[caption id="attachment_125493" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

Dit beteken ongelukkig hulle is ook meer blootgestel aan voortdurend hoër stresvlakke – stres wat, as dit nie behoorlik beheer word nie, uitputtend kan raak en selfs hul prestasie kan beïnvloed.

Dr. Gillian Mooney, leer-en-studeer-bestuurder by die Onafhanklike Instituut vir Opleiding, die grootste en bes geakkrediteerde verskaffer van hoër onderwys in Suid-Afrika, sê dit is lewensnoodsaaklik dat ouers en ander versorgers die geestelike welsyn van leerders en studente monitor aangesien daar verskeie maniere is waarop stres gemanipuleer word om prestasie te verbeter eerder as om toe te laat dat dit in ’n onnodige struikelblok ontaard.

“Dit is nie ongewoon dat jong mense hierdie tyd van die jaar yslik hoë stresvlakke ondervind nie aangesien die eksamen nader kom,” sê sy en voeg by “dit is belangrik om in gedagte te hou dat stres motiverend kan wees en bestuur kan word”.

Gillian, wat ook langer as 15 jaar ’n sielkundelektor was, sê volwassenes moet verstaan stres is subjektief, en dat dit wat vir een mens stresvol is, moontlik nie vir ’n ander een is nie.

“Stres is jou liggaam se fisieke reaksie op sekere situasies. Jou liggaam het ’n biologiese respons (dit beteken chemikalieë en hormone word vrygestel) om jou te help klaarspeel met ’n stresvolle stimulus. Stres kan ’n invloed uitoefen op die gesondheid van jou liggaam, dié van jou gees, asook op jou gedrag.”

Lees ook: Ouers, só kan jy ’n liefde vir lees by jou kind help ontwikkel

Sy sê hoewel ’n bietjie stres op kort termyn goed is en jou kan help om produktiewer en meer gemotiveerd te wees, sal negatiewe stres angs veroorsaak wat lei tot gevoelens van woede, irritasie en vrees.

“Negatiewe stres kan ook liggaamlike simptome, soos ’n hoofpyn of maagkrampe, veroorsaak. Eksamenangs is ’n soort stres wat oormatige bekommernis oor eksamens (die vrees om geëvalueer te word en die gevolge van die eksamen) behels. Baie studente ly aan eksamenvrees en dit is nie vreemd of moeilik om te verstaan nie.”

Volgens Gillian kan hierdie soort stres maklik beheer word as die student die volgende 10 wenke in gedagte hou:

1. Glo in jouself: As jy sedert die begin van die jaar konstant gewerk het, behoort jy slaggereed te wees en daar is geen rede om jou oormatig te bekommer nie.

2. Moenie volmaak probeer wees nie: Dit is goed om doelwitte te hê, maar hulle moet realisties wees. As jy glo enigiets minder as 100 persent beteken jy het gefaal, skep jy onnodige stres vir jouself.

3. Moenie dinge opkrop nie: ’n Goeie manier om bekommernis en stres te verlig is om iemand op wie jy vertrou en wat ondersteunend sal wees, soos jou ouers, vriende of leermeesters, in jou vertroue te neem.

4. Hou dinge in perspektief. Dit kan op die oomblik lyk asof die eksamen die heel belangrikste ding op aarde is, maar binne die konteks van jou hele lewe vorm dit eintlik ’n baie klein deeltjie. Die lewe gaan die moeite werd wees ten spyte van ’n eksamen. Klop jouself op die skouer omdat jy reeds so ver gekom het.

Lees ook: Kry ’n roetine jou kind te help onthou wat hulle elke dag moet doen

5. Wees proaktief wanneer jy jou probleme takel. As jy sommige dele van die materiaal nie verstaan nie, sal dit niks help om net daaroor te stres nie. Maak liewer ’n afspraak om jou lektor te spreek, gesels met jou klasmaats of hersien ’n ou eksamenvraestel.

6. Kry akkurate inligting: Kyk weer na al die inligting oor die kursus en vra jou lektor. Jy moet weet waaruit die eksamen gaan bestaan, hoe dit nagesien gaan word, waar die eksamen geskryf gaan word en waar die eksamen gaan begin en eindig.

7. Struktureer jou studieplan: Jy moet in gereelde sessies van sowat 50 minute elk studeer en dit moet deur pouses van 10 minute geskei word.

8. Beplan vir die eksamen: Probeer vroeg by die eksamenlokaal aankom. Dra ’n horlosie of maak seker jy weet waar die horlosie in die eksamenlokaal is. Trek lae klere aan sodat jy kan aanpas as jy te warm of te koud kry. Maak ’n lysie van alle materiaal wat jy in die eksamenkamer gaan nodig kry en pak dit in voor jy gaan.

9. Probeer ’n gesonde lewenstyl handhaaf: Jou angsvlakke gaan verhoog as jy moeg en afgemat voel. Jy kan jou uithouvermoë verbeter deur genoeg oefening te kry, gesonde kos te eet en gereelde en voldoende slaap te kry.

10. Vermy die dinge wat jou nie gaan help nie: Probeer om nie die vorige aand en die oggend voor die eksamen te veel koffie te drink nie. Vermy studente wat voor die eksamen te angstig en spraaksaam is. En moenie net voor die eksamen oor kursusmateriaal praat nie.

“As jy jou emosionele benadering tot stres beheer, sal die fisieke respons ook beheerbaar word,” sê Gillian.

“As hulle die tekens van oormatige, onproduktiewe stres gewaar, moet ouers en versorgers die nodige praktiese en emosionele steun tydig verskaf om studente en leerders hul bes te help lewer.”

Ander stories op Huisgenoot.com:

Raad met ’n kind wat net op buitemuurs fokus

Skep ’n roetine vir die skooljaar

Help! My kind onderpresteer

Sal my kind beter presteer in ? enkelgeslagskool of ‘n gemengde een?

Motiveer jou kind wat onderpresteer