Seksboodskappe behels die stuur van seksuele boodskappe – wat teks, foto’s en video’s insluit – oor selfone en deur sosialemediaplatforms soos WhatsApp.
'Die goed word op die internet gelaai en versprei dan soos ’n veldbrand. Leerders probeer dit dan naboots.'

“Dit is ’n daaglikse verskynsel. Ons vind die stuur van seksboodskappe is taamlik algemeen onder kinders van tussen 10 en 14 jaar oud – en natuurlik ook ouer as dit,” het Shaheda Omar van die Teddy Bear Clinic aan News24 gesê.

“Met die koms van tegnologie en toegang tot selfone gebeur dit oor die hele spektrum en nie net in ’n bepaalde bevolkingsgroep nie.”

Sy het gesê “skermtieners” (tieners wat dikwels aan hul mobiele skerms vasgenael is) loop veral gevaar om by seksboodskappe betrokke te wees.

“Ons hoor van voorvalle wat in skole aangemeld word, maar daar is baie waarvan ons nie weet nie. Die voorvalle waarna ons kyk, is nie ’n akkurate weerspiëling van hoe wydverspreid die probleem is nie.”

“In ons uitreik na skole lig ons kinders in dat dit ’n misdaad is. Hulle weet dikwels nie dis onwettig nie.”

Sy het gesê sy weet nie van enige huidige saak teen kinders oor die stuur van seksboodskappe nie.

Volgens die RPR sluit kinderpornografie in “enige beeld, hoe dit ook al geskep is, of enige beskrywing van ’n persoon, werklik of denkbeelding . . . wat uitgebeeld, voorgestel, weergegee of beskryf word as jonger as 18 jaar”.

Artikel 18, 19 en 20 van die Wysigingswet op Strafreg (seksuele misdrywe en verwante aangeleenthede) handel spesifiek oor die ontwettigheid van die seksuele voorbereiding van kinders, die blootstelling van kinders aan kinderpornografie of pornografie of die vertoning daarvan aan kinders en die gebruik van kinders om uit kinderpornografie voordeel te trek.

In 2013 het die konstitusionele hof bevind artikel 15 en 16 van dieselfde wet is ongrondwetlik. Dit beteken die kriminalisering van seksuele optrede tussen twee instemmende adolessente is ongrondwetlik. Dit sluit in die daad van “penetrasie” en ander gedrag, soos soen.

Die Teddy Bear Clinic het die aanvanklike saak voor die hof gebring.

Maar Shaheda het gesê die daad van seksboodskappe word nie deur daardie uitspraak geraak nie.

“Pornografie is anders en afsonderlik van instemmende seks. Dit word in verskillende artikels behandel.”

Die RPR het aan News24 gesê baie van die produkte van seksboodskappe, soos foto’s en video’s, beland dikwels op die internet en word as ’n middel tot “kuber-afknouery” gebruik.

“In ons terug-skool-toe-veldtog lig ons leerders in oor rolprente en videospeletjies . . . en praat ons spesifiek met hulle oor seksboodskappe,” het Janine Raftopoulos, ’n woordvoerder van die RPR, gesê.

“Die goed word op die internet gelaai en versprei dan soos ’n veldbrand. Leerders probeer dit dan naboots.”

Sy het die voorbeeld genoem van die Hoërskool Jules in Johannesburg waar ’n video blitsvinnig versprei het van twee seuns (toe 14 en 16) wat met ’n meisie (toe 15) seks gehad het.

Die meisie het eers beweer sy is verkrag, maar later gesê sy het ingestem tot die seks. Die seuns is eers van statutêre verkragting aangekla, maar het later aan ’n afleidingsprogram deelgeneem.

“Die meisie het later haar eie lewe geneem,” het Janine gesê.

Sy het gesê dit bewys watter uitkringeffek kuber-afknouery het.

News24