Die meeste onnies verpes dit as kinders selfone in die klaskamer gebruik, maar nie ons onderwysblogger nie . . .

[caption id="attachment_54317" align="alignnone" width="600"]Foto: Elgee Strauss Foto: Elgee Strauss[/caption]

DIS ’n feit dat hedendaagse leerders in ’n ander wêreld as leerders van 10 jaar gelede leef. En tegnologie soos selfone en rekenaars speel ’n baie belangrike rol hierin.

Een van die grootste euwels in die klaskamer is selfone! Nè?

Onderwysers kla gedurig oor selfone:

  • Leerders se skoolwerk ly daaronder. Hulle sit in klaskamers en gesels skelm met die foon onder die tafel, hulle bestee ure en ure tot laat in die nag aan hul selfone en kom nie by hul huiswerk en leerwerk uit nie.
  • Kuber-afknouery op selfone veroorsaak dikwels baie moeilikheid in skole.
  • Selfone kan diefstal in skole laat toeneem.
  • Ongewenste selfoonfoto’s en -video’s word vinnig deur leerders versprei en het baie negatiewe gevolge.
  • Skole moet ekstra strafmaatreëls en prosedures instel weens die “onwettige” gebruik van selfone.

Maar daar is ook ’n baie positiewe manier om na selfone te kyk.

Ons as onderwysers moet aanpas by veranderende tye. Ek het baie min probleme met leerders en hul selfone in my klas, want ’n mens kan dit tot hul voordeel aanwend. Wanneer ek ’n gedig of kortverhaal behandel, kry die leerders die geleentheid om op hul selfoon ’n sekere saak of plek te google om inligting te kry. En geniet hulle dit nie! Of wanneer hulle ’n beredeneerde opstel moet skryf of ’n praatjie moet lewer, mag hulle hul selfone vir navorsing gebruik.

Ek het onlangs weer gesien hoe selfone tot voordeel van die leerders ingespan kan word. Die leerders moes ’n beredeneerde toespraak skryf. Een van die seuns wat nou nie juis “akademies gemotiveerd” is nie, het aandagtig na die riglyne geluister en toe sy foon uitgehaal en sy onderwerp begin navors. Hy het soveel inligting gekry dat hy sommer dadelik aan sy praatjie begin skryf het.

Die volgende dag het hy die klas met ’n groot glimlag binnegestap en vertel hoe lekker hy aan sy mondeling voorberei het, want hy het so baie bronverwysings gehad om sy standpunt te motiveer. En hy hét toe ’n baie goeie toespraak gelewer, wat hy voorheen nie eintlik wou doen nie en wat hy gewoonlik sommer vinnig afgerammel het.

Hoekom moet ons dit wat die leerders so geniet, voor die voet met rigiede reëls verbied en ’n bron van baie konflik maak?

Toe ek die eerste keer vir hulle gesê het om hul fone uit te haal en in die klas te gebruik, is ek deur verbaasde gesigte aangestaar. Maar toe het hulle ywerig aan die werk gespring en dit baie geniet. Natuurlik was daar hier en daar ’n kansvatter wat met ’n kontak op die foon gesels het en nie gewerk het nie, maar selfs hulle het later die nut van hul selfoon vir navorsingsdoeleindes begin insien.

Wanneer leerders se selfoon op hul lessenaar lê terwyl hulle werk, is dit nie nodig om hulle te straf en verskree nie. Hulle werk mos! Hulle wil net die versekering hê dat hul lewensaar naby is.

Baie onderwysers kan met my verskil, maar dié hantering van selfone het klasgee vir my baie makliker gemaak. Die leerders sit nie skelm en chat terwyl ek besig is nie. As ’n foon in klastyd lui, sal ek rustig vra dat dit afgeskakel en gebêre word, en die leerder sal dadelik om verskoning vra. Die leerders vra my soms dinge soos: “Juffrou, my ma gaan my netnou bel. Kan ek asseblief gou buite die klas met haar reël hoe laat sy my ná die wedstryd moet kom oplaai?” En so werk wedersydse respek.

Ons almal weet dat kinders juis dit wil hê wat verbied word. As iets dus geredelik toegelaat word, het dit nie meer so ’n groot aantrekkingskrag nie . . .

- Olga Channing

DSC02128 Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.