Hoewel sommige kinders goed vaar met ’n hulpvaardige onderwyser by die skool en ’n belangstellende ouer by die huis, kan sommige kinders baat vind by ekstra hulp.

Maar hoe weet jy wanneer om bykomende hulp in te roep? Walton Kruger wat sy eie privaatonderwyser-onderneming bestuur, gee raad.

Afname in punte

As jy glo jou kind kan beter presteer as wat sy punte op sy rapport sê of jy kom agter sy punte neem stadig maar seker af, is die eerste stap om met die onderwyser te gesels.

Die onderwyser sal presies weet waarmee jou kind sukkel en watter gebiede verbetering verg. As jou kind op ander gebiede sukkel, soos konsentrasie, sal die onderwyser dit ook kan uitwys. So kan julle die probleem takel.

Slegte tydsbestuur

As jou kind projekte of huiswerk uitstel, is dit moontlik dat hul werklading te veel is. Die vertraging wat nou en dan gebeur is algemeen, maar wanneer uitstel meer gereeld gebeur, kan dit ’n teken van ’n groter probleem wees.

Ekstra hulp kan jou kind se studiepatrone verbeter, selfvertroue opbou en ’n pas skep vir toekomstige toetse en projekte waarby jou kind kan hou.

In die middag direk ná skool is dit die beste tyd vir kinders om ’n privaat onderwyser te kry wat hulle met huiswerk help, sê Walton. “Kinders is nog in hul skoolroetine en huiswerk moet gedoen word, dus moet dit klaarkom,” sê hy. “Jy wil nie te lank huiswerk doen nie, want konsentrasie hou nie altyd so lank nie.”

Lees ook: Hoe jy jou tiener kan help om eksamenstres die hoof te bied

Altyd deurmekaar

Die meeste van die tyd is die rede vir swak prestasie eenvoudig: Jou kind verstaan dalk net nie die huiswerk nie.

As jou kind herhaaldelik sukkel met sekere konsepte kan dit ’n teken wees dat hulle nie met die verwagte leeruitkomste byhou nie. Dit kan moeilik wees om te onderskei of jou kind deurmekaar is omdat die leerplankonsepte nie duidelik genoeg is en of jou kind net nie hul kant wil bring nie.

As jou kind herhaaldelik angstig raak oor ’n vak of konsep, sal ’n privaat onderwyser hulle kan help om vordering te verseker.

Gebrek aan selfvertroue

Dit is normaal om onseker te wees oor ’n nuwe konsep, maar dit is nie opbouend vir die kind as daar nie motivering is nie. As jou kind noem hulle kan nie byhou nie, is hul eerste reaksie om weg te hardloop van die probleem. As die ekstra hulp suksesvol is, sal jou kind meer selfversekerd wees en heel moontlik in die klaskamer deelneem.

Afname in ouers se toesig

Verskeie redes dra by tot ’n afname in ouers se toesig. Wanneer ouers ekstra verantwoordelikhede buite die gesin aanvaar, is dit amper onmoontlik om dieselfde vlak van hulp aan hul kind te gee wat hulle voorheen kon gee.

Soos die kind ouer raak vermeerder sy werklading en verg dit meer tyd in sy reeds besige program. Die meeste ouers verstaan nie deesdae die konsepte wat vandag in die skool geleer word nie.

Wat die rede ook al kan wees, dit is nie altyd moontlik vir ouers om ’n ogie op kinders se huiswerk te hou nie.

Hier kan privaat onderwysers programbotsings verlig deur kinders te help met huiswerk terwyl ouers ander verpligtings nakom.

Leergestremdhede

Klasse deur privaat onderwysers is ook voordelig vir kinders met leergestremdhede. Dié kinders moet dikwels harder as hul klasmaats werk sodat hulle op dieselfde pas as hul maats bly.

Privaat onderwysers kan kinders met leergestremdhede individuele aandag gee sodat hulle die vakke kan bemeester en studiegewoontes vestig. Walton meen dit hang af van kind tot kind as jy wonder of jou kind individuele lesse moet kry of eerder in ’n groepie.

“Een-tot-een is by verre die beste waarde vir jou geld, want al die aandag is persoonlik. Groepe is natuurlik ook lekker, maar dit hang af saam met wie jou kind ingedeel is,” verduidelik hy. Ander kinders kan dalk jou kind se aandag aftrek.

Walton sê ’n privaat onderwyser kan ’n kind in gr.1 al help om ’n bietjie meer selfstandig te wees met betrekking tot sy werketiek.

Lees ook: Graad 9's, moenie besluite oor die keuse van vakke tot op die nippertjie uitstel nie

So vind jy ’n privaat onderwyser

1. Stel vas hoekom jou kind ’n privaat onderwyser nodig het – swak prestasie, nuwe skool, ter voorbereiding vir ’n toets of dalk soek jou kind meer uitdagings op ’n hoër vlak.

2. Evalueer jou kind se moontlike privaat onderwysers op kwalifikasies, hul vermoë om verhoudings te bou, watter prestasies hulle het, kommunikasie-vaardighede en hul koste per les.

3. Onthou om altyd vrae te stel. Hier is ’n paar moontlike vrae:

  • Hoe lank doen jy dit al?
  • Wat is jou kwalifikasies?
  • Het jy enige verwysings?
  • Watter assesserings behandel jy met kinders?
  • Watter toerusting of benodigdhede verskaf jy? Wat moet my kind verskaf?
  • Bied jy individuele lesse?
  • Is daar enige bykomende koste verbonde?
  • Is daar ’n kontrak vir ons ooreenkoms?
  • Hoe sal jy weet wat my kind se behoeftes is?
  • Het jy ’n spesifieke leertegniek of filosofie?
  • Hoe gaan jy met my kommunikeer en my op datum hou?

* Privaat onderwysers sal ook ’n paar vrae vir jou hê.

Waar soek ek ’n privaat onderwyser?

  • Vra ander ouers by die skool of hulle gebruik maak van so iemand – miskien het hulle die ideale een vir jou.
  • Hoor of jou kind se onderwyser iemand kan aanbeveel.
  • Soek leerskole of leersentrums op.
  • Hou jou oë oop vir advertensies in jou plaaslike biblioteek.
  • Jy kan agentskappe op die internet kontak. “Agentskappe help baie, want hulle sit privaat onderwysers deur ’n keuringsproses en doen agtergrondondersoeke,” sê Walton.

Jy kan ook die webtuiste pitutor.co.za besoek.

Ekstra bronne: parents.com, educationindustry.org

Ander stories op Huisgenoot.com:

Graad 11’s! Hier’s waarom julle vanjaar net so ernstig soos jul matriekjaar moet opneem

’n Paar eenvoudige studiewenke vir die matriekeindeksamen

Matrieks: Vyf stappe om vir die finale eksamen voor te berei

Raad met ’n kind wat net op buitemuurs fokus