Ons het met die Pretoriase psigometris Caitlin Meyer gesels om te hoor wat haar wenke is.

Verstaan die vrees, sê Caitlin.

“Jy moet eers bepaal of jou kind vrees of angs ervaar,” sê sy. As jou kind die skoolvak probeer vermy, dui dit tipies op vrees terwyl angs voorkom wanneer die kind nie die vak vermy nie, maar steeds vir lang periodes gespanne is daaroor.

Sy sê ’n kind se vrees of angs oor ’n vak gaan dikwels gepaard met of hulle sukses behaal of misluk.

“Gesels met jou kind se onderwysers en vind uit hoe jou kind in die klaskamer vaar. As daar beduidende tekens is dat jou kind sukkel, kan jy die volgende oorweeg.

-       Tutors wat help met ekstra vakke en individuele aandag kan gee.

-       Ekstra lesse en ekstra handboeke.

-       Gee vir jou kind hulpbronne om hulle die kans te gee om die moeilike vak te troef.

Spreek die probleem só aan.

Erken dat die vak uitdagend is. Laat jou kind neerskryf waarvoor hulle bang is en hoekom die vak vir hulle moeilik is.

Verken die probleem en help jou kind om bekommerde gedagtes eerder in slim gedagtes te omskep deur eerder realisties oor die kwessie te dink as emosioneel daarop te reageer. Bly kalm en integreer die uitdagende vak in jul daaglikse roetine om dit minder intimiderend te maak, stel Caitlin voor.

“As jou kind sukkel met breuke, kan jy byvoorbeeld hul pizza in agt skywe sny om hulle te help verstaan.”

Dié tipe voorbeelde, waarmee jou kind kan identifiseer, behoort te help.

Reageer op ’n manier wat jou kind ook help om meer gesond op die probleem te reageer. Jou reaksie op die saak sal ’n voorbeeld stel vir jou kind. Pleks daarvan dat jy ook emosioneel en gespanne raak, moet jy probeer om kalm, selfversekerd en vasberade te wees.

Oefening is die geheim om iets uitdagends makliker te maak. Leer jou kind dat, hoe meer hulle daaraan blootgestel word, hoe eenvoudiger sal dit raak. Jy kan hul gunsteling sportsoort as ’n voorbeeld gebruik om vir hulle te verduidelik hoe iets makliker maak namate jy dit meer doen.

Cailtin Meyer is ’n psigometris van Pretoria. Kliek hier om haar te kontak.