Ons ouerskapsblogger Meg Faure bekyk die algemeenste stukkies raad wat sy het vir ouers wat om hulp kom aanklop. 

EK HET vandag deelgeneem aan ’n inbel-TV-program wat wonderlike raad aan tuisblyma’s bied. Die paneel het bestaan uit drie lede van die span van Johnson’s se Babaseminare en die glansma Zuraida Jardine. Tussen die vier van ons het ons gesels en vrae beantwoord.

Daar was ’n stortvloed vrae van sowel die gasvrou as ma’s en ons het ’n uur lank raad uitgedeel. Daar was so baie vrae omdat, soos elke eerlike ma jou sal vertel, die meeste ma’s vir weke en selfs maande ná hul baba se geboorte onseker voel en vreesbevange dat hulle dalk iets verkeerd doen.

Wat sê ons, die raadgewers, dus aan ma’s wanneer hulle raad vra? Daar is drie antwoordkategorieë:

  • Die swart-en-wit-antwoord doen hom voor wanneer die antwoord voor die hand liggend is. As dit ’n gesondheidsvraag is en ons nie die baba gesien het nie, antwoord ons “Raadpleeg jou dokter.” Of soms is dit ’n vraag waaroor daar al deeglike navorsing gedoen is en waarop die antwoord onaanvegbaar is, soos “Moet my baba op sy rug of magie slaap?”. Dan sou dit onverantwoordelik wees om van die navorsing af te wyk.

  • Dan is daar die antwoord met vele moontlikhede. Dit werk goed as daar ’n groot verskeidenheid moontlikhede is waaraan ’n mens moet dink, soos “Wanneer moet ek vaste kos begin gee?” of “Wanneer is dit die beste tyd om ’n boetie of sussie te kry?” Hier help dit dikwels om deur die voor- en nadele te praat en mense te lei om ’n goeie besluit vir hul eie situasie te neem.

  • En uiteindelik is daar die “wat dink jy?”-antwoord. Dié antwoord is natuurlik ’n vraag en klink op die oog af heeltemal sinloos – hoekom sal die ma nou vra as sy klaar die antwoord ken? Maar dis hoegenaamd nie sinloos nie. Ek sal selfs sê dis die beste antwoord. Ek kan jou nie vertel hoe dikwels ek al daardie vraag teruggevra en die ma my die wysste antwoord gegee het nie – baie wyser as wat ek ooit sou kon gee.

Dis rede is dat die antwoord op die meeste ouerskapsvrae by jou self lê – dit word intuïsie genoem. Dis die intuïsie wat begrawe lê onder al daardie lae van menings, stukkies ongevraagde raad en waansinnige stellings waarmee ouers gekonfronteer word as hulle op die net na antwoorde op die grootste ouerskapsvrae soek. So diep is daardie lae dat ’n ma dink sy het nie die vaagste benul van die antwoord nie. Maar vra net: “Wat dink jy?” en sy antwoord met haar wyse moedersinstink. Sy het net ’n bietjie van ’n elmboog in die sy nodig gehad om haar innerlike stem te hoor.

Ja, dis my werk om raad uit te deel en ek kan en ek doen dit. Maar ek leer die meeste en my raad is die akkuraatste as ek net die eenvoudige vragie vra: Wat dink jý?

- Meg Faure

Meg small Meg Faure (B.Sc OT, OTR) het aan die Kaapstadse Universiteit as arbeidsterapeut gegradueer en werk al die afgelope 13 jaar spesifiek met neulerige babas en dié met slaap- en voedingsprobleme. Sy is die eienaar van die Baby Sense-maatskappy vir wie sy babaprodukte ontwikkel en is ook medeskrywer van die boeke Baby Sense, Sleep Sense, Feeding Sense en Your Sensory Baby. Sy bied ook Baby Sense-seminare landwyd aan.

Lees Meg se vorige blogs vir Huisgenoot:

Hoe lank moet jy wag voor baba no. 2?

4 gemengde seëninge vir nuwe ouers

6 allerbelangrike wenke vir nuwe ma’s