Kuier jy oor ’n koppie tee by die Britse supermodel Myleene Klass, is jy in vir ’n skok – dié bikini-model bied graag haar eie borsmelk aan vir haar gaste se tee.

“Komaan, dis normaal,” sê Myleene (35). “Ek het almal myne laat proe. Dit smaak nes daardie probiotiese jogurtdrankies. Soet, maar nie so soet soos kondensmelk nie.”

Terwyl “normaal” dalk nie die beste woordkeuse is nie, kry hierdie vreemde mode skynbaar momentum.

“Die unieke kombinasie van teenliggaampies, lewende selle, ensieme, hormone en vetsure in menslike borsmelk het sommige entoesiaste oortuig dis ’n superkos wat ons nie kan ignoreer nie,” skryf Tanith Carey van die Daily Mail.

Blykbaar kan Amerikaners wat aan kanker ly of spysverterings- of immuunstelselprobleme het, borsmelk op voorskrif van ’n “melkbank” kry. Na bewering ondersoek wetenskaplikes in Australië, Italië en Kanada die positiewe uitwerking wat borsmelk op suikersiekte, Parkinson se siekte, demensies, beroertes en aknee kan hê.

In Brittanje kan vroue wat borsvoed hul melk aan 17 geakkrediteerde melkbanke skenk om nuwe ma’s te help wat nie self borsmelk kan produseer nie. Sommiges meen weer dis meer lonend om hulle s’n aanlyn te verkoop. Volgens die Daily Mail word ongetoetste monsters ter waarde van duisende ponde daagliks gekoop en verkoop.

’n Roomyssalon in Londen het met hul “Baby Gaga”-borsmelkgegeurde roomys selfs munt geslaan uit dié neiging. Die produk is egter van The Icecreamists se rakke verwyder nadat amptenare op die gevare gewys het van produkte wat van menslike vloeistowwe gemaak word. Die Britse Voedselstandaard-agentskap gaan die omstrede geur aan ’n reeks toetse onderwerp voor dit weer op die rakke mag verskyn.

’n Maatskappy wat soetgoed vervaardig probeer ook uit dié nuwe mode geld maak, maar gaan darem nie so ver soos The Icecreamists nie. Lollyphile, ’n maatskappy in Texas, het ’n reeks borsmelkgegeurde stokkielekkers bekendgestel. Die lekkers word nie regtig van borsmelk gemaak nie, maar smaak blykbaar so.

Jason Darling, Lollyphile se stigter, sê op die maatskappy se webtuiste: “Dit het stadigaan tot my deurgedring dat my vriendinne melk produseer wat so heerlik smaak dat dit ’n skreeuende, woedende kind in ’n gedwee, tevrede een kan verander. Ek het geweet ek moet daardie geur vasvang.”

- Saamgestel deur Kirstin Buick

Bronne: time.com, dailymail.co.uk