Almal weet ’n woordeboek is ’n noodsaaklikheid vir die skool, en die nuwe KABV-leerplan vereis dat leerders een gebruik. Maar watter een moet jy koop? Hier is wenke oor hoe jy die beste woordeboek vir jou kind kan kies.

Dit moet pas

Wanneer jy skoolskoene koop, maak jy seker hulle pas jou kind, met ’n bietjie groeiruimte, maar nie te veel nie, want dan kan sy struikel en val.

“Pas” is ook baie belangrik met ’n woordeboek. Dit moet by jou kind se behoeftes pas, met ’n bietjie ruimte vir groei, maar nie te veel nie. As jou kind dit maklik kan gebruik, sal sy dit gereeld gebruik. Maar as die woordeboek te gevorderd is, kan sy sukkel, nooit leer om ’n woordeboek goed te gebruik nie en onderpresteer in taaltake.

Maar hoe weet jy of ’n woordeboek by jou kind se behoeftes pas?

  1. Kyk uit vir ’n ouderdom of graad op die omslag van die woordeboek.
  2. Maak die woordeboek oop en kyk na ’n inskrywing vir ’n woord wat jy ken, soos “lemoen”. Kyk dan na ’n inskrywing vir ’n moeiliker woord, soos “bemoei” of “spysverteringskanaal”. Was dit maklik om die inskrywing te kry waarna jy gesoek het? ’n Mens moet ’n woordeboek maklik en vinnig kan gebruik.
  3. Bekyk nou die inskrywings van naderby. Kan jy die verklarings maklik verstaan? Indien nie, sal jou kind ook sukkel. Vra jou kind moet een hardop lees. As daar woorde is wat sy nie verstaan nie en sal moet opsoek, is die woordeboek dalk te moeilik. ’n Goeie woordeboek vir leerders verduidelik selfs moeilike begrippe in eenvoudige taal.
  4. Blaai deur die woordeboek. Is daar sketse of foto’s? Woordeboeke met prente is nie net vir jong kinders nie; selfs woordeboeke vir volwassenes kan illustrasies hê, maar hulle sal anders lyk as dié vir jong leerders. Prente vir jong leerders is dalk in kleur en sal minder besonderhede bevat. Woordeboeke vir ouer leerders, byvoorbeeld op hoërskool, sal waarskynlik nie in kleur wees nie, maar hulle behoort etikette en byskrifte te hê (om woordeskat uit te brei), en veel meer gedetailleerd te wees.
  5. Is daar enige ekstras, soos ’n voorbeeld van ’n formele brief of taalgidse? Hulle kan nuttig wees as hulle op die regte vlak vir jou kind is.
  6. Laastens, kyk hoe die woordeboek gemaak is. Is die drukwerk helder en duidelik? Het die omslag ’n gladde, blink gevoel wat dit teen taai hande sal beskerm? Word die woordeboek uitgegee deur ’n onderneming wie se naam jy ken en vertrou?

’n Woordeboek wat aan dié ses vereistes voldoen, sal by jou kind se behoeftes pas, tot vyf jaar lank daaglikse gebruik bied en goeie waarde vir geld wees.

Maar wees bereid om nog ’n woordeboek te koop wanneer jou kind die volgende fase van haar skoolloopbaan bereik. ’n Woordeboek wat vir ’n laerskoolkind gepas is, sal waarskynlik nie aan ’n hoërskoolkind se behoeftes voldoen nie. Nes skoene.

megan-up-close by Cecile Mella (c) for Badilisha 2009-05Megan Hall gee sedert 2003 woordeboeke uit vir Oxford University Press Suid-Afrika. In haar privaat hoedanigheid het sy in 2008 die Ingrid Jonker-prys vir digkuns gewen. Foto: Cecile Mella (c) vir Badilisha