Jou gr. 4-kind moet ’n skoolprojek oor die sonnestelsel inhandig. Klein Richard het helder papier-maché-balle wat hy op ’n skinkbord op dun draadjies staanmaak in gedagte, maar jy sit jou voet neer: ’n 3D-drukker moet ingespan word – jy sien reeds die eindproduk in jou geestesoog.

Verskillende vlakke en ’n agtergrond wat dit laat lyk of jy deur ’n teleskoop kyk.

Balle van gom en papier sal nie deug nie. Nie vir jóú bloedjie nie.

Maar

“As ouers te veel inmeng, meng jy in in jou kind se proses om planne te aktiveer,” maan Tharien Aucamp, arbeidsterapeut van Speel en Leer in Vanderbiljpark, waar kinders se emosionele intelligensie, sosiale emosionele vaardighede en motoriese vaardighede onder meer aangespreek word.

“Ouers kan betrokke wees, maar dit hang af waar hulle betrokke is,” sê sy.

“Pappa en Mamma se idees saam met Boetie of Sussie s’n sorg dikwels vir interessante eindprodukte. Dit is omdat ons sintuie ons almal dieselfde inligting gee, maar ons dit verskillend intrepreteer. Vandag se kinders is onder baie druk om te presteer en daarom voel ouers hulle wil help.”

Lees ook: Help, my kind is bang vir ’n skoolvak!

Meng ouers te veel in, kan dit tot ongelukkigheid lei, soos dat Boetie ’n vloermoer gooi.

Dit lei ook tot ongelukkigheid aan Pa se kant, maar die punt is dit was nooit die kind se prentjie nie.

“Ons sal nie sê ’n ouer moenie betrokke wees nie, maar dit hang af hoe hulle betrokke is en watter rol hulle speel,” sê Tharien.

“Dit is baie belangrik vir jou kind se groei en ontwikkkeling dat hulle hul eie prentjie het van wat hulle wil doen. In arbeidsterapie word daarna verwys as denkbeeldvorming.”

Jackie Collins, arbeidsterapeut wat saam met Tharien by Speel en Leer betrokke is, sê dit vorm die basis van alle nuwe aktiwiteite en leer.

“Ons almal dink en leef in prentjies, maar ons prentjies is nie almal dieselfde nie. Ons prentjies word beïnvloed deur ons sensoriese stelsels, maar ook ons blootstelling en kultuurverskille.”

Jackie sê dit is belangrik dat ouers by skooltake betrokke is en bystaan as die kind se plan en stappe nie suksesvol is nie, maar moenie vir jou kind sê om nie dit of dat te doen nie.

Ouers kan help deur probleme te help oplos en krities te redeneer hoekom dit nie werk nie.

Soms loop emosie saam met die proses van frustrasie en ongeluk, maar dit is egter ook nodig, want ons emosies vorm die basis van ons interne motivering en is wat jou kind nodig het om sy leerproses te laat vorder.

“Dit is belangrik dat die kind self die prentjie vorm en met ’n plan en stappe vorendag kom. Dit bevorder kreatiwiteit en probleemoplossing,” sê hulle.

Lees ook: Vyf stappe om vir die finale eksamen voor te berei

In huiswerk en take is terugvoer en aanpassings Pappa en Mamma se rol; nie denkbeeldvorming en uitvoering nie.

“Dit is ook nodig om fantasieprentjies saam met jou kind te verken en op dié manier die realiteit binne die proses voor te hou. Dit is beter as om net terugvoer te gee dat Boetie se vuurpyl, wat hy wil laat vlieg, onrealisties is.

“Vra in die proses vrae soos wie, wat, waar, wanneer en hoekom om jou kind beter denkbeeldvorming te help ontwikkel. Geniet die fantasie en ontwikkel die werklikheid saam deur die proses van uitvoerende funksionering.”

Jackie en Tharien sê dit is die proses wat jou kind lewenslank gaan gebruik om nuwe take aan te leer en probleme op te los.

“Ons kinders kort nie nog ’n boom vir ondersteuning nie, maar eerder net ’n geduldige skaduwee wat die regte vrae vra en leiding gee waar nodig.”

By baie skole word skooltake nie meer tuis afgehandel nie, juis om te keer dat ouers die projek oorneem.

Carina Hollander, departementshoof van opvoedkundige leiding by die Laerskool Elarduspark in Pretoria, sê hulle het in die verlede dikwels projekte huis toe gestuur, maar dan kom die ouers se projek terug skool toe; daarom bring kinders deesdae net die nodige materiaal en moet hulle die projek in die klas kom doen.

“Die kinders ontvang die kriteria, materiaal en waarvoor punte met die assessering toegeken word, so hulle weet presies wat van hulle verwag word,” sê sy.

Ander stories op Huisgenoot.com:/

Raad met ’n kind wat net op buitemuurs fokus

Skep ’n roetine vir die skooljaar

Help! My kind onderpresteer

Sal my kind beter presteer in ? enkelgeslagskool of ‘n gemengde een?

Motiveer jou kind wat onderpresteer