’n Onlangse ondersoek deur AVG Technologies het getoon 32 persent van kinders voel afgeskeep wanneer hul ouers in hul selfoon verdiep is.

Die peiling onder meer as 6 000 kinders tussen 8 en 13 jaar in vyf lande het getoon 54 persent meen hul ouers bestee te veel tyd aan hul foon, terwyl 32 persent afgeskeep voel wanneer hul ma en pa aan hul selfoon vasgenael is.

Jake Hilmi (15) het gesê sy ma “bestee te veel tyd aan Candy Crush”, terwyl Hailey George (14) gesê het sy dink haar pa “bestee baie tyd daaraan om aan sy vriende teksboodskappe te stuur”.

Die algemene konsensus was dat die kinders voel hulle moet met selfone meeding om hul ouer se aandag – en 52 persent van die ouers wat aan die ondersoek deelgeneem het, het saamgestem.

“Ek voel die balans is versteur tussen die mate waartoe ek my mobiele toestel gebruik om met my werk in verbinding te bly en my vermoë om meer teenwoordig te wees om vir my gesin beskikbaar te bly,” het een van die ouers gesê wat vir die ondersoek ondervra is.

“Met dié dat ons kinders op ’n ál jonger ouderdom mobiele toestelle optel, is dit belangrik dat ons vroeg al goeie gewoontes in die huis vestig,” sê Tony Anscombe, senior veiligheidsbeampte by AVG Technologies. “Kinders volg ons voorbeeld in alles, dus is dit net natuurlik dat hulle dieselfde met toestelgebruik sal doen. Dit kan moeilik wees om by die huis van jou toestel af weg te tree, maar met ’n kwart van ouers wat vir ons sê hulle wens hul kinders het hul toestel minder gebruik (25 persent), moet hulle ’n voorbeeld stel en oorweeg hoe hul gedrag dalk hul kind laat voel.”

Dit is moeilik om in hierdie moderne wêreld ’n weg te vind, maar ouers moet onthou hulle moet op hul kinders fokus omdat hulle na hulle opkyk vir leiding.

BRONNE: PARENTING.COM, MARKETWATCH.COM, EDUCATIONNEWS.ORG

Saamgestel deur Lindsay de Freitas