Die idee is om jong mense aan te moedig om wetenskaplikes en ingenieurs te word in Brittanje én Suid-Afrika, het mnr. David Willets, die Britse minister van wetenskap en universiteite, in ’n verklaring gesê.

Willets het onlangs ’n besoek aan Kaapstad afgelê om die Bloodhound SSC en die Bloodhound SSC-skoleprojek te ondersteun. Hy het besoek afgelê by die Kaapse Akademie vir Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie, een van die sowat 220 skole wat reeds deel is van die projek.

[caption id="attachment_54312" align="aligncenter" width="305"]Britse minister David Willets tydens sy besoek. Britse minister David Willets tydens sy besoek.[/caption]

’n Span van die Bloodhound-skoleprojek het tydens die besoek aan Willets en leerders van die skool gewys hoe om vuurpyle uit papier te bou, en hoe om dié skeppings blitsvinnig af te stuur.

Die Bloodhound SSC (supersoniese motor) is nie net ’n Britse oefenlopie om die landspoedrekord te verbeter nie; dit is ook ’n opvoedkundige projek waarby jou skool betrokke kan raak.

Skole kan ook op die Bloodhound SSC-webtuiste registreer om aan die Bloodhound SSC-skoleprojek deel te neem. Onderwysers kan so gratis aktiwiteite vir die klaskamer kry, onder meer berekeninge vir wiskunde en Google-kaartaktiwiteite oor Hakskeenpan (in die Noord-Kaap) vir geografie.

[caption id="attachment_54313" align="aligncenter" width="600"]Lindon September en Qhama Sinandile Lindon September en Qhama Sinandile[/caption]

Mnr. David Rowly, die direkteur van die Bloodhound-skoleprojek in Suid-Afrika, het in ’n verklaring gesê hy hoop duisend skole sal teen einde volgende jaar deel wees van dié projek. “Al die data en video’s oor die navorsing, ontwerp, vervaardiging en toetse op die kar word gratis met soveel leerders, opvoeders, skole en studente moontlik gedeel.”

Shané Barnard

Inligting en foto’s: Engela Duvenhage, vir Southern Science