Jy het dalk lus om self te gil en jou hare uit jou kop te trek, maar dit is nie die oplossing nie. Eintlik moet jy verseker dat jou kind veilig voel in jou teenwoordigheid voor jy die woede-aanval takel. Om hulle dus so ver te kry om hulle uit vrees goed te gedra is nie die beste benadering nie. Dit kan boonop hul ontwikkeling strem.

Jy moet liewer die situasie kalm benader en net jou stem so effens verhef om die belangrikste punte tuis te bring. Jou kind moet bewus gemaak word van watter soort gedrag aanvaarbaar is en watter nie. Moenie bang wees om reguit te praat nie; wanneer hulle weier om aandete te eet en iets anders eis, moet jy dit duidelik maak hulle moet dankbaar wees jy het vir hulle die maaltyd gekook en dat daar kinders is wat nie eens elke dag ’n gesonde maaltyd kry nie. Verduidelik in eenvoudige taal sodat hulle dit makliker kan verwerk hoekom dit verkeerd is as hulle nie die kos eet wat jy vir hulle berei het nie. As jy abstrakte metafore gebruik, bemoeilik dit net die saak.

Jy moet liewer die situasie kalm benader en net jou stem so effens verhef om die belangrikste punte tuis te bring.

Die maklike uitweg is om ’n kind sy sin te gee, maar ons beveel dit nie aan nie. Dit beteken net jy leer hulle woedebuie sorg hulle kry hul sin. As hulle eers daardie mag oor jou het, kan jy hulle nie keer nie. Gee liewer jou kleintjie die kans om te sê wat hy dink en om sy gevoelens te verwoord, want dan voel hy bemagtig. Dis ’n beter metode as om sy aandag af te lei met iets wat hy graag wil hê.

Hulle is op stuk van sake klein mensies en dit is hul goeie reg om emosies te voel; hulle ontwikkel trouens elke oomblik van die dag. Maak dus seker jy maak dit duidelik dit is nie hul gevoelens wat verkeerd is nie, maar hoe hulle dit uitdruk, wat stout is.

Dit het niks uit te waai met jou as ouer nie, want hulle sal waarskynlik ander mense by wie hulle baie tyd deurbring, net so behandel; dus moet jy nie hul gewoontes ter harte neem nie. Hulle kan trouens hul geite meer dikwels op jou uithaal omdat hulle weet jy sal altyd daar wees vir hulle en hulle vertrou op jou om dinge reg te stel.

Laastens, moenie dit probeer vermy om te erken dat jy self ook verkeerd was nie. Nadat jy gegil het, kan jy verskoning vra en wys dit was verkeerd om so te maak. So wys jy vir hulle selfs volwassenes kan fouteer.

© Cover Media