Uit die brief wat Sichumile Dumalisile (18) geskryf het om haar onderwyseres as ’n kopskuifonnie te benoem, is dit duidelik Bongiwe Sokutu sit nooit stil nie.

[caption id="attachment_101802" align="aligncenter" width="600"]Lutho Tsengiwe, Sichumile Dumalisile, Esihle Qangule, Yamkele Jele en Thembekile Somzana bekyk die nuwe iPads en handboeke terwyl hul onderwyseres, Bongiwe Sokutu, oor hul skouers ’n ogie gooi. Lutho Tsengiwe, Sichumile Dumalisile, Esihle Qangule, Yamkele Jele en Thembekile Somzana bekyk die nuwe iPads en handboeke terwyl hul onderwyseres, Bongiwe Sokutu, oor hul skouers ’n ogie gooi.[/caption]
Dié Engelsonderwyseres vir gr. 10 tot 12 bestuur nie net ’n omgewingsklub in beheer van skoonmaakprogramme en ’n tuinprojek by die Hoërskool Holy Cross op Mthatha nie; sy het ook ’n debatspan op die been gebring. Dié span help skaam leerders uit hul dop kruip en party het selfs al in Roemenië en Jamaika aan debatskompetisies deelgeneem. Die span het ook ’n rol daarin gespeel om die skool te help geld wen wat Bongiwe gebruik het om ’n snoepwinkel in ’n biblioteek te omskep. Daarby inspireer en steun sy leerders om tyd deur te bring by die Zingisa-rehabilitasiesentrum vir gestremdes, bejaardes en mense met MIV/vigs.
'Die passie en gedrewenheid wat mej. Sokutu vir die skool en leerders het, is duidelik uit die wyse waarop sy haar dagtaak aanpak.'

“Die woord ‘held’ het te magies geklink om op ’n mens toe te pas,” sê Sichumile. “Maar dit was voor ek juf. Sokutu ontmoet het. Dit was toe dat ek besef het ’n held gebruik nou wel nes ek hul twee hande en voete, maar dit moet ook iemand wees wat weet hoe om hul stem en hart te gebruik.”

En nou, danksy General Motors South Africa (GMSA), gaan die leerders ’n iPad-laboratorium van iSchoolAfrica ontvang. “Die passie en gedrewenheid wat mej. Sokutu vir die skool en leerders het, is duidelik uit die wyse waarop sy haar dagtaak aanpak. Ons hoop deur by die Hoërskool Holy Cross hand by te sit kan ons die leerders se opvoeding aansienlik verryk,” sê Thanusha Pillay, reklamebeampte van GMSA.

Die laboratorium bevat 20 iPad Mini’s (elk met ’n omhulsel, Wi-Fi en ’n 16 GB-geheue), ’n MacBook Pro-skootrekenaar, ’n projektor en ’n iTunes-begroting. Hulle het ook ’n iPad Mini vir die onderwyser, opleiding en lidmaatskap van die iSchool Africa iPad-gemeenskap ontvang, asook handboeke ter waarde van R80 000 van Oxford University Press. Die skool sal ook deel word van die Oxford Focusprojek. Bongiwe sê sy was baie opgewonde toe sy hoor hulle het die iPads gewen.

“Ek het geweet die iPads sal ons ons leerders se onderrig help verryk en die onderwysers hul vaardighede deur tegnologie help opskerp.” En dit het. Bongiwe sê die leerders is so geïnspireer deur die ervaring van foto’s neem en om onderwerpe te kan navors dat hulle voorgestel het hulle begin ’n skooltydskrif, iets wat hulle nog nooit gehad het nie. Die hoofvakke waarvoor hulle die iPads gebruik, is wiskunde, lewensoriëntering en fisiese wetenskap.

Die handboeke van Oxford University Press is van die begin af vir gr. 8 tot 10 gebruik, terwyl van die boeke in die biblioteek geplaas is om vir leerders beskikbaar te wees. “Party is ywerige lesers, en om die boeke in die biblioteek te hê het regtig hul taalvaardighede verbeter.”

Is jy ’n onderwyser

Sluit aan by ’n Facebookgemeenskap van vindingryke iPad-onderwysers met opwindende idees vir die klaskamer: facebook.com/iTeacherSA.

Word deel van Huisgenoot se Facebook-blad vir onnies: Kopskuif-Onnies