‘DAAR is baie pessimisme in die wêreld, maar dis goed dat ’n mens onthou die wêreld was al pessimisties en sal weer wees. Daar is maniere om pessimisme te hanteer. Optimisme en hoop gee mense energie en maak organisasies lewenskragtig. Ons kan sit en tob oor ons pessimisme of ons kan die lewe se uitdagings aandurf.”

Dié woorde van wyle prof. Jakes Gerwel, ’n voormalige kanselier van die Rhodes-universiteit, oudrektor van die Universiteit van Wes-Kaapland en direkteur-generaal in die kantoor van oudpres. Nelson Mandela, som presies op hoekom ons hier by Huisgenoot so passievol is oor onderwysers, veral dié wat optimisties is.

Hulle wat nie tob nie en kinders se toekoms lewenskragtig maak. Ons noem hulle kopskuif- onnies. Sedert die dae van Fanie en Melanie tot die huidige Huisgenoot in die Klaskamer- blaaie was Huisgenoot nog altyd onwrikbaar verbind tot die bemagtiging van jong mense met inligting. En wie doen dit beter as ’n staatmakeronderwyser wat soms te midde van moeilike omstandighede dag ná dag die grense verskuif in hul skool en gemeenskap?

Toe ons verlede jaar besluit ons wil 12 van die land se beste onderwysers beloon met waardevolle tegnologie en ander hulpmiddels wat ook hulle kan bemagtig, was dit meer as net ’n eerbetoon; ons wou dit vir dié onnies makliker maak om hul kennis aan leergierige kinders oor te dra. En nou kan ons dié wen-onnies begin aankondig: 12 spesiale leerkragte wat voor die swartbord uitblink,  onbaatsugtige opvoeders wat skouer aan die wiel sit om hul skool en gemeenskap reg te ruk met opbouende energie en ’n goeie skeut waagmoed.

Ons het meer as duisend inspirerende aansoeke vir ons projek Kopskuifonnies ontvang van skole wat breëbors met hul helde wou spog. Een skool het hul hoof benoem vir sy besonderse toewyding. Nie net het hy twee boomhuisklaskamers by die skool laat bou nie; hy het sommer ook ’n melkbokboerdery op die skoolterrein begin en so bygedra tot die skool se eerste en tweede plek in 2011 en 2012 op die SA Suiwelkampioenskapsbyeenkoms vir hul bokmelkroomkaas.

Nog ’n benoeming was ’n onnie wat by ’n skooltjie in ’n hospitaal klas gee vir siek kinders. Sommige het nie ouers nie en ander se ma en pa kan dit net nie bekostig om na hulle om te sien nie. En so het dié besonderse onderwyser ook ’n oppasser en versorger geword; elkeen van sy leerders het sy selnommer byderhand sodat hulle hom dag of nag kan bel.

Dan is daar die kopskuifonnie wat ’n vakansie opgeoffer het en in België en Nederlandsy kennis gaan verskerp het oor leerders met spesiale onderwysbehoeftes, kinders soos dié in sy klasse. En toe hy terugkom, was dit nie net tot  voordeel van sy leerders nie; hy deel ook graag sy kennis met ander opvoeders op distrik- en provinsiale vlak. Daar is selfs ’n dokumentêre program oor sy toewyding en werk in die gemeenskap vervaardig.

Dis mos nou wat ’n mens ware onniehelde noem . . .

DIE PRYSE: VAN iPADS TOT HANDBOEKE

Ons kopskuifonnies en hul skole word lekker bederf. Hulle elkeen kry die volgende: ’n Apple iPad-sentrum ter waarde van R120 000, geborg deur verskeie deelnemende ondernemings. Elke sentrum sal toegerus word met 20 16 GB-iPads met Wi-Fi, beskermende omslae vir elk, ’n MacBook Proskootrekenaar, ’n multipasstuk en projektor plus ’n iTunes-rekening met ’n begroting voldoende vir enige apps wat nodig is vir die onderrig van die leerplan.

Elke kopskuifonnie wen hul eie iPad vir gebruik in die klaskamer of by die huis, geborg deur iSchoolAfrica, ’n projek van die Core-groep, die gemagtigde alleenverspreider van Apple-produkte in Suider-Afrika. Hulle kry opleiding om die iPad in hul onderrig te gebruik as ’n suksesvolle hulpmiddel vir die Suid-Afrikaanse leerplan. iSchoolAfrica borg die opleiding.

Die onderwysers word deel van die iSchoolAfrica-ondersteuningsnetwerk vir verdere bystand en raad. Die uitgewer Oxford University Press sal ’n behoeftebepaling doen en kyk watter handboeke en studiegidse die kopskuifonnie se skool nodig het. Na gelang daarvan, sal die uitgewer R20 000 se opvoedkundige boeke aan die skool skenk, waaronder handboeke, studiegidse en woordeboeke. Elke skool word ook deel van die projek Oxford Focus School met langtermyn- voordele, soos slypskole vir onderwysers, gegrond op die skool se behoeftes.

iPADS

’n iPad in die klaskamer bemagtig onderwysers en leerders met die nuutste tegnologie. Dit help hulle eksperimenteer en maak onderrig interaktief. “Die 12 kopskuifonnies het klaar hul potensiaal gewys om verandering te bring in hul klaskamer en gemeenskap,” sê  Michelle Lissoos, die hoof van iSchoolAfrica.

“Die iPad bied apps vir syfervaardighede, geletterdheid en kinders met spesiale onderwys- behoeftes wat die wen-onderwysers sal help met hul taak om vaardighede, motivering en passie op te skerp. Saamleerprojekte en samewerking tussen leerders sal hul selfvertroue ’n hupstoot gee en boonop leer prettiger en interessanter maak en leerders bemagtig om ’n verskil te maak. Daarby sal onderwysers nuwe vaardighede leer wat hulle weer aan die kinders kan oordra.

“Ons is baie opgewonde om met onderwysers te werk wat in uitnemendheid glo en aan leerders die beste moontlike oplossings bied om sukses te behaal. Ons sien uit na die verandering wat die wenners in hul skool en gemeenskap gaan maak. Danksy die iPad en iSchoolAfrica kry ons wen-onnies toegang tot ’n hele wêreld van gehalte-inhoud en ’n magdom apps. Dit sluit in leerplanrelevante lesse, assesserings, speletjies en oudio- en e-boeke.”

RAAK BETROKKE

Heelwat maatskappye borg die Kopskuifonnies-projek en ons is dankbaar vir elkeen wat met ons saamspan. Dit kos R150 000 om ’n iPad-sentrum aan ’n skool te skenk, maar ons ver- welkom enige skenking, groot of klein, want elke bietjie help. Huisgenoot-lesers kan ook in hul persoonlike hoedanigheid ’n verskil maak en ons help om nog ’n iPad-sentrum te borg.

As jy wil skenk, stuur ’n e-pos aan Elisma Roets by elisma.roets@media24.com of bel 021-406-4599.

NOG INLIGTING OP FACEBOOK

Deur Facebook wil ons ’n ondersteuningsnetwerk skep waar lesers alles kan vra wat pla en onderwysers en ander kenners insette kan lewer. Onderwysers kan dié netwerk ook gebruik om wenke te deel en mekaar aan te spoor.

Vir nog inligting, besoek ons Facebookblad, www.facebook.com/huisgenoot.

PLAKKATE

As deel van die projek borg Oxford University Press spesiaal vir ons jonger lesers en hul hardwerkende onnies ’n reeks plakkate, waarvan die eerste in hierdie uitgawe verskyn. Die eerste plakkaat se tema is wiskunde, met maaltafels op die een kant en die periodieke tabel op die keersy. Maak seker jy kry ook die tweede en derde in die reeks in onderskeidelik die uitgawes van 21 Februarie en 21 Maart.

Elke plakkaat, geskik vir laer- en hoërskole, is ideaal vir die klaskamermuur en kan ewe maklik by die huiswerktafel gebruik word. “Ons glo opvoedkunde ontsluit sukses,” sê Botho Mothibi, die direkteur van skole by Oxford University Press. “Die jeug van vandag is die leiers van môre. Dit wat ons in die opvoeding van ons kinders belê, sal ons land se toekoms bepaal.

“Onderwysers speel ’n enorme rol in die bepaling van hoe ons jeug se kop werk. Juis daarom is ons opgewonde oor die Kopskuifonnie-projek. Ons hoop dat die opvoedkundige plakkate in Huisgenoot ons onderwysers en leerders op die lange duur sal help.”