Pierre Potgieter, skoolhoof van Laerskool Moregrove in Port Elizabeth, is nie bang om sy hande vuil te maak nie. Toe sy skool nuwe banke nodig gehad het, het hy sommer self ingespring en begin bou. Ons het by die inspirerende skoolhoof gaan inloer.

P1030829

Hoe lank is jy al by die skool en hoe lank is jy al skoolhoof?

Ek het in 1992 as adjunkhoof by Laerskool Moregrove begin en in 1996 skoolhoof geword. Hierdie jaar is my 20ste jaar as hoof en ek geniet nog elke dag asof dit die eerste dag is.

Waar het jy jou liefde en passie vir onderwys gekry?

Gedurende my st.4 (Gr.6) jaar by Laerskool Stulting op Humansdorp het ek ’n onderwyser gehad, Mnr. Piet Slabbert, wat ’n ongelooflike indruk op my gemaak het en van toe af het ek geweet die onderwys is vir my. Hy het hierdie ongelooflike rustigheid uitgestraal en nooit enige kind te na gekom nie. Ek hoop ek is maar net ’n skaduwee van wat hy as opvoeder vir my beteken het.

Vertel ons meer van die skoolbanke wat jy in Desember vir die Gr 4-leerders help maak het. Waarom het jy dit gedoen – dit is tog nie algemeen dat ’n skoolhoof help banke bou en skrop nie? Wat wou jy graag oordra met hierdie gebaar?

Met die koms van die nuwe “CAPS”-kurrikulum het ons graad 4-opvoeders ’n versoek gerig dat hulle graag tafels wil hê waarby twee leerders sit. Die idee is maar daar gebore en ek en een van ons werkers, Smiley Wayile, het toe gedurende die vakansie die tafels gemaak. Hy het die sweiswerk gedoen en ek die houtwerk. Ons het 25 tafels gemaak en dit het ons ses dae gevat om alles klaar te kry. Ek hoor in die gange dat daar nog onderwysers is wat tafels wil hê. Ek en Smiley het die skool so R10 000 gespaar.

Wat inspireer jou elke dag?

My inspirasie lê by Moregrove se leerders, ouers en opvoeders. Elke kind wat deur ons hekke stap elke dag moet onderrig word ongeag ras, geloof of taal. Dit is Suid-Afrika se toekoms; net GOEIE OPVOEDING en ’n Hoër Hand sal ons pragtige land red. Niks anders nie. Ek sien ’n toekoms in elke kind en dit inspireer my. Ek staan elke dag op met ’n lied in my want ek weet die span saam met wie ek my dagtaak gaan aanpak is enig in sy soort. Hulle inspireer my. Ons ouerkorps maak my ook opgewonde want die meeste van hulle ondersteun ons skool met oorgawe. Die Liewe Vader verwag van my om met sy pêrels te werk – wat ’n wonderlike voorreg en watter beter inspirasie is daar?

Dikwels raak onderwysers mismoedig as hulle aan al die uitdagings wat vir hul voorlê, dink. Hoe inspireer jy jou personeel wanneer hulle mismoedig raak?

Gelukkig kan ek sê dat ons personeel baie positief is. Ek sê gereeld vir hulle dat ons ons nie moet bekommer oor dinge wat ons nie kan verander nie. Ons kan niks verander aan besluite (reg of verkeerd) wat deur die Onderwys-departement gemaak word nie, maar ons kan regmaak en verander binne skoolverband wat verkeerd is. Ons personeel is baie naby aan mekaar en elkeen van hulle weet dat my deur altyd oopstaan vir enige probleem of sukses. Hulle weet ook dat hulle my enige tyd van die nag of dag kan bel in tye van nood. Geen probleem is ooit te groot om op te los nie.

Watter rol meen jy speel ’n onderwyser en ’n skoolhoof in die skool en vir die leerders?

As personeel kom ons elke oggend bymekaar waar ons die dag begin met ’n oordenking en afkondigings doen en waar ons sake van belang deel. Ek vermaan opvoeders gereeld dat ons nie weet met watter swaar gemoed van ons leerders skool toe kom nie. Miskien is ons hierdie leerders se enigste veilige baken en kan hulle nie wag om skool toe te kom nie. Wees sensitief vir elke leerder se behoeftes en hê empatie vir daardie outjie wat miskien aandag op die verkeerde wyse soek. Daar is heel waarskynlik ’n rede voor. Ons moet rolmodelle wees in ’n wêreld waar daar so baie verkeerde voorbeelde aan kinders voorgehou word. Ek vra gereeld wat sien elke kind in ons opvoeders se oë as ons in die klas instap. Ons moet met sagte oë na ons kinders kyk.

Watter wenke het jy vir ander skoolhoofde om hul personeel te motiveer en inspireer?

Elke skoolhoof het seker sy eie manier om personeel te motiveer en dit sal voorbarig van my wees om te probeer voorskryf. Ek noem net ’n paar dinge wat vir my persoonlik belangrik is:

  • Dit is nooit MY skool nie, maar ONS skool.
  • Gee erkenning en nogmaals erkenning waar dit toekom.
  • Skep geleenthede vir persoonlike groei.
  • Wees altyd positief al is dit hoe moeilik.
  • Wees altyd 100% eerlik met almal op die personeel.
  • Maak tyd vir ontspanning as ’n span.
  • Moet onder geen omstandighede toelaat dat God uit jou skool geneem word nie.
  • Wees konsekwent in alle besluite.
  • Tree elke dag dieselfde op al is dit hoe moeilik.
  • Luister en hoor wat die personeel se behoeftes is- en doen iets daaromtrent.
  • Skep ’n atmosfeer van “ek hoort hier”.

Watter wenke het jy vir onderwysers om hul klasse te inspireer?

Kinders moet elke dag hoor hulle is spesiaal. Ons werk met ons ouers se belangrkste “besittings” en God se skeppings. Laat die kinders voel hulle is veilig in jou teenwoordigheid. Hê empatie met leerders en hanteer elke kind asof dit jou eie kind is. As opvoeders hulle koppe neerlê snags moet hulle kan antwoord dat hulle alles gegee het vir elke kind en dat hulle met niks minder as dit tevrede sou wees as hulle vir hul eie kinders skool gehou het nie. Ons visie som dit mooi op: ONS RAAK HARTE AAN EN INSPIREER DENKE.

Capture

Hierdie foto is geneem toe Laaerskool Moregrove deelgeneem het aan kaalvoetdag in 2103. Hulle het skoene ingesamel vir minderbevoorregte kinders. Baie onderwysers het ook die dag kaalvoet skool toe gekom tot groot vermaak van die kinders het Pierre vertel.