Laat die kinders jou in en om die huis help, want dis goed vir hulle! 

Dit word gewoonlik as lastig en saai beskou, of as die een of ander vorm van straf, maar huishoudelike take kan in werklikheid kinders se ontwikkeling bevorder en ja, dit kweek karakter! Afgematte ouers moenie net toegee en alles self doen om dit agter die rug te kry nie, sê die kenners – ons sal ons kinders ’n onreg aandoen.

Afgesien daarvan dat ons bedorwe brokkies sal grootmaak (en as besige ouers nooit ’n blaaskans kry nie), is daar baie redes om kinders meer take in en om die huis te laat doen. 

Makliker gesê as gedaan? Nie noodwendig nie. Die kenners meen met die regte leiding hoef dit nie ’n kopseer te wees nie. Om vir kinders ouderdomsgepaste werkies, genoeg tyd en motivering te gee, kan huistake ’n plesier maak. 

HOEKOM KINDERS IN EN OM DIE HUIS MOET HELP

As ons ons kinders van jongs af leer om met huistake te help, sal hulle nie net leer om die huis skoon en netjies te hou nie. Dit is om verskeie ander redes ook belangrik. 

  • Dit help met kinders se liggaamlike ontwikkeling. Om hulle van jongs af hul speelgoed te laat wegpak of die tafel te dek, ontwikkel hul spiere en hand-oog-koördinasie. 
    Terwyl volwassenes take uitvoer met ’n doel voor oë, leer kinders wanneer hulle huistake doen om logies te dink. Byvoorbeeld: Terwyl ’n volwassene bloot wil sorg dat die tafel voor ete gedek is, moet ’n kind bewustelik besluit hoe om borde op te tel en waar om die messe en vurke te sit.
  • Dit leer kinders ook onafhanklikheid. Kinders besef die waarde van goed vir hulself doen en leer ook verantwoordelik wees. As jy vir ’n kind leer om sy vuil bord en eetgerei kombuis toe te neem, maak dit hulle bedagsamer, want hulle besef iemand anders sal dit moet doen as hulle dit nie doen nie. 
  • Dis ’n les in lewensoriëntering. Take soos tafel dek brei ’n kind se algemene kennis uit en leer hulle belangrike lewensvaardighede. 
  • Dit versterk verhoudings. Wanneer ouers en kinders huistake saam aanpak, verbeter dit hul kommunikasie en help hulle ook ’n band smee. 

MOTIVEER JOU KIND SO

Die grootste uitdaging is om kinders sover te kry om te begin huistake verrig. As jy daardie struikelblok oorkom, is die res makliker. ’n Goeie begin is om jou huis te orden dat dit fisiek maklik is vir kinders om take te verrig. 

  • Bêre speelgoed op lae rakke of in bokse op die vloer sodat dit maklik is om dit weg te pak. 
  • Hou draagbare trappies byderhand sodat hulle maklik by kombuistoonbanke en ander oppervlakke kan bykom.
  • Vestig ’n roetine. ’n Kind is meer geneig om iets te doen as dit op ’n spesifieke tyd gedoen word. Dit leer hulle ook tydsbestuur. Verdeel take onder jou kinders en maak dit byvoorbeeld duidelik die vullis moet Maandae uitgevat word en die hond vyfuur saans kos gegee word.
  • Belê in plastiek-eetgerei sodat hulle van jongs af kan tafel dek en self eet.
  • As jou kinders teësinnig is om take te verrig, gee hulle meer tyd om dit te voltooi. Sê byvoorbeeld vir jou dogter haar kamer moet teen aandete netjies wees en wys vir haar op ’n horlosie hoeveel tyd sy het om dit te doen. Dit leer haar ook haar tyd bestuur.
  • Skort voorregte op tot take afgehandel is. Moenie jonger kinders laat televisie kyk tot hul take uitgevoer is nie. En weerhou sakgeld of selfone van ouer kinders.

PAS SO AAN AS OUER

  • Dit duur langer wanneer kinders self take verrig. Wees geduldig. Laat byvoorbeeld kinders self hul hemp toeknoop. Weerstaan die drang om oor te neem – dit kan hulle leer jy sal oorneem as hulle draal en kan selfs hul selfvertroue knou.
  • Moenie bloot aanvaar dat kinders nie iets kan doen nie weens hul ouderdom. Vra of hulle iets wil doen voor jy dit self doen. 
  • Gee vir kinders keuses. Ideaal gesproke moet jy ’n middeweg tussen ouerleiding en die kind se onafhanklikheid vind. Byvoorbeeld: Ouers kan besluit watter klere die kind moet dra, want dit is koud buite, maar sit twee truie uit en laat hulle een kies.
  • Pas jou roetine aan. “Daar is te min tyd in die oggend,” is ’n gerieflike verskoning vir ouers om alles self te doen. ’n Oplossing kan wees om ’n halfuur vroeër op te staan.

UITSONDERINGS OP DIE REËL

  • Wanneer jou kind siek is.
  • Wanneer kinders werklik moeg is ná ’n lang dag en moet rus of as hulle vir ’n toets of eksamen moet leer.
  • As die taak gevaarlik is, soos om met ’n skerp mes te werk.
  • Kinders moenie plaasvervanger-huiswerkers word nie. Jy kan ’n voorbeeld stel – as jou kinders sien jy spring ook in, sal hulle leer dit verg spanwerk om ’n huishouding te bestuur. 

TAKE PER OUDERDOMSGROEP

Twee tot drie jaar 

  • Pak hul speelgoed weg.
  • Pak hul boeke op rakke.
  • Sit hul vuil wasgoed in die wasgoedmandjie
  • Sit vullis in die vuilgoedblik.
  • Vou hul waslap op.
  • Dek die tafel.
  • Gaan haal hul doeke.
  • Vee oppervlakke af.

Vier tot vyf jaar

  • Gee troeteldiere kos.
  • Maak hul bed op. 
  • Maak hul kamer netjies.
  • Lei plante nat.
  • Berei maklike peuselhappies.
  • Droog skottelgoed af en pak dit weg.

Ses tot sewe jaar

  • Tel rommel in en om die huis op.
  • Vou handdoeke op. 
  • Pak die skottelgoedwasser uit. 
  • Vou sokkies op.
  • Trek onkruid uit.
  • Skil aartappels en wortels.
  • Maak slaai.
  • Ruil die toiletrol om.

Agt tot nege jaar

  • Pak die skottelgoedwasser.
  • Hang en vou wasgoed op.
  • Stof meubels af.
  • Maak die tuin met ’n tuinslang nat.
  • Pak kruideniersware weg. 
  • Maak roereier.
  • Bak koekies.
  • Gaan stap met die hond.

10-11 jaar 

  • Maak die badkamer skoon.
  • Stofsuig.
  • Maak die kombuis skoon.
  • Berei eenvoudige maaltye.
  • Haal die pos uit. 
  • Werk knope aan. 
  • Vee.

12 jaar en ouer

  • Mop die vloer.
  • Was die motor.
  • Verf mure.
  • Doen inkopies van ’n lys af.
  • Maak aandete.
  • Bak brood of koek.
  • Was vensters. 
  • Stryk.
  • Pas jonger broers of susters op.


Ons bedank die volgende kenners vir hul hulp met die artikel: Hawa Tayob, direkteur van Elf Montessori Teacher Training in Kaapstad, en Lana Kleingeld, opvoedkundige sielkundige in Johannesburg. Ekstra bron: flandersfamily.info
UIT DRUM SUPERMOM