Babas wat deur middel van ’n keisersnee gebore word of wat formulemelk kry, loop ’n groter risiko om asma te kry, waarsku navorsers in ’n onlangse bevinding.

’n Skakel bestaan blykbaar tussen die siekte en bakterieë wat deur borsmelk in die baba se dermkanaal oorgedra word. Kleintjies wat teen die ouderdom van drie maande nie die bakterieë het nie, het na bewering ’n 20 keer groter kans dat asma teen vyfjarige ouderdom by hulle gediagnoseer word.

Die studie, aangevoor deur wetenskaplikes van die Universiteit van Brits-Columbië, het die gesondheidsgeskiedenis van meer as 500 babas van geboorte tot op vyfjarige ouderdom nagegaan. Uit die ontleding van stoelgange het hulle ontdek dat kleintjies wat nie die bakterieë Faecalibacterium, Lachnospira, Veillonella en Rothia teen die ouderdom van drie maande het nie, 21,1 keer meer geneig is om die siekte te kry as dié wat wel oor die bakterieë beskik.

Dit is nie seker waar die bakterieë eintlik vandaan kom nie, maar daar word geglo dit kan moontlik by geboorte oorgedra word. Dit is waarom kinders wat deur middel van ’n keisersnee gebore word, meer geneig is om asma te kry, en as ’n baba nie borsmelk inkry nie, kry hy nie die voedingstowwe wat help om die ?vriendelike bakterieë? ’n hupstoot te gee nie.

In die bevindings in die tydskrif Science Translational Medicine word ook beweer oordrewe skoonmakery en die gebruik van antibiotika kan die bakterieë beïnvloed wat babas beskerm, want die blootstelling aan ’n bietjie vuiligheid kan glo die baba se immuunstelsel help versterk.

Navorsers glo as hulle vroeg kan uitwerk watter babas in gevaar is, kan hulle die babas ’n probiotiese drankie gee wat die bakterieë bevat.

Die skrywer van die artikel, dr. Brett Finlay, het verduidelik: ?Dit toon bakterieë in die ingewande van die baba vroeg in sy lewe wanneer sy immuunstelsel nog besig is om gevestig te raak, speel ’n rol by asma.?

?Dié ontdekking bied ons nuwe moontlikhede om hierdie siekte, wat die lewe van baie kinders bedreig, te voorkom,? het die navorser dr. Stuart Turvey bygevoeg.

’n Nuwe voorligtingsverslag deur die Royal College of Obstetricians and Gynaecologists moedig vroue aan om, indien moontlik, natuurlik die lewe te skenk aangesien dit vir die meeste vroue veiliger is en die risiko vir komplikasies laer.

© Cover Media