Katie is ’n wiskunde-onderwyseres aan die Hoërskool Bloemhof op Stellenbosch en Margaret is taalpraktisyn (vryskutvertaler en -redigeerder) en wiskunde-tutor op Malmesbury.

[caption id="attachment_101445" align="aligncenter" width="600"]Margaret en Katie Margaret en Katie[/caption]

Kopskuif-Onnies het met die gedugte susterspan gaan gesels om meer oor die susters en die boek uit te vind.

Waarom wou julle spesifiek hierdie projek aanpak? Katie: Gr. 9 is so ’n belangrike jaar om jou grondslag vir wiskunde te lê. Ek het gesien dat leerders nie genoeg oefeninge het om uit te werk nie.

'Wiskunde verg oefening – baie oefening – maar as ’n mens die tyd daaraan afstaan om genoeg probleme uit te werk, sal jy sukses behaal.'

Deur ’n oefeningboek met antwoorde van ’n hoë standaard te hê, kan beslis ’n groot verskil maak aan ’n leerder se prestasie in wiskunde – ook in die geval van sterker leerders, want hulle kry ook die geleentheid om hoëstandaardprobleme op te los.

Margaret:

Dit is baie belangrik dat leerders die selfvertroue moet hê dat hulle wiskunde kán doen. Daar is nog te veel leerders wat wiskunde as ’n vak beskou waarmee net “slim” leerders regkom. Met hierdie boek wil ons eintlik vir leerders sê: “Jy kan!”

Wiskunde verg oefening – baie oefening – maar as ’n mens die tyd daaraan afstaan om genoeg probleme uit te werk, sal jy sukses behaal. Hierdie boek is daarop gemik om alle leerders (dié wat sukkel, dié wat redelik goed vaar, maar beter wil doen, en ook dié wat ’n uitdaging soek) te help om genoeg oefening op alle vlakke te kry. Ons gee ook volledige oplossings (nie net die antwoorde nie) sodat leerders self kan sien waar hulle foute gemaak het. Met hierdie boek kan hulle wiskunde doen tot dit omtrent by hulle ore uitloop!

Op wie is hierdie projek gemik?

Margaret:

Afrikaans en Engelssprekende gr. 9-leerders kan die boek by die huis gebruik. Pythagoras 9 is ook ’n uitstekende hulpmiddel vir onderwysers wat ekstra klasse aanbied, want hulle kan die boek net so gebruik. Dit spaar hulle die tyd om pal oefeninge te soek en/of op te stel en dit dan vir die leerders te fotostateer.

Wat onderskei jul boek van ander soortgelyke boeke?

Katie:

(1) Dit bevat meer oefeninge op verskillende vlakke as ander boeke, (2) daar is ’n toets aan die einde van elke afdeling, (3) die standaard is oor die algemeen hoër, en (4) die boek is baie volledig – dit sluit verduidelikings, wenke, uitgewerkte voorbeelde en volledige oplossings in.

Vertel ons meer van die ervaring om as susters saam te werk – kom julle goed oor die weg? Stamp jul gereeld koppe? Hoe lank en wanneer het julle hieraan gewerk?

Katie:

Ons het fantasties saamgewerk as ’n span en kon lekker redeneer oor dinge. Omdat ons dieselfde agtergrond het, verstaan ons mekaar baie goed. Dit was beslis ’n pluspunt. Ons kom baie goed oor die weg en neem soms ook saam aan padwedlope deel.

Ek het meestal saans, naweke en tydens skoolvakansies daaraan gewerk.

Margaret:

Dit was heerlik om saam met Katie te werk. Sy is ’n uitstekende spanmaat en is baie ondersteunend. Sy het byvoorbeeld laas jaar die SAD Safari-halfmarathon (my eerste) sy aan sy saam met my gehardloop, al sou sy eintlik lekker stof in my oë kon skop! Omdat sy ook medeskrywer van die gr. 8-boek in hierdie reeks is (dit is in 2014 uitgegee), het sy heelwat ervaring gehad wat sy kon deel. Ons het alles omtrent hierdie boek self gedoen: van die teksskrywing, vertaling, redigering en wiskunde-kontrolering tot die eindelike proeflees. Wanneer ons die middernagkersies laat brand het en oor naweke aan die boek gewerk het, was dit altyd lekker om te weet ons is saam in die ding.

Waar het julle jul passie vir die onderwys en spesifiek wiskunde as vak gekry?

Katie:

Toe ek op universiteit was, het ek begin deur ingenieurstudente met wiskunde te help. Ek het dit baie geniet; dit het my laat besef dit is wat ek wil doen.

Margaret:

Ek en Katie is onderskeidelik die middelste en jongste van sewe kinders en het grootgeword in ’n huis waar wiskunde ’n absolute ereplek beklee het. ’n Mens kan maar sê ons is die derde geslag wiskunde-geesdriftiges – ons ma (en haar suster) en ouma is/was almal wiskunde-onderwysers.

My wiskundedosent op universiteit het my destyds gevra om ’n medestudent met wiskunde te help en dit was wonderlik om te sien hoe hy aan die einde van daardie jaar sukses behaal. Dit bly lekker om leerders te help.

Wat wag nog op julle? Sal jul weer saamwerk?

Katie:

Ja, ons gaan vir seker weer saamwerk. Ons gaan hoeka nou met ’n gr. 7-boek begin.

Margaret:

Beslis. Buiten die gr. 7-boek – waaroor ons reeds baie opgewonde is – beplan ons ook ’n boek wat uit vraestelle vir gr. 9’s bestaan. Dit sal leerders help met hul voorbereiding op die Junie- en Novembereksamen.

Watter wenke het julle vir ander onnies wat dalk ook so ’n projek wil begin?

Margaret:

So ’n projek verg baie tyd, moeite en geduld. ’n Mens moet ’n goeie spanmaat hê wat jou aanmoedig en sy/haar kant bring, en julle moet mekaar help om jul mikpunte duidelik voor oë te hou. Dit is ook belangrik om te alle tye in gedagte te hou wie die lesers/gebruikers van die boek gaan wees en dan die teks, probleme en oplossings op hul vlak te skryf.

Die boeke is by Margaret en Katie beskikbaar (www.margaretrossouw.co.za) – enigiemand wat in hul onderskeie omgewings bly, kan dit sommer direk by hul koop. ’n Mens kan die boeke ook by die uitgewer (Fisichem Uitgewers, www.fisichem.co.za) bestel. Dit kos R120, posgeld ingesluit. Dit geld ook vir die gr. 8-boek – waarvan Katie medeskrywer is – en die gr. 10- tot 12-boeke. Al die boeke is in Afrikaans en Engels beskikbaar.

[post-slider]