Daar is geen kind wat nie een of twee glipsies het nie, veral in die tyd dat kinders begin oorslaan van doeke na self toilet toe gaan. Maar gestel dit gebeur elke aand? En op watter ouderdom moet ’n mens begin bekommerd raak?

Die wetenskaplike term vir bednatmaak is enurese en die toestand word verdeel in twee kategorieë: primêre en sekondêre enurese.

Primêre enurese is as jou kind sedert hy of sy doeke gedra het steeds elke aand die bed natmaak.

Sekondêre enurese is as jou kind vir ses maande of meer reeds droog geslaap het en self wakker geword het om badkamer toe te gaan, maar dan skielik weer die bed begin natmaak.

Dr. Frans Jacob van Wijk, ’n uroloog van die Urologiehospitaal in Pretoria, sê solank ouers dit korrek benader, hoef jy geen bekommernis te hê dat jou kind dalk sielkundige probleme op lang termyn sal hê nie.

Oorsake

Die twee soorte enurese het verskillende oorsake. Primêre enurese kan bloot wees dat die kind baie diep slaap en dan sukkel om wakker te word om badkamer toe te gaan. “Dit kan ook wees dat die kind ’n klein blaas of prikkelbare blaas het,” sê dr. Van Wijk. Nog ’n oorsaak is poliurie, wat beteken dat hy of sy ’n oormaat urine produseer gedurende slaaptyd.

Sekondêre enurese kan wees omdat die kind ’n blaasontsteking opgedoen het, hardlywig is of dalk ’n aangebore gebrek het. Sommige kenners meen dat emosionele trauma of spanning dit ook kan veroorsaak, maar dr. R.A. Campbell, ’n uroloog by dieselfde hospitaal, sê bednatmaak word baie selde sielkundig behandel.

“Sielkundige behandeling word meestal in ’n ondersteunende wyse aangewend,” sê hy.

Daarby sê hy daar is twee groot faktore wat gewoonlik die hoofoorsake is van enurese. “Daar is ’n genetiese faktor. As een van die ouers daarmee gesukkel het, is daar ’n 30 persent-kans dat die kind ook sal. As albei ouers daarmee gesukkel het, is daar ’n 70 persent-kans. Die ander faktor het te doen met die kind se algemene ontwikkeling. As ’n kind sukkel om ander ontwikkelingsmylpale te haal, sal hy dikwels ook sukkel om teen die sosiaal aanvaarbare tyd droog te slaap.”

Wanneer is bednatmaak normaal?

Tot op vier jaar is dit nog baie normaal vir kinders om glipsies te hê. Volgens bedwettingtherapy.com word dit minder algemeen daarna en teen ses jaar kom dit nog net sowat 15 persent van kinders oor. Dr. Campbell sê as die ouers ook daarmee gesukkel het, kan jy die ouderdom waarop hulle begin droog slaap het, as merker gebruik.

Maak só om dit aan te spreek

Dr. Van Wijk gee die volgende raad aan ouers:

  • Bespreek dit rustig met jou kind en herinner hom of haar dat dit heeltemal normaal is.
  • Moenie begin met behandeling voor die kind nie gemotiveer is om saam te werk nie.
  • Begin eers deur die verantwoordelikheid vir die kind te gee met klein takies. Kry jou kind om byvoorbeeld self sy nat klere of beddegoed na die waskamer te neem, herinner hom om nie te veel vloeistof in die aand te drink nie en om te gaan piepie voor slaaptyd. “Dit moet vir die kind self belangrik wees om droog te slaap. Hy moet graag wil uitslaap en gaan kampeer.”
  • Beloon jou kind as hy of sy moeite doen met die probleem of wanneer daar droë nagte is.
  • Nader ’n kenner as: jou kind gemotiveerd is en daar nie verbetering binne drie maande is nie, jou kind skielik die bed begin natmaak nadat hy ses maande of langer droog geslaap het, en as hy in die dag ook glipsies begin kry.

Behandeling

’n Kenner sal dalk enige van die volgende aanbeveel:

  • Enurese alarm: ’n apparaat wat afgaan wanneer ’n klein sensor in die onderklere nat word. Dit stimuleer die onderbewuste om te registreer as die blaas vol is.
  • Medikasie om die volume urienproduksie in die nag te verminder.
  • Medikasie om ’n prikkelbare blaas te ontspan.

Moet nooit

  • Die oortrek van die bed of klere in die was gooi as straf aanwend nie.
  • Jou kind op enige manier straf oor hy sy bed natmaak nie.
  • Weier dat jou kind vloeistowwe inneem na byvoorbeeld vieruur die middag nie. “As hy dors is, laat hy water drink. Beperk liewer die hoeveelheid as om dit te weier,” sê dr. Campbell.
  • Jou kind elke twee ure wakker maak om te gaan piepie nie. Dit versteur jou én sy slaap.
  • ’n Doek aansit tot jou kind dit self regkry nie.

Ekstra bronne: bedwettingtherapy.com, webmd.com, kidshealth.org