[caption id="attachment_62235" align="aligncenter" width="600"]Man en vrou kyk mekaar in die oë Illustrasie: WikiPhoto[/caption] IN DIE een se oë kan jy kyk en hy sal nie blik of bloos as hy vir jou vertel dat hy die hele naweek by die huis ge-chill het terwyl jy weg was vir optredes iewers in die land nie. Twee weke later kan jy maar weet: Die een of ander kind se ma gaan vir my in Checkers voorkeer en bedank vir die heerlike partytjie by ons huis en vir my as ouer prys dat ek my kind so vertrou wanneer ek weg is. As dit nie was vir die leë bottel Black Label bier wat een aand onder die bank uitgerol het nie, sou ek nooit uitgevind het van Misha se 21ste verjaardagpartytjie nie. Die ander seun, wat sleg lieg, glo nog steeds dat as ’n mens in sy oë kyk, jy die hele waarheid gaan sien. Hy’s die een wat altyd die kleingeld terugbring as jy hom winkel toe stuur om melk te gaan koop. Hy’s die een wat om verskoning vra omdat hy vergeet het om die asblik uit te sit of erken dat hy te veel internet gebruik het. Hy lieg oor alles sleg behalwe oor sy sokkies – en eintlik is dit vir my veel erger as die internet wat hy gebruik.

Was dit die kere wat ek gejok het oor hoe hul pa vir hulle gaan kom kuier?

Hulle sê dat ’n skreeuende ma uiteindelik skreeuende kinders kry. Dit beteken seker dan ook dat ’n liegende ma liegende kinders kry . . . Nou wonder ek watter een van my liegstories die spyker in die kis was van my kinders se opvoeding ? Was dit die storie oor Vader Kersfees of die Tandemuis of die Paashasie of daai keer toe ek hulle by ouma gelos en gesê het ek kom nou-nou terug? Was dit die keer toe ek gesê het dit gaan goed met my terwyl ek staan en huil het, of was dit die kere wat ek gejok het oor hoe hul pa vir hulle gaan kom kuier?

Ek weet nie hoe ’n mens deur die lewe kan gaan sonder ’n liegie hier en ’n liegie daar nie. Partykeer moet ’n mens weet dat dit nie help om te hamer op die lieg-deel nie. Dan moet jy jou liewer afvra hoekom die mens gelieg het. Sê nou maar hy’s ’n spioen? Dan moet hy mos lieg – dis sy werk?

Ek lees nou so lekker van lieg met die Nkandla-saga en ek wonder hoe dit agter die skerms gaan in die Zuma-huishouding as die media so tekere gaan.

Nkandla and Jacob Zuma

Daar is seker groot huismoles waarvan ons nie weet nie. Ek wens ek was ’n vlieg teen hul eetkamer se muur, want dit gaan uiteindelik maar dieselfde in elke huis as dit by lieg kom . . . iemand raas met iemand.

Al wat ek so graag sou wou weet, is: Wie is die een in die familie wat in die president se oë probeer kyk het?

- Janie

Janie du Plessis Janie du Plessis is bekend as ’n TV-persoonlikheid, joernalis, sakevrou, motiveringsspreker, kankeroorwinnaar en toegewyde ma van twee seuns. HUISMOLES is haar blog vir Huisgenoot oor die wel en wee van gesins- en familielewens. Een van haar groot passies is om mense bewus te maak van dinge waaroor hulle dikwels te skaam is om te praat, sodat dit nog hartseer en pyn in families veroorsaak. Haar positiewe uitkyk op die lewe en hoe sy die uitdagings wat oor haar pad kom aanpak en oorkom met ’n glimlag en sin vir humor, bly ’n inspirasie vir baie mense. Neem deel aan haar gesprekke hier op Huisgenoot se blaaie of gesels saam op haar facebook-blad en webtuiste.