Alle gr. 8-leerders wat hul hoërskoolloopbaan by Linkside begin, moes ’n tablet koop wat alle handboeke sou vervang en hul skoolsak effe ligter maak. Die handboeke word dan via EPUB op elke leerder se tablet afgelaai; die onderwysers gebruik ook tydens onderrig tablette.

Ons het met die skoolhoof, James Hay, gepraat oor hierdie besluit en hoe dit op praktiese vlak werk.

V: Hoekom het hulle besluit om handboeke met tablette te vervang?

A: Dit is ’n skool se plig om leerders vir die toekoms voor te berei. Ongeag wat leerders eendag ná skool doen (’n werk of studies), gaan tegnologie ’n groot rol speel in hul voorbereiding vir wat hulle eendag gaan doen. Die skool wil dus met die bekendstelling van die tablette (in samewerking met die gebruik van ander soorte tegnologie) die leerders toerus met die noodsaaklike vaardighede wat hulle eendag in die werkplek nodig gaan kry.

EPUB-handboeke, wat met tablette gebruik word, is ryk in teks en interaktief; dit stimuleer hierdie 21ste-eeuse leerders soveel meer. Hulle leef in ’n era van tegnologie en gebruik dit gemaklik. EPUB maak dit ook moontlik vir onderwysers om ekstra inligting of notas in die leerders se boeke te plaas, wat dit dus verryk en in die “perfekte” handboeke omskep. Die EPUB-handboek kos ook die helfte minder as die gedrukte weergawe.

V: Hoe het julle die tablette by die klaskamer ingefaseer?

A: Die idee was om net met die gr. 8’s te begin, vir wie dit verpligtend is, maar ná drie vergaderings met die gr. 9’s en hul ouers het ons dit vir hulle ook opsioneel gemaak. Meer as 80 persent van hulle gebruik tablette pleks van tradisionele handboeke.

V: Is die leerders se tablette deur die dag met die internet verbind?

A: Hulle is verbind aan die skool se Wi-Fi, ja. Maar hulle het nie ’n internetverbinding nodig om die EPUB-handboeke te gebruik nie.

V: Hoe moes onderwysers hul lesaanbieding aanpas?

A: Ons gebruik al sedert 2009 tegnologie by die skool, dus was die skuif nie so groot nie. Dis meer ’n kwessie van onderwysers wat hul individuele kreatiewe vaardighede gebruik en die tablet in die klaskamer tot die maksimum effek benut.

V: Het onderwysers en leerders spesiale opleiding ontvang om die tablette te gebruik?

A: Ja, die onderwysers het opleiding gekry oor hoe om die toestel te gebruik; hulle het ook opleiding gekry oor die plaas van inligting in die EPUBs.

V: Tot watter mate dink jy het tablette interaktiwiteit in die klaskamer bevorder?

A: Waar tegnologie soos die dataprojektor en skootrekenaar net die onderwyser bemagtig het om tegnologie te gebruik, het die tablet nou ’n element van samewerking ingebring waar leerders nou aktief aan die leerproses deelneem.

V: Watter raad het jy vir ander skole of onderwysers wat tablette in die klaskamer wil gebruik?

A: Wie nie waag nie, wen nie!

V: Wat is die grootste voordeel en uitdaging van hierdie oorgang?

A: Die grootste voordeel is dat tegnologie die wêreld verander het en dit in die toekoms nog meer gaan verander. As opvoeders moet ons altyd aan die voorpunt van daardie opvoedkundige veranderinge wees om ons leerders so goed moontlik vir die toekoms voor te berei. Die uitdagings gaan altyd infrastruktuur en koste wees, en natuurlik dié wat negatief is.