Dis die plek waar jou voorkoms jou die sosiale leer kon help klim en breinkrag beteken het jy is ’n bleeksiel wat met jou neus in boeke boer.

En hoewel die meeste mense nie kan wag om die vyf jaar op hoërskool agter die rug te kry nie, het ’n voorste sielkundige die saak ’n bietjie dieper bekyk en gevind ons gewildheidsvlak op hoërskool kan ons vir die res van ons lewe beïnvloed.

Mitch Prinstein, skrywer van Popular: The Power of Likability in a Status-Obsessed World, glo ons manier van dink word tydens ons skooljare gevorm omdat ons in daardie tyd deur puberteit gaan. Dis ook wanneer die omvangrykste breinontwikkeling plaasvind.

“Ons ervaring in daardie kritieke jare kan die brein beïnvloed waarmee ons vir die res van ons lewe moet leef, en dis wat ons tienerervaring wat gewildheid betref soveel mag gee,” skryf Mitch.

hoërskool pryk.bo aan die lys van genadelose, moeilike omgewings. Foto: Pexels

Hy gebruik die voorbeeld van as jy in iemand vasloop en jammer sê, selfs al is dit nie jou skuld nie.

Jou instinktiewe reaksie sal óf wees om jammer te sê óf jy sal omdraai en vir die mens sê hulle moet kyk waar hulle loop.

Jou reaksie hang af van aan watter kant van die spektrum jy jou tydens jou skooljare bevind het. 

Skool was waar jy die eerste keer die sosiale opset bekyk en bepaal het watter reaksies in spesifieke situasies tot ’n beter uitkoms sal lei. En jou brein het dikwels aan hierdie oortuigings as ’n oorlewingsmeganisme vasgeklou.

Mitch verduidelik verder die manier hoe jy vandag in sosiale situasies optree, word beïnvloed deur hoe jy op hoërskool met jou portuurgroep oor die weg gekom het – ongeag waar jy jou in die skoolrangorde bevind het.  

Die bevinding geld egter nie vir almal nie. Party mense ontgroei die onbeholpe, onderdanige tienerpersona, of raak volwasse en tree anders op as die afknouerige hoërskoolleerders wat hulle was.

Bronne: metro.co.uk, hellogiggles.com