Ons het by ’n kenner gaan aanklop om te hoor wat die verskil is tussen gesonde prestasie en ’n kind wat te mededingend is.

Die hele lewe is ongelukkig ’n groot kompetisie, sê CP de Jager, ’n opvoedkundige sielkundige van Vanderbijlpark. Hy gee die volgende wenke:

  • Verwerk mislukking reg: “Dit is veral by laerskoolkinders belangrik om prestasie en mislukking op die regte manier te verwerk. Kinders kan emosioneel raak en huil omdat hulle nie gewen het of uitgeblink het nie, hetsy akademies of op die sportveld, en dit is dan belangrik dat die ouer en onderwyser ’n vertroostende houding inneem. Vermy sêgoed soos: “Jy het nie die regte tegniek gebruik nie.” Wees eerder simpatiek en hê begrip daarvoor dat dit sleg is om te verloor.
  • Aggressie: Wanneer kinders aggressief raak omdat hulle nie uitblink nie, moet die gevaarligte flikker. “Dit is beslis ’n probleem, en die ouers moet ’n liefdevolle en vertroostende omgewing skep om die kind se aggressie te ontlont,” sê hy. Hy meen ouers moet liefde, sekuriteit en dissipline bied sodat die kind beter op terugslae reageer. As dit nie werk nie, roep professionele hulp in.
  • Kompetisie is ongelukkig oral: “Ons moet kinders opvoed en hulle daarop wys dat wen nie altyd alles is nie. Hulle moet egter ook besef kompetisie is deel van wat iets soos sport lekker maak en dat hierdie kompetisie tot in hul volwasse jare gaan volhou.” Hulle moet gevolglik vrede maak daarmee dat die lewe oor wenners en verloorders gaan.
  • Stel ’n voorbeeld: “Dit is belangrik dat kinders nie lelik raak wanneer hulle meeding en byvoorbeeld ’n maat spot wat onderpresteer nie. “Hulle moet ook geleer word om simpatiek te wees teenoor hul maats. Ouers moet ’n voorbeeld stel deur mislukkings reg te benader en nie te oorreageer nie sodat die kind leer ’n mens kan mislukkings te bowe kom.”