Hier is wenke.

Besluit wat jy nodig het.

Voordat jy die pos adverteer, is dit wys om saam met jou maat of kind te sit en te bespreek wat julle van ’n oppasser gaan vereis.

Aspekte waarna jy kan kyk, sluit in:

  • Is die werksure vas, of kan jy in krisissituasies van die oppasser verwag om langer of ongewone ure te werk?
  • Moet die oppasser kosmaak?
  • Word daar van die oppasser verwag om jou kind met skoolwerk te help? Indien ja, is hulle opgewasse om jou kind se skoolwerk te help verduidelik?

Hou onderhoude.

Maak ’n kortlys van persone en reël ’n ontmoeting. Jy sal ’n beter indruk van die persoon kan kry wanneer jy hulle in persoon ontmoet.

Berei vrae voor en pols hulle oor hul ervaring, belangstellings en kwalifikasies.

Jy kan byvoorbeeld vra of hulle weet wat om tydens sekere mediese krisisse te doen, wat hulle vind die beste manier is om ’n rustelose baba te laat slaap of hoe hulle woelige kleuters sal besig hou.

Indien jy wil en jou kinders opgewasse is, kan jy hulle ook die oppasser laat ontmoet.

Gaan die persoon se verwysings na.

Werk deur agentskappe.

Agentskappe het stelsels in plek om seker te maak diegene wat aansoek doen vir poste is gekwalifiseerd en betroubaar. Dit is daarom ’n goeie idee om deur ’n agentskap te werk. Hulle doen ook die soekwerk vir jou en maak daarom die moete vir jou minder.

Kry jou papierwerk reg.

Sorg dat jy ’n kontrak laat opstel waarin jou verwagtinge en vereistes duidelik uiteengesit word sodat beide jou en die oppasser se belange beskerm word.

Aspekte soos verlof, uitgawes, vergoeding vir oortydwerk en hoe en wanneer die kontrak beeïndig mag word moet ook hierin gedek word.

Hou ’n proeflopie.

Pleks daarvan om iemand dadelik vir ’n jaar of langer aan te stel, kan jy ’n proeflopie van ’n maand hou om te kyk of die situasie werk. Maak dit duidelik aan die oppasser as dit ’n proeflopie is en praat met jou maat of kinders indien nodig om te hoor of hulle gemaklik is met die ooreenkoms.

Vertrou jou instinkte.

As jy onrustig oor iemand voel, al het hulle wonderlike ervaring en kwalifikasies, is dit beter om op jou intuïsie staat te maak. Hou dit ook in gedagte as jou kinders vir jou sê hulle is nie gemaklik met die persoon of kom nie goed oor die weg met hom of haar nie. Dit is immers jou kinders wat in hul geselskap gaan wees, nie jy nie.

Bronne: babycenter.com, todaysparents.com, lifestyle.howstuffworks.com, parents.com