Jungle Beat het onlangs ’n nuwe kinderspeletjie bekendgestel om met die wêreldpremière van die program se derde seisoen op die kanaal Boomerang oral in Europa saam te val. En kort daarna het dit die eerste plek in die Suid-Afrikaanse App Store ingeneem. Die bekroonde nie-verbale animasiereeks vir kinders word deur Sunrise Productions van Suid-Afrika vervaardig.

Die diere in die Jungle Beat-kinderspeletjie het die avontuur van ’n leeftyd! Baby Ostrich raak in die oerwoud weg en haar vriende moet elke vaardigheid tot hul beskikking inspan om haar te red.

Die speletjie behels ’n opwindende reddingsending deur moeilike terrein met raaisels om jou vingers en verstand uit te daag. Al is dit op kinders van vier tot 11 gemik, sal die hele gesin by die formaat aanklank vind.

Die diere sluit wonderlike karakters in, soos Firefly, wie se laserstraal struikelblokke uit die pad skiet, en Giraffe, wat die kuns van planklê tot ’n heel nuwe vlak neem. En jy kan jou weg deur 25 prettige, gesinsvriendelike vlakke druk, stamp, spat en wip. Is jy gereed om op die maat van Jungle Beat te wikkel?

Jungle Beat die TV-program is ’n prettige, gesinsvriendelike reeks onafhanklike rekenaaranimasie-episodes wat fokus op verskeie diere en die bisarre situasies wat hulle in die natuur beleef. Die stories is klassieke gesinspret met eenvoudige situasies wat in ’n skreeusnaakse chaos ontaard. Hulle is ook die trotse inhoudsvennote van ons eie opvoedkundige app vir kinders, My Pretplaas.

Laai die Jungle Beat-speletjie by die Apple App- en Google Play-winkels af.

Jy kan ook Jungle Beat se webtuiste besoek vir meer inligting.