Met die eerste oogopslag lyk Shelby Counterman soos ’n tipiese agtjarige meisie. Haar pienk haarband en pophuis is ’n aanduiding dat sy van mooi goed hou.

Shelby

Maar “tipies” is dalk nie die beste woord om Shelby te beskryf nie; dié meisie van Oklahoma in Amerika is ’n ywerige versamelaar van kakkerlakke.

Haar ma, Meg Counterman, sê Shelby se obsessie met die goggas het op 18 maande begin. Sy erken dit was aanvanklik grillerig – kakkerlakke is immers van die mees gehate peste wat jy kan teëkom – maar sy het nietemin haar dogter toegelaat om die ongewone belangstelling voort te sit. “Ek kon nie nee sê nie. Dis moeilik om haar nie haar belangstellings te laat volg nie,” het sy aan WFMYNews2.com gesê. “’n Wyse vriend het lank terug vir my gesê jy kan nie jou eie vrese en vooroordele aan jou kinders oordra nie. Jy moet hulle toelaat om hul belangstellings te volg.”

Shelby het op drie jaar insekte begin versamel nadat een van die bure sy versameling vir haar gegee het.

Shelby het op drie jaar insekte begin versamel nadat een van die bure sy versameling vir haar gegee het. “Mnr. Gibbs het my ’n paar gegee, maar dit was net mannetjies. Toe gaan ek na Safari Joe’s en vertel hulle van my probleem dat ek nie kleintjies het nie. Toe gee hulle my nog mannetjies en wyfies en toe begin ek daarmee teel,” het sy aan NewsOn6.com gesê.

Shelby se troeteldiere mag egter nie die hele huis vol hardloop nie. Sy hou hulle in “spesiale plastiekhouers en akwariums wat met Vaseline besmeer is”, berig die Daily Mail. Dit help verhoed glo dat die goggas die hele huis vol krioel. Die gesin het ook ’n bebaarde draak-akkedis wat moet uithelp as enige kakkerlakke sou ontsnap.

Die Madagaskarse sissende kakkerlak is, soos die naam aandui, van die eiland van Madagaskar afkomstig en het ’n lewensduur van een tot drie jaar. Hul kenmerkende sisgeluid word gemaak deur lug deur klein gate uit hul lywe te forseer. Hulle kan nie vlieg of byt nie, maar is bekend daarvoor dat hulle goed aanteel en kan tot 60 nimfe voortbring.

Bronne: dailymail.co.uk, huffingtonpost.com, newson6.com, animals.nationalgeographic.com