Die hartverskeurende nuus dat ’n kleuter van Oudtshoorn deur die gesin se hond, doodgebyt is, het hondeliefhebbers op hol gehad.

Na wat berig word, was die kleinding besig om in die tuin te speel toe hy deur die hond aangeval is.

“Dit was ’n Labrador wat die seun doodgemaak het en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het die hond ná die aanval verwyder,” het die polisiewoordvoerder Malcolm Poje aan Huisgenoot bevestig.

Sedertdien het foto’s, wat glo van die betrokke hond is, die ronde gedoen en op hierdie foto’s blyk die hond ’n gemengde ras te wees.

Maar dit maak nie saak wat die ras van die hond is nie, ouers moet versigtig wees wanneer dit by honde en hul kleingoed kom, sê Lucy Breytenbach,’n dieregedragskenner van Kaapstad.

“Daar is geen spesifieke ras wat beter is vir gesinne met klein kinders nie,” het die stigter van Just Dogs aan Huisgenoot vertel.

“Labradors het byvoorbeeld gewoonlik ’n hoë toleransie wanneer hulle rondgetrek word, maar daar is g’n versekering hiervoor nie.”

Dr. Irma Aggenbach, hoof van die nooddienssentrum by die Mediclinic Panorama, sê dit is nie ongewoon vir kinders om na die ongevalleafdeling gebring te word nadat hulle deur ’n hond gebyt is nie.

Die nooddienseenheid sien ongeveer een geval per week, maar gewoonlik meer tydens die skoolvakansies.

“Oor die afgelope drie jaar het ons een ernstige geval gehad waar ’n kind in die intensiewe eenheid opgeneem is nadat ’n hond haar gebyt het, maar gelukkig het sy herstel en weer huistoe gegaan.”

“Selfs wanneer die wond oppervlakkig is, is ’n byt gevaarlik,” het sy bygevoeg.

“Alle dierebyte het ’n hoë kans op infeksie. Dit is hoekom ons bitter selde kleiner wonde steke toedien, en pasiënte met groter wonder moet opgeneem word en dit moet in die teater skoongemaak word.”

Chrismari Herholt, kliniese sielkundige en maatskaplike werker, sê die sielkundige letsels van ’n besering deur ’n troeteldier is heelwat groter op jou kind as wat jy dalk mag dink.

“Dit kan kinders vir jare beïnvloed. Kinders kan emosies wat wissel van angstigheid na depressie tot posttraumatiese stresversteuring ervaar.”

Hulle kan ook ’n intense vrees vir diere ontwikkel en selfs bang wees op buite rond te loop ná so ’n voorval.

[caption id="attachment_134578" align="alignnone" width="600"]Hierdie foto is slegs ter illustrasie en hou geen verband met hond waaroor daar voorheen berig is nie. Foto: Pixabay Hierdie foto is slegs ter illustrasie en hou geen verband met hond waaroor daar voorheen berig is nie. Foto: Pixabay[/caption]

Waarvoor moet ouers op die uitkyk wees?

Ongelukkig kyk ouers soms subtiele tekens van ongemak by hul honde in die nabyheid van hul kinders mis, sê Lucy, wat ook daarin spesialiseer om honde op te op te lei om mediese toestand uit te wys, op te lei.

“Dit is jammer dat honde soms voel daar is geen ander opsie as om te byt nie.”

“Ouers aanvaar die hond moet hom gedra en oukei wees daarmee om rondgetrek te word deur hul kind, maar tog verstaan hulle nie dat dit nie normale gedrag (van die kind) is om te verwag nie.”

“Ouers moet uitkyk vir tekens van angs by die hond wanneer ’n kind teenwoordig is. ”

“Hierdie tekens sluit ’n liplekkery, vermydingsgedragstekens soos wanneer hulle kopdraai, oogkontak vermy, grom, hul lywe wegbeweeg of selfs na die kind staar, in.”

’n Hond wat ’n bedreiging vir ’n kind is, sal gewoonlik nie basiese opdragte uitvoer nie en sal paniekerig lyk wanneer ’n kind hardloop of skree.

Die hond kan selfs probeer die kind in te hardloop.

“Ongelukkig het talle hond wat ’n mens ’n ‘aanvalsinstink’ noem en indien dit nie onderbreek kan word nie is daar moeilikheid.”

“ ’n Gehoorsame hond wat behoorlik gestimuleer word en oefening kry behoort nie ’n probleem te wees nie.”

Maar selfs as jou hond mak voorkom, moet jy hulle interaksie met kleingoed dopgehou word.

“Soveel ouers laat hulle kinders toe om oor hulle honde te klim end it lei tot probleme,” sê Lucy.

“ ’n Hond sal gereeld nie hierdie gedrag nie vir lank verdra nie en dan kry die hond stelselmatig ’n afkeur in die kind.”

Dit is uiters belangrik om jou kind gesonde respek vir hond en ander diere aan te leer sê, Dr. Irma Aggenbach.

“[As ’n] hond onseker en bedreig voel, is hulle meer geneigd daartoe om aan te val.

“Indien jy of jou kind deur ’n dier gebyt is, kom so gou as moontlik by ’n dokter uit.

“Om ’n wond vinnig skoon te maak lei tot minder komplikasies en dit genees ook beter. Wees wakker, want infeksie kan dae – in sommige gevalle weke – nadat ’n wond genees het, posvat.”