Dr. Jolanda Dreyer, ’n beradingsielkundige en opvoedkundige spesialis van Pretoria, gee die volgende wenke.

Hoe berei jy jou kinders daarop voor as ’n troeteldier siek is en binnekort gaan sterf of uitgesit moet word?

Jolanda stel voor dat jy eerder nie kinders te lank voor die tyd van ’n troeteldier se naderende dood inlig nie omdat hulle dikwels nie ’n goeie begrip van tyd het nie, veral wanneer hulle klein is.

“Een dag kan vir hulle soos 'n ewigheid voel en dit kan die traumalading verhoog. Sê hulle hoogstens ’n dag of twee voor die tyd, en sorg dat jou verduideliking eenvoudig is.”

Jolanda stel ’n sin voor soos: “Ore is baie siek; hy gaan waarskynlik nie meer veel langer leef nie omdat sy hartjie te stadig klop/sy longe nie meer werk nie.”

Hoe kan jy jou kinders die rouproses op ’n gesonde manier help aanpak?

  • "Help hulle hul emosies uitdruk deur met hulle daaroor te praat, of laat hulle teken of met klei speel,” sê sy.
  • Die proses kan vir jou kinders makliker gemaak word met oulike leesboeke oor die onderwerp wat vir hul ouderdom gepas is, sê Jolanda. “Kry een wat die gesin se geloofsperspektief en -oortuigings in ag neem.” Sy sê kinders kan selfs hul eie storieboeke maak waarin hulle skryf en vertel oor die troeteldier en wat hulle oor hom of haar kan onthou.
  • Maak ’n collage as julle foto’s van die troeteldier het.
  • Hou ’n simboliese “begrafnis”, sê sy. “Dit is baie belangrik vir kinders om die abstrakte konsep van ’n troeteldier se dood te help verstaan. Klein kinders dink nog baie konkreet en dit help hulle berusting vind.”
  • Wees beskikbaar om te troos en trane af te vee met simpatie, al moet jy dit 20 maal doen, sê sy.
  • Help ook en stem in as hulle kaartjies of blomme na die graffie wil vat.

Hoe praat jy met jou kinders daaroor en verduidelik die situasie vir hulle (veral jonger kinders)?

  • Wees eerlik en erken dat die situasie moeilik is vir jou kinders.
  • Maak seker hulle verstaan dat hul troeteldier ongelukkig nie weer terugkom nie; dis nie tydelik nie.
  • Sorg ook dat die gesprek gepas is vir hul ouderdom.
  • Verduidelik dat die herinneringe aan hul troeteldier nie hoef weg te gaan net omdat die dier self weg is nie.
  • Sê vir hulle hulle kan enige tyd met jou daaroor praat as hulle wil.

Wanneer is dit tyd om bekommerd te raak, en is daar gevaartekens dat jou kind nie die verlies kan verwerk nie en jy hulle by ’n kenner moet kry?

“As jou kind twee tot drie weke ná die dier se dood steeds buitengewoon huilerig is of as daar ’n merkbare verandering in hul uitlewing van emosies is”, stel Jolanda voor jy spreek ’n kenner. Sy sê as jou kind ál aggressiewer, prikkelbaarder, stiller of meer apaties raak, kan jy ook verdere hulp oorweeg.

Dr. Jolanda Dreyer is ’n beradingsielkundige en opvoedkundige spesialis van Pretoria. Kliek hier vir meer inligting en haar besonderhede.