Wat doen jy as ’n kind ’n woedeuitbarsting in ’n winkel het? Skud jy maar net jou kop en stap verby? Klik jy jou tong simpatiek, maar kyk anderpad.

Eers toe Amanda Wilkins vir Lin op Facebook bedank met ’n foto daarby, het die kassier besef watter groot invloed sy op die ma van die twee blinde en outistiese meisietjies gehad het.

Haar “pragtige daad vir ’n outistiese meisietjie” het soos ’n veldbrand oor die internet versprei.

“Dit doen my hart so goed om sulke mense raak te loop wat bereid is om die tweede myl te stap,” het Amanda verlede week op haar Facebook-blad geskryf. Haar dogters het albei ’n “ineenstorting” in die Basingstoke-tak van die Morrisons-kettingwinkelgroep gehad.

Terwyl Amanda haar ander dogtertjie moes kalmeer, het Lin vir Holly heel rustig aan die hand gevat en haar die kruideniersware se pryse een vir een laat inskandeer by die kasregister om haar rustig te maak.

Lees ook: Skole vir outistiese kinders “heeltemal te skaars in Suid-Afrika”

“Dis ’n droom wat vir haar waar geword het, want Holly is mal daaroor om winkel-winkel te speel by die huis,” vertel Amanda op Facebook.

“Soos julle julle seker kan voorstel is dit nie maklik om met albei my dogters inkopies te doen nie. Hierdie gawe vrou het besluit om eerder te help as te oordeel. Dit gebeur nie aldag nie.

“Ek hoop sy lees dit en weet hoe baie ek dit waardeer.”

Lin se werkgewers het laat weet: “Lin is ’n groot rolmodel vir ons almal hier by Morrisons.”

Wat om te doen as ’n outistiese kind ’n woedeuitbarsting in ’n winkel het:

  • Moenie aanneem die kinds is net stout nie. Ouers van outistiese kinders sal dikwels ’n kaartjie saamdra om die gedrag as deel van die Outismespektrum-versteurings (OSV) te verduidelik. Vra of jy iets kan doen. Elke kind verskil en ander goed kan hul aandag aflei.
  • As ’n ouer kind met OSV ongeskik was met jou in die openbaar, sal die ouers die kind heel moontlik na jou toe bring om verskoning te vra. Laat dit toe, want dit is ’n goeie les vir hulle. Dit kan hulle ook leer hul dade het altyd gevolge.
  • ’n Ouer van ’n kind met OSV moet hulle vinnig uit ’n situasie verwyder na ’n stiller plek waar die kind kan kalmeer. Vra hoe jy kan help. Dalk sal jy moet help betaal terwyl sy en die kind na ’n kantoor in die winkel geneem word.
  • Van die eienskappe van outisme is die kind kyk jou nie in die oë as jy met hulle praat nie. Moenie beledig voel nie. Hy het min bewustheid van ander mense. Maar glo dit -- hulle waardeer wat jy doen.

Nog algemene eienskappe van outisme:

  • Verbeeldingspel kan swak wees; hulle kan byvoorbeeld nie met ’n houtblok speel asof dit ’n karretjie is nie.
  • Die ontwikkeling van spraak en taal kan afwykend, afwesig of stadig wees.
  • Baie min reaksie op gesproke taal en tree soms op asof hulle doof is.
  • Veranderings in roetine of omgewing kan hulle ontstel.
  • Jaag aktiwiteite op ’n herhalende manier na en kan nie deur voorstelle van verandering beïnvloed word nie.
  • Onvanpaste gehegtheid aan voorwerpe.
  • Vertonings van erge benoudheid of woedeuitbarstings om geen opsigtelike rede.
  • Vind interaksie met mense moeilik en maak geen of min oogkontak.
  • Geen werklike vrees vir gevaar nie.
  • Verkies om op hul eie te speel.
  • Beseer hulself, byvoorbeeld kopstamp, krap of byt.
  • Vreemde gewoontes soos wieg, hande wapper of laat voorwerpe in die rondte rol.
  • Onbelangstellend of afsydig teenoor aanraking, drukkies of liefkosing.
  • Sintuie van aanraking, smaak, sig, gehoor en/of reuk kan verhoog of verlaag wees.
  • Skielike lag of huil vir geen opsigtelike rede.
  • Oneweredige motorvaardighede.
  • Abnormale slaappatrone

Vir nog inligting en raad, kontak Outisme Suid-Afrika by 011-484-9909 of info@autismsouthafrica.org.

BRONNE: MILESTONES.ORG, INEWS.CO.UK, MIRROR.CO.UK, HUFFINGTONPOST.COM

Lees ook op Huisgenoot.com:

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly

Ouers, só kan jy ’n liefde vir lees by jou kind help ontwikkel

Haal só die pyn uit ’n seer nek

Kuldae kan jou help om gewig te verloor, meen kenners