Dit het geleidelik gebeur. Eers het hy laat begin uitbly saam met sy maats, toe verswak sy skoolpunte en word hy minder spraaksaam. Eindelik het ’n familielid haar kom vertel hy het ’n sosialedrinkgewoonte. Dit het haar tienerseun se vreemde, onbeskofte houding teenoor haar verklaar, sê Nicole Reineke*. Sy het toe uitgevind hy het op 15 begin drink, kuier gereeld in klubs en vra ouer vriende om vir hom en sy maats drank te koop.

Nicole sê al was sy geskok toe sy dit hoor en is besorg oor haar seun, verstaan sy hoekom dit vir kinders ál moeiliker word om drank te vermy. “Ek het al my 13-jarige seun betrap dat hy drink en nou die dag het sy maat met ’n bottel wodka by ons huis opgedaag. Ek het hom uitgeskop. Toe vloek hy op my.”

Sy sê dis ’n algemene verskynsel in haar vriendekring, almal ma’s van tieners. “Hulle het óf probleme met hul eie kinders óf hul kinders se vriende wat by die huis, ná skool of by sosiale of  sportbyeenkomste drink.

“In my dae was dit Coke, tjips en lekkers wanneer ons by maats gaan kuier het. Nou’s dit braai, drank en meisies.”

Die statistiek steun haar ervaring Die helfte van tieners in Suid-Afrika in die deursnee-huishouding gebruik drank, volgens You Decide, ’n veldtog van die Suid-Afrikaanse Brouerye en sommige regeringsdepartemente om drankmisbruik onder tieners te bekamp.

Party mense meen die syfer kan selfs hoër wees. Tot nege uit 10 hoërskoolleerders drink gereeld, volgens alcohol.org.za, ’n inligtingswebtuiste van die Addiction Action Campaign.

Daar is goeie redes waarom dit wêreldwyd onwettig is om onder ’n sekere ouderdom te drink. ’n Tiener se brein ontwikkel nog en alkohol kan die groei daarvan benadeel. “Maak nie saak wat hulle dalk glo nie, kinders is nie volwasse genoeg om die uitwerking van drank te hanteer, te beheer wat hulle doen en hoe hulle met ander mense omgaan wanneer hulle onder die invloed is nie,” sê Tertius

Cronjé van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanra). En die gevolge kan rampspoedig wees: van onbeskermde seks wat tot MIV-besmetting kan lei tot noodlottige motorongelukke.

Die syfers

  • 48 persent van tieners in ’n opname wat Huisgenoot laat doen het (’n Jol en ’n zol: Sê jóú kind ja?, 29 Maart 2012) was tussen 13 en 14 jaar oud toe hulle die eerste keer met drank geëksperimenteer het. Sowat 16 persent was 11 of 12 jaar oud.
  • Altesaam 43 persent sê hulle drink vir die pret.
  • 60 persent van leerders wat drink, vaar sleg op skool, volgens You Decide.
  • Dié wat voor 15 begin drink, is vier keer vatbaarder vir alkoholisme as dié wat op 20 of ouer begin.
  • 67 persent van jong drinkers sal later dwelms gebruik.
  • Tieners wat drink se kans om by geweldsmisdaad betrokke te raak, is drie keer groter as dié wat nie drink nie.
  • Die wettige ouderdom vir die gebruik van alkohol verskil van land tot land: Dit is so laag as 16 jaar in Oostenryk, België, Denemarke, Duitsland en Italië. In Suid-Afrika is dit 18 en in Amerika 21.

Die gevolge

  • Ál meer navorsing toon alcohol kan die brein se werking en hoe dit bedraad is, verander en tot lank ná adolessensie gevolge inhou vir jong mense wat gedrink het, volgens die Amerikaanse departement van gesondheid.
  • ’n Drinkery tydens die tienerjare (13-18 jaar) wanneer snelle groei plaasvind, kan die hormoonbalans omvergooi wat vir die normale ontwikkeling van organe, spiere en bene nodig is.
  • Dit kan die langtermyngeheue aantas en tot gebrekkige probleemoplossing, redenering en begripsvermoë lei.
  • Dit verhoog hul kans om seksueel oordraagbare siektes op te doen.
  • As ’n tiener drank gebruik om vrymoediger te voel, kan hy dit later altyd daarvoor nodig hê.
  • Gereelde drankgebruik is al met gesondheidsprobleme soos kardiovaskulêre siektes, onvoldoende opname van voedingstowwe, chroniese pankreatitis, alkoholiese lewersiekte, beroerte en selfs kanker verbind.
  • Depressie en angssteuring kom algemener voor by mense wat van alkohol afhanklik is.

Die tekens

  • Geheimsinniger en oneerbiediger teenoor gesag.
  • Draai stokkies.
  • Stel ouers nie aan nuwe vriende voor nie en sê nie waarheen hulle gaan nie.
  • Ontoereikende persoonlike higiëne.
  • Verloor belangstelling in aktiwiteite waarin hulle voorheen belanggestel het.
  • Jy kry drank by hulle of in hul kamer, of hul asem ruik na drank.
  • Floutes, bloedbelope oë, swak koördinasie of sleeptong praat.
  • Let ook op daarna as hulle skielik baie mondspoelmiddel of kougom (vir die reuk) of oogdruppels (vir bloedbelope oë) gebruik.

So kan ouers help

  • “ ’n Goeie eerste stap vir ouers is om op hul eie drinkgewoontes te let,” sê Tertius. “As jy drink om te ontspan, sal jou kinders dit wil naboots.”
  • Vra jou tiener om boetes of straf te help opstel en daartoe in te stem ingeval hulle betrap word dat hulle drink.
  • As jou tiener partytjies bywoon, gesels altyd eers met die ouers in wie se huis die partytjie gehou word om uit te vra oor drankgebruik.
  • Kom ooreen hoe laat jy jou kind sal oplaai, maar sê ook vir hulle jy sal hulle enige tyd kom haal as dit nodig sou wees.
  • Bly wakker om agterna ’n gesprek met jou kind te voer.

Kry hier hulp

  • You Decide-hulplyn (08:00 tot 20:00) 0800-33-33-77
  • Suid-Afrikaanse Depressie-enangsgroep 011-262-6396
  • Sanra 033-347-0103

* Skuilnaam is gebruik.

-  Kim van Reizig

Bronne: ’n Jol en ’n zol: Sê Jóú kind Ja?, health24.com, youdecide.org.za, SaB.co.za, alcohol.org.za, dailymail.co.uk. diScovery.co.za, edoc.co.za, Sadd.org.za