Sy leerders kom uit alle sosio-ekonomiese groepe en hul gestremdhede sluit in disleksie, aandaggebrek en hiperaktiwiteit, fetale alkoholsindroom, visuele gestremdhede en outisme.

Wat kan onderwysers met beperkte hulpbronne doen om kinders met spesiale behoeftes te help?

Dis altyd vir my so ’n eer om geldinsamelingspogings by ons skool te reël. Ek nader ook plaaslike nieregeringsorganisasies vir hulp en skaf soms self toepaslike opvoedkundige speletjies en hulpbronne vir ons leerders aan. Ek dink ons as opvoeders is almal daaraan gewoond om met die minimum in ons klasse reg te kom. Veral Suid-Afrikaanse opvoeders word gekenmerk deur hul gedrewe gees en hardwerkendheid, en daarom word ons so hoog geag wanneer ons oorsee gaan werk, iets waarvan ek self ondervinding het. Dit is ons passie wat die verskil gaan maak, nie die geld of hulpbronne nie.

Nou die dag het ek my leerders gemotiveer om bierdoppies te gaan optel waarmee ons nuwe musiekinstrumente vir ons volgende konsert geprakseer het. Kinders is altyd meer as gewillig om te help, en die meeste plaaslike ondernemings sal enigiets in hul vermoë doen om onderwys te bevorder, veral in hul eie gemeenskap.

Gestel ’n onderwyser gee nie spesifiek vir leerders met spesiale behoeftes klas nie, maar daar is ’n leerder in die klas met byvoorbeeld aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteurnis (AGHS). Hoe kan die onderwyser seker maak die leerder vorder na wense?

Op 8 Mei 2012 het die Parlement die implementering van inklusiewe onderwys in Suid-Afrika beklemtoon, en ons werk tans daaraan om elke skool in ons land heeltemal inklusief te maak. Inklusief beteken dat kinders wat alternatiewe leerbehoeftes het – soos kinders met AGHS – deel gemaak word van die leerplan en alle programme in die klas. ’n Kind met AGHS se konsentrasie kan aangehelp word deur hom of haar:

  • baie naby die opvoeder te laat sit;
  • maklike takies te laat verrig sodat hulle baie geprys word. As die aanwysings of tuiswerk te veel is of die taak te lank duur, sal die leerder beslis belangstelling verloor;
  • besig te hou deur hulle dagtakies te laat verrig soos om die vensters oop te maak;
  • alleen te laat sit, want kinders met AGHS hou daarvan en dit laat hulle belangrik voel. Rig ’n privaat plekkie vir hulle in of laat hulle soms alleen sit of iets alleen gaan doen, soos in die klas se leeshoekie;
  • kalmeringsoefening te laat doen. Ek het so ’n reeks oefeninge vir kinders met AGHS, maar om dit lekkerder te maak laat ek die hele klas daaraan deelneem.

My ervaring is dat as ’n opvoeder daardie leerders spesiaal laat voel, sal hulle belangrik voel, wat hul belangstelling in die werk sal prikkel, en die uiteinde is dat hulle baie beter begin vorder.

Dit het verlede jaar in my klas gebeur, waar die maatskaplike diensgewer van die onderwysdepartement self verstom was deur die vordering en verbetering in die konsentrasie-vermoë van ’n kind met AGHS sonder dat hy enige medikasie geneem het. Hy het net liefde en persoonlike aandag gekry.

’n Leser het seuntjie met outisme. Hy is in ’n normale kleuterskool maar is nie bevorder na gr. R nie omdat hy nog nie normaal kan praat nie en nie kan skryf nie. Hy’s baie slim en sê woordjies. Hoe kan die leser haar seuntjie help? Metodes of medikasie?

Daar is verskillende vlakke van outisme. Sommige outistiese kinders kan glad nie praat nie, ander sukkel om te kommunikeer, en ander het verskeie soorte kommunikasie- en sosiale uitdagings. Enige outistiese kind moet eers ’n vertrouensverhouding opbou met die persoon wat hom/haar leer, of enige persoon. Daardie kind vaar beter met persoonlike (een-tot-een) kontak, byvoorbeeld as hulle die hulp van ’n heeltydse assistent het. Die opvoeder of assistent moet eers sy vertroue wen, en ook sy voorkeure respekteer. Party outistiese kinders hou byvoorbeeld nie van harde geluide of dat jy aan hulle raak nie. Dit duur lank om vertroue te bou, maar daarsonder sal jy min met hulle kan uitrig. Baiekeer is hulle baie intelligent, maar kan nie hul emosies, gevoelens en voorkeure uitdruk nie.

In my klas het ek ’n speeltelefoon. Dit laat daardie outistiese kind wat nooit met my wou praat nie, ook nou met genot begin kommunikeer. Ek het ook ’n iPad- of iPhone-app met die naam Talking Tom. Dit is ’n kat wat alles herhaal wat ons sê wanneer ons met die skerm praat. Ons hoef nie moderne tegnologie soos rekenaars of iPads in die klas te hê om dit moontlik te maak nie, want Talking Tom kan selfs op ’n selfoon gelaai word. Daar is geen medikasie wat outisme genees nie – al wat help is vasbyt, liefde en geduld.

Hoe inkorporeer jy speletjies en kuns wanneer jy vir leerders met spesiale behoeftes klasgee?

Ek gebruik elke dag ’n multidissiplinêre onderwysprogram. Daarin word kuns en musiek geïnkorporeer, asook allerhande speletjies wat fyn motoriese en groot motoriese vaardighede bevorder. Met daardie program fokus ek op die kind se belangstellings en bied byvoorbeeld ’n wiskundeles aan deur kuns te gebruik. Kuns het tog te doen met wiskundige begrippe soos verskille, tekstuur, diepte, kleur, vorm en ruimte. Dit is vir my so lekker en die kinders geniet dit ook.

Dan doen ek ook musiekterapie. Dit is die aanleer van belangrike lewenslesse deur musiek, ritme en klank te gebruik. Wanneer ’n kind gebore word, is sy eerste manier van leer deur kommunikasie, spel en fantasie. Daarom doen ons dit daagliks in ons klas.

Ek gebruik baie piktogramme [prente of simbole wat woorde of idees verteenwoordig] vir veral die outistiese kinders in my klas, en prentjies teken is dus deel van ons leerprogram. Die bekende Switserse ontwikkelingsielkundige Jean Piaget het geglo kinders van sewe jaar, selfs tot elf jaar, behoort nog elke dag prentjies te teken en met konkrete voorwerpe soos karretjies kontak te maak. Ek maak dit moontlik gedurende my daaglikse leerprogramme binne en selfs buite die klaskamer.

Hoe belangrik is jou verhouding met die ouers van kinders met spesiale behoeftes?

As jy ’n kind gelukkig maak, sal jy outomaties sy ouer aan jou kant kry – veral in die geval van leergestremde kinders – omdat ouers so oorbeskermend teenoor sulke kinders optree. Daardie vertrouensverhouding eers met die kinders, en daardeur ook met hul ouers, is van kardinale belang.

Ek het die kontakbesonderhede van elke ouer van elkeen van my leerders op my selfoon. Nie elke leerder in my klas het ’n televisiestel of rekenaar tuis nie, maar elke ouer het wel ’n selfoon. Ouers geniet en waardeer dit om soms op so ’n manier terugvoering van die opvoeder af te ontvang. Daardeur wys ons die ouers dat ons selfs oor naweke, vakansies en op spesiale dae soos die kinders se verjaardae, belangstel.

Wat kan ouers van leerders met spesiale behoeftes doen om hul kinders met skoolwerk te help?

Die beste ding wat enige ouer kan doen, is om die kind met spesiale behoeftes soos ’n heeltemal normale kind te behandel wanneer dit by huiswerk kom. My leerders kry elke dag tuiswerk. Al doen hulle elke dag dieselfde ding oor en oor, voel die ouer gelukkig dat die kind wel probeer. Ek stuur daagliks elkeen van my leerders met ’n prentewoordeboek huis toe as deel van hul tuiswerkprogram. As hulle dus nie die woordjie kan lees nie, sal hulle ten minste die prentjie herken en vol selfvertroue terug klas toe kom, wetende dat hulle die tuiswerk verstaan.

Is daar ’n webtuiste of regeringsprogram wat onderwysers kan raadpleeg vir raad of hulpbronne vir leerders met spesiale behoeftes?

Ons het die webtuiste www.elsensa.co.za geskep met die doel om idees te ruil en raad te gee aan opvoeders en spesiale skole omdat daar nog nie sulke regeringsprogramme beskikbaar is nie.

Hoe verander ’n mens kinders met spesiale behoeftes se selfbeeld en hoe kry jy hulle so ver om skool te geniet?

As leerders met leergestremdhede in ’n hoofstroomskool geakkommodeer word, soos by ons waar die OLSO-klas deel van ’n gewone skool uitmaak, word hulle daaraan gewoond om in ’n “normale” gemeenskap te deel. Soms word hulle geterg, maar daar is altyd iemand naby (soos die opvoeder, klasassistent of selfs ’n maat) om hulle te verdedig. Nie dat hulle hulle nie self kan verdedig nie. ’n Leergestremde kind baklei nogal maklik omdat hy dikwels sukkel om hom goed met woorde uit te druk.

Omdat hulle gewoonlik in so ’n spesiale klas baie liefde en aanvaarding ontvang, is dit vir hulle maklik om ’n positiewe ingesteldheid teenoor skool te hê. Inklusiewe onderwys stel voor dat hierdie leerders ook in hoofstroom-klasse geakkommodeer word. Dit sal dan belangrik wees dat hulle nooit verkleineer word nie, eerder aangespoor en aangemoedig word. Hul liefde vir skool sal afhang van ons ingesteldheid. Ons as opvoeders kan hulle maak of breek, en ek sal baie graag ’n positiewe verskil in hul lewe wil maak, want “to teach is to touch a life forever . . .”

Verder . . .

Met net ’n klein bietjie aanmoediging is enigiets moontlik. Daarom herinner ek my altyd daaraan dat selfs die kleinste sterretjie in die donker kan skyn. Selfs daardie kindjie wat ons soms voel niks kan doen nie, kan so goed vorder met ’n bietjie aansporing van ons kant af. Ons leef in ’n tyd van stres waar ons kinders elke dag aan uitdagende situasies, dwelmmisbruik en bendebedrywighede blootgestel word – ’n tyd waarin daar so min goeie rolmodelle in baie gesinne of gemeenskappe is. Laat ons daarom nooit moeg of mismoedig word nie en altyd onthou dat óns hul rolmodelle is, en dat ons baiekeer die enigste glimlag of die enigste drukkie sal gee wat daardie kind vir die dag sal kry.

Ons as opvoeders moet ook probeer om ons lesprogramme lekkerder te maak. Wanneer ’n kind iets geniet en wanneer hy lag, onthou hy dit soveel langer. Heelparty van my leergestremde leerders is terug hoofstroomonderwys toe en gaan met sukses daar voort. Al het hy volgens die skoolsielkundige miskien ’n IK van net 60, kan ek bewys dat emosionele intelligensie veel belangriker is as IK. As ’n kind geniet wat hy doen sal hy dit na die beste van sy vermoë verrig en sal hy sukses behaal. Kinders wat daagliks liefde, aanvaarding en positiewe aandag ontvang vorder en ontwikkel nie net akademies nie, maar ook op sosiale gebied. Hul selfvertroue verbeter, en uiteindelik word hulle wel goed ontwikkelde, volronde landsburgers.

Omdat ’n mens so lief raak vir elkeen van hierdie kinders, vergeet jy van hul gestremdheid, kleur, ras, of agtergrond. Hulle is net so pragtig en dit is so ’n eer om te werk met kinders wat ons toekomstige wêreldleiers kan wees.