Dink julle daaraan om weer swanger te raak? Ons ouerskapsblogger Meg Faure gee raad.

[caption id="attachment_49236" align="aligncenter" width="600"]Foto: Sean Deilinger op Flickr Foto: Sean Deilinger op Flickr[/caption]

VERLEDE week was ’n mamma wat ek dink ’n wonderlike ouer is by my praktyk. Sy is een van daardie mense wat net lyk asof hulle die ouerskapreis regkry. Dis nie dat sy al die antwoorde het nie – sy het beslis nie. Sy kom raadpleeg my elke paar maande wanneer daar ’n probleem met haar kleinding se slaappatroon is.

Waarom dink ek dan dat daar by haar ’n les te leer is? Dit het te doen met haar idees oor die spasiëring van haar kinders. Om te besluit wanneer om nommer twee (of drie ) te kry, is ’n baie persoonlike saak en die volgende beginsels geld:

  • Hoe oud is jy (of pa)? As jy reeds ’n ouer primigravida (slim woord as jy jou eerste baba ná 35 gekry het) is en twee of drie babas wil hê, sal jy effens haastiger wees en eerder gouer as later weer swanger wil raak. Maar as die tyd aan jou kant is, kan spasiëring dalk ’n wyser besluit wees.
  • Jou vrugbaarheid. As jy gesukkel het om met nommer een swanger te raak en aan ’n toestand soos endometriose ly, kan jou dokter jou aanraai om so gou moontlik swanger te raak om te voorkom dat dieselfde probleme weer opduik, of selfs om dit aan die noodlot oor te laat aangesien jy dalk vir ’n lang tyd nie swanger sal raak nie.

Maar kom ons sê jy het tyd. Wanneer is dit dan die beste tyd vir nog ’n boetie of sussie?

Sommige mense glo aan ’n klein gaping, want “Ek wil hê die kinders moet beste vriende wees”, of “Kry die doeketyd agter die rug sodat ons weer kan aangaan en lewe en reis”, of “Dit was so maklik, terwyl ek in die ding is wil ek aangaan”.

Aan die ander kant word sterk argumente vir ’n langer wagtyd aangevoer, soos “Wag tot jou liggaam heeltemal herstel en sy vorm terugkry” (gebeur dit ooit?) en “Wag tot my kleuter die begrip van deel verstaan” en  “Dis so duur, kom ons versprei die doekjare sodat ons net een kind op ’n slag in doeke het”.

Maar terwyl ek met my pasiënt gesels het, het ek gehou van haar siening hiervan. Sy is ’n heeltydse ma wat haar loopbaan vir eers uitgestel het. Sy het nie ’n kinderoppasser nie, maar ’n paar keer per week kom help ’n huishulp met die skoonmaakwerk. Sy het haar week rondom sosiale uitstappies en tyd saam met klein Jack georganiseer. Ek kan my voorstel dat daar dae is dat die alledaagse taak om ’n kleuter te versorg moeilik is, en dat pa party aande ’n klaerige seuntjie in die arms gestop word sodra hy by die deur instap.

Op ’n vraag oor ’n speelgroepie vir Jack (2½), het sy geantwoord: “Hy sal volgende jaar gaan, net voor hy drie word, en ons dan sal ons daaraan dink om baba nommer twee te kry. Hy is vir so ’n kort rukkie klein en ons is mal oor ons tye saam.” Sy is glad nie haastig nie en sal uiteindelik ’n verskil van drie en-’n-half jaar hê. Intussen geniet sy dit om ’n speelmaat vir Jack te wees – en dis regtig vir hom ook die beste.

Ek het een keer gelees dat die beste gaping drie jaar en drie maande is. Ek het tussen my drie babas ’n gaping van twee jaar en toe vier en ’n half jaar gehad, en ek dink die twee jaar was ’n bietjie haastig en die vier en ’n half jaar ’n bietjie lank. Dis persoonlik, maar toe ek vandeesweek na Jack se ma geluister het, het dit sin gemaak – babasin.

- Meg Faure

Meg small Meg Faure (B.Sc OT, OTR) het aan die Kaapstadse Universiteit as arbeidsterapeut gegradueer en werk al die afgelope 13 jaar spesifiek met neulerige babas en dié met slaap- en voedingsprobleme. Sy is die eienaar van die Baby Sense-maatskappy vir wie sy babaprodukte ontwikkel en is ook medeskrywer van die boeke Baby Sense, Sleep Sense, Feeding Sense en Your Sensory Baby. Sy bied ook Baby Sense-seminare landwyd aan.

Lees Meg se vorige blogs vir Huisgenoot:

4 gemengde seëninge vir nuwe ouers

6 allerbelangrike wenke vir nuwe ma’s