Estelle de Wit is sedert Januarie 2013 die eerste skoolhoof van Sunnydale Primary School, ’n Engels-medium skool net buite Bloubergstrand in Kaapstad. Sy het haar loopbaan in Vredenburg begin waar sy ’n jaar lank ’n onnie was en sy vir 28 jaar adjunkhoof by Laerskool Panorama ook in Kaapstad.

Estelle

Een van haar personeellede het ons laat weet dat dié skoolhoof sowaar ’n inspirasie vir die personeel en die leerders is. Ons het so bietjie meer gaan uitvind oor die formidabele vrou.

Waar het jy jou liefde en passie vir onderwys gekry?

Ek is gebore met ’n passie en liefde vir die onderwys. As klein dogtertjie het ek my pa se beeste in rye gestoot en vir hulle skool gehou! Later moes my poppe en almal wat wou (of nie wou nie) dit ontgeld. Ek glo dat die Here my geroep het om met kinders te werk – daar is net mooi niks anders op aarde wat ek wil of wou doen nie!

Vertel ons meer van jou “Ice bucket challenge”. Waarom het jy dit gedoen? Waar en in watter konteks het jy dit gedoen? Wat wou jy graag oordra met hierdie gebaar?

Sunningdale Primary School is ’n “value driven” school, wat beteken dat ons wat ons doen, aan waardes koppel. Die personeel en ek het lank hieroor gesels en uiteindelik besluit ons “core values” is Compassion, Respect, Perseverance and Responsibility. Daar is ook ander waardes wat ons aan ons leerders voorhou, en dit is aan ’n spesifieke kleur gekoppel. Aangesien Februarie bekend is vir die maand van liefde en ons as skool Valentynsdag vier, is ons eerste waarde waarmee ons die jaar afskop, COMPASSION en ons skool is ROOI versier. Ek het gevoel ek moet wat dit beteken PRAKTIES vir die leerders en personeel demonstreer tydens ons eerste saalbyeenkoms van 2015 sodat hulle dit (hopelik!) nooit weer sal vergeet nie. Van verlede jaar af loop ek al met die idee van die “ice bucket”. Die “ice bucket challenge” het ontstaan omdat mense wou wys dat hulle empatie het – en ons wil vir ons leerders leer dat Sunningdale Primary staan vir “kindness and caring”.

Ek het dus uit eie vrye wil die “ice bucket challenge” gedoen in die skoolsaal op die verhoog om so ook aan ons leerders te demonstreer dat ek vir hulle onvoorwaardelik lief is – they have to know that their principal really cares. . .

Ek het dus uit eie vrye wil die “ice bucket challenge” gedoen in die skoolsaal op die verhoog om so ook aan ons leerders te demonstreer dat ek vir hulle onvoorwaardelik lief is – they have to know that their principal really cares. . . Dieselfde Maandagaand het ek dit ’n tweede keer gedoen – hierdie keer om aan ons ouers die boodskap oor te dra dat ek en die personeel “110% committed” is, dat ons baie bewus is van elke kind in die klas se behoeftes en dat ons “Compassion” het.

Glo dit as jy wil of nie, maar die dag daarna het ’n ouer my op die skool se Facebook blad uitgedaag om dit ’n derde keer te doen tydens die OOV-vergadering , maar hierdie keer wou sy my “totally drenched” sien. Ek het die uitdaging aanvaar, maar die ouers terug uitgedaag om hulle silwer saam te bring. Hierdie keer (’n week later en ook op die verhoog in die skoolsaal) het ek dubbeld soveel ys en koue water trotseer om te wys “I care for Aftercare!”. Ons nasorg het ’n groot behoefte aan opvoedkundige speelgoed, springtoue, balle en hoepels en fondse is min. Dit was ongelooflik om te ervaar hoe die ouers ingekoop het in ons COMPASSION-waarde, want ons het daardie aand R1 540,10 ingesamel sodat ons kleintjies lekker middae kan speel! Ek was behoorlik nat, maar die mamma wat my uitgedaag en die ys oor my omgekeer het, ook!

Wat inspireer jou elke dag?

Eerstens die feit dat ek weet dat die onderwys vir my ’n roeping en passie is – ek kan my nie ’n lewe sonder skool voorstel nie. Die Bybelvers wat ek in ons voorportaal opgehang het (Psalm 32:8 – dis aan my gegee die dag toe ek die sleutels van die skool ontvang het) inspireer my elke keer as ek by die voordeur in- of uitstap of as ek daarna kyk. Die gebedsgroep wat Donderdagoggende saam met my bid, hou my arms en energievlakke hoog. Leerders wat op my afpeil en ’n drukkie eis (gewoonlik het ons moeite om nie almal op mekaar te val nie!) inspireer my. Soms spring hulle sommer sonder waarskuwing in my arms – dis kosbaar.

Ek is geseënd met personeel wat positief en energiek is en elke uitdaging (en daar is baie!) aanvaar – ons weier eenvoudig dat enigiets ons onderkry. Die lag in die personeelkamer en die poetse wat gebak word, is ’n inspirasie. Dankbare ouers wat e-posse stuur om ons aan te moedig of net dankie te sê, sorg ook vir ekstra petrol in my tenk.

Om te sien hoe ons skool vorder en groei (ons het begin met 186 leerders, 8 opvoeders en ’n gebou met net tafels en stoele – na 2 jaar het ons 620 leerders en is daar 48 siele op die personeel) – en hoe ons dinge in plek sit, stappie vir stappie, is ook motivering soos min!

Dikwels raak onderwysers mismoedig as hulle aan al die uitdagings wat vir hul voorlê, dink. Hoe inspireer jy jou personeel wanneer hulle mismoedig raak?

Ek begin elke oggend met ’n DANKIE – aan spesifieke indiwidue. Of dit nou vir ’n vergadering is wat bygewoon is of stoele wat reggepak is of blomme wat in die voorportaal neergesit is. Ek is nie skaam om erkenning te gee nie.

Ek glo dat as EK positief is, dit sal “afvryf”. Hoe EK situasies en uitdagings hanteer, kan “maak of breek”. Ek dra dus inligting so positief moontlik oor en maak van humor gebruik. Ek sal dikwels sê: “See the bright side, people!” gevolg deur iets wat die oomblik net “ligter” maak. Ek vra ook voor ’n volgende uitdaging of probleem wat oorbrug moet word: “Do you want the good news or the bad news first?” Personeel weet dan daar is iets positief ook – en hulle kies gewoonlik die “bad news” eerste.

Ek soek tot ek iets kry om positief oor te wees. Ek glo ook daaraan om beskikbaar te wees vir die personeel en ek LUISTER. Hulle weet ek is nooit te besig om hulle te sien nie, en ons takel onmiddellik dinge wat frustreer. Ek glo nie aan uitstel nie.

Ek stuur graag ’n whatsapp saans of vroeg soggens – veral as ek deur die dag sien ’n onderwyser(es) kry swaar. Ons bid ook Donderdagoggende vir die personeel – spesifiek maar sonder om name te noem. Ons personeel weet ook dat hulle nie “alleen” is nie en dat ek daar is om hulle te beskerm en te ondersteun. Ons sien dus ouers saam in my kantoor en ek laat nie “verbal abuse” toe nie.

Ek doen alles SAAM met die personeel want ek is mos deel van die span. Ek dink saam aan oplossings vir probleme en sit stelsels in plek om die druk te verlig waar nodig. Teamwork makes our dream work!

Watter wenke het jy vir ander skoolhoofde om hul personeel te motiveer en inspireer?

Ontdek jou knieë! Bid baie vir jou personeel. Wees deel van die span – die bestuur van ’n skool is nie ’n “one-man/woman-show” nie. Werk saam, trek saam, loop voor. Wees eerste by die skool in die oggend en die laaste een om te loop. Wees beskikbaar, hou jou kantoordeur oop en dien. Wees ontvanklik vir die personeel se insette, gee gereeld erkenning en moenie bang wees om ander te bemagtig nie. Stel belang in die personeel EN hul gesinne. Behandel almal eenders – van die sekuriteitswag tot die adjunkhoof. Verras die personeel so nou en dan met iets lekker (soos roomys) en laat hulle soms toe om vroeg huis toe te gaan. Straal positiwiteit uit en lag (soms) uit jou maag uit. Behou jou humorsin. Wees soms laf en wys jy is ook net ’n doodgewone mens, en. . . moenie skinder nie!

Watter wenke het jy vir onderwysers om hul klasse te inspireer?

Kinders is mal oor ’n warm, vriendelike “mense-mens” – al wat hulle in vandag se lewe soek, is liefde en aanvaarding. Wees altyd goed voorbereid, gedissiplineerd en konsekwent – jy moet wees wat jy van jou klas verwag om te wees.

Maak die akademie “lekker” en vind maniere om onthou maklik te. Wees self positief en vind iets mooi om in elke leerder se boek te skryf. Stel belang in jou leerders se buitemuurse aktiwiteite. Almal van ons floreer op erkenning.

Veroordeel ’n leerder se daad/optrede – nie die leerder self nie. Moet nooit persoonlike of beledigende aanmerkings maak nie. As jy respek wil hê, betoon dit. Stel belang in elke kind en moenie witbroodjies hê nie. Maak toegewings – alles is nie altyd “wit of swart” nie. Wees eerlik – ook oor jou eie tekortkominge. As ’n leerder iets vertroulik met jou deel, wees die vertroue waardig en moenie dit uitlap nie. Wys jou klas dat jy in hulle glo. Wys hulle the sky is the limit and just LOVE them!

Kyk hier na Estelle se Ice Bucket-uitdaging:

[post-slider]