Deur Wilmarie Grobbelaar en Riaan Rudman

Toetse en eksamens is dikwels ’n bron van stres en kommer vir leerders, maar dit hoef nie te wees nie.

Soos baie dinge in die lewe, sal te veel of te min stres jou prestasie belemmer en verhinder dat jy so goed moontlik presteer. ’n Klein bietjie angstigheid help jou om te fokus deur jou wakker te hou, maar te veel kan veroorsaak dat jy toeslaan. As ’n student moet jy altyd dié gesegde in gedagte hou: As jy nie beplan nie, beplan jy om te misluk. As jy beplan om ’n sukses van jou eksamen te maak, gaan dit alles oor tydsbestuur. Gebruik jou tyd voor, tydens en ná die eksamen om jou stresvlakke so laag moontlik te hou en jou kanse op sukses te verhoog.

Voor die eksamen

Stel voor die eksamen ’n realistiese studierooster saam en hou sover moontlik daarby. Dit help jou om jou gedagtes te organiseer en gee jou ’n strategie wat sal help om jou stresvlakke onder beheer te hou.

Gebruik ander mense se tyd: Vra as jy iets nie verstaan nie, maak ’n afspraak met jou onderwyser of vorm ’n studiegroep. Hoe meer jy verstaan, hoe minder sal jy stres. Iemand kan dalk ’n begrip in ’n paar minute aan jou verduidelik, teenoor die ure wat dit jou dalk sou neem om dit alleen te probeer uitpluis.

Tydens die eksamen

Gebruik jou tyd om ’n dag of twee voor jy begin studeer ’n studievriendelike omgewing te skep. Moenie jou studietyd gebruik om skoon te maak wanneer jy eintlik moet swot nie.

Onthou dat dit die moeite werd is om tyd af te staan aan dinge wat jou sal help om beter te studeer. Dit is uiters belangrik om te oefen en genoeg te slaap. Albei hiervan verminder stres omdat dit jou help fokus en sodoende jou angstigheid verminder.

Ná die eksamen

Beloon jouself vir jou inspanning. As jy kan, vat ’n aand af en ontspan vir ’n paar uur voor jy vir die volgende eksamen begin studeer.

Beperk die tyd wat jy die vraestel met jou vriende bespreek. Moenie te veel fokus op dinge wat jy dalk verkeerd gekry het nie; wat gedaan is, is gedaan. Spits jou liewer toe op dit wat jy nog kan beheer, soos om vir die volgende eksamen te studeer, natuurlik nadat jy ’n bietjie ontspan het.

Bekommer jou oor die dinge wat jy kan beheer en ignoreer dit wat jy nie kan beheer nie. Beplan vir die res.

Wilmarie GrobbelaarWilmarie Grobbelaar is ’n taalspesialis aan die Universiteit Stellenbosch se departement van rekeningkunde.

Riaan RudmanRiaan Rudman is ’n senior dosent aan die Universiteit Stellenbosch se departement van rekeningkunde.