, mense wat selfs die stelsel uitdaag om verandering teweeg te bring en wat met hul harde, inspirerende werk ’n verskil by hul skool maak – en ons het ons Kopskuifonnies/ Teachers for Change van die jaar gekry.

Elke wenonderwyser en sy/haar skool ontvang ’n Apple iPad-geskenkpak ter waarde van R120 000, geborg deur verskeie ondernemings. Elke geskenkpak bevat 20 iPads. Die onderwyser kry ook opleiding om die iPads as ’n onderrighulpmiddel te gebruik en om dit suksesvol by die Suid-Afrikaanse leerplan te integreer. iSchoolAfrica borg die opleiding. Die skool wen daarby R20 000 se boeke soos handboeke, studiegidse en woordeboeke volgens die skool se behoeftes soos dit deur Oxford University Press bepaal is. Die skool sal deel word van die Oxford Focus School-projek en dit het talle langdurige voordele, soos slypskole vir onderwysers na gelang van die skool se bepaalde behoeftes.

Eerste Kopskuifonnie: Leigh Michael Dunn

Dit is ons absolute plesier om Huisgenoot, YOU en DRUM se eerste Kopskuifonnie van die jaar bekend te stel: Mnr. Leigh Michael Dunn van die Formosa Primêre skool in Plettenbergbaai. Leigh spesialiseer in onderwys vir leerders met spesiale behoeftes (OLSO). Sy leerders kom uit alle sosio-ekonomiese groepe en hul gestremdhede sluit in disleksie, aandaggebrek en hiperaktiwiteit, fetale alkoholsindroom, visuele agterstande en outisme. Hy het vir hulle ’n leerplan uitgewerk wat elkeen van hul behoeftes in ag neem.

Leigh het in 2012 na België en Nederland gereis om talle skole vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes te besoek. Hy hou  graag aanbiedinge om sy idees en praktyke met ander opvoeders te deel. Hy word genooi om aanbiedings op distriks- sowel as provinsiale vlak te doen en deel graag hoe hy speletjies en kuns in sy klasse gebruik om die leerplan interessanter en insiggewender vir leerders met leergestremdhede te maak. Leigh het nie altyd die nodige toerusting of finansies nie en werk dus saam met NRO’s soos Born in Africa, MonkeyNastix en die Bitou 10-stigting.

Hy het pas sy studie in onderwysbestuur en -beleid voltooi en het in die loop daarvan met die hulp van sy kurrikulum-raadgewers ’n OLSO-leerplan ontwerp waarby ander OLSO-skole in die omgewing reeds baat vind.

Formosa Primêre skool is ’n pionier op die gebied van inklusiewe onderwys in Suid-Afrka danksy Leigh Dunn se harde werk.

Dankie 

Ons sê dankie aan Telkom, ons eerste borg. Telkom het dit moontlik gemaak dat Leigh Dunn, ons eerste Kopskuifonnie, en sy skool, Formosa Primêre Skool in Plettenbergbaai, die wonderlike iPad-geskenkpak kan ontvang.

Dankie ook aan Core, iSchoolAfrica en aan die Melville Spar wat die eet- en drinkgoed verskaf het.

[gallery ids="19831,19832,19833,19834,19842,19854,19855,19856,20937,20938,21324,21325"]