Dit is laatmiddag en jy sit nog agter jou lessenaar, besig met ’n pak merkwerk wat al ’n week lank vir jou wag. Wanneer jy by Pieter se boek kom, sak jou gemoed. Jy is al raadop met hom wat aanhoudend letters omkeer of sommer weglaat nie – tekens dat hy dalk disleksie het.

Moenie moed opgee nie, sê Sandra Stark, ’n pediatriese optometris van Vereeniging. Jy kan met klein aanpassings in die klaskamer leerders met disleksie help.

Wat is disleksie?

Die term ‘disleksie’ is saamgestel uit twee Griekse woorde wat “swak lees” beteken. Spel en skryf word gewoonlik ook daarby ingesluit.  Die algemeenste oorsaak vir disleksie is vaardighede soos konsentrasie en die vermoë om dit wat jy sien te kan interpreteer, waarop lees en spel gebou word, wat nie behoorlik ontwikkel is nie, verduidelik Susan du Plessis van Edublox se hoofkantoor in Pretoria.

“Disleksie is nie ’n gestremdheid nie, maar bloot ’n onvermoë wat verband hou met die vaardighede wat lees en spel beïnvloed.”

Sandra glo egter disleksie is ’n onsigbare gestremdheid wat nie ontgroei kan word nie.

Een uit elke tien Suid-Afrikaners ly aan disleksie, wat beteken sowat 5 miljoen mense in skole en in die werkplek sukkel met dié leer- en leesprobleem.

Mense het lank verkeerdelik geglo die brein is onveranderlik en dat disleksie daarom ook ongeneeslik is. Hoewel daar nie ’n ‘kuur’ is nie, kan iemand deur opvoedkundige intervensie geleer word om die probleem te oorkom. “Indien die oorsaak van die probleem aangespreek word, kan disleksie oorkom word,” sê Susan.

Sandra beklemtoon egter jy kan nie van disleksie ‘ontslae’ raak nie, maar met hulp kan die kind met disleksie hul volle potensiaal bereik.

Nuwe toets vir disleksie

Sandra het saam met John Griffin, ’n professor in optometrie aan die Kollege vir Optometrie van Suid-Kalifornië, ’n nuwe toets ontwikkel waarmee disleksie gediagnoseer kan word.

Die Stark-Griffin-metode is die eerste gestandaardiseerde diagnostiese toets waarmee Suid-Afrikaners getoets kan word om die soort disleksie en die graad daarvan te bepaal,” sê sy. Professionele persone wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer is, mag die disleksietoetse uitvoer. (Vir ’n volledige lys van mense wat die toets mag uitvoer, besoek gerus die webwerf www.disleksie.co.za).

Raad vir onnies

As ’n kind in jou klas disleksie het, is dit belangrik om so gou moontlik intervensie te kry. “Sodoende hoef disleksie net ’n tydelike probleem te wees,” sê Susan.

Sy meen die skrif is nie aan die swartbord indien ’n kind met disleksie gediagnoseer word nie. Disleksie is nie ’n siekte waarmee ’n kind hoef saam te leef nie – daar is hulp. (Besoek die webwerf www.edublox.co.za om meer uit te vind oor opvoedkundige intervensie.)

Intussen is daar klein aanpassings wat onderwysers kan doen om kinders met disleksie se ervaring in die klaskamer te vergemaklik. Onderwysers moet byvoorbeeld nie van kinders met disleksie verwag om hardop in die klas te lees of op die bord te skryf nie, sê Sandra.

Sy benadruk ’n multi-dissiplinêre aanslag van onderrig sal kinders met disleksie die meeste baat. Dit beteken kortweg ’n kind leer makliker as hulle meer as een sintuig kan gebruik. “Die meeste onderrig gebruik sig of gehoor. Dit kan vir ’n disleksiese kind moeilik wees om een of albei dié sintuie te gebruik,” verduidelik sy.

Hou die volgende raad in gedagte wanneer jy lesse voorberei, raai Sandra aan:

-          Maak gebruik van visuele hulpmiddels

-          Moedig spontane deelname aan

-          Laat leerders toe om te eksperimenteer

-          Gebruik onkonvensionele onderrigmetodes

-          Raak aan die leerders en loop tussen hulle deur

-          Gebruik nie-verbale tekens soos liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en gebare wanneer jy klasgee

-          Gebruik musiek, stories en rolspel

Disleksie dalk die gevolg van swak leesontwikkeling

’n Nuwe studie wat vroeër vandeesmaand in die Joernaal van Neurowetenskap gepubliseer is, bevind die oorsaak van disleksie is dalk nie ’n disfunksie in die brein nie, maar eerder die gevolg van swak leesontwikkeling.

Susan sê een vinnige tegniek wat onderwysers kan toepas is om die spasiëring tussen letters en woorde op die bord en op werkvelle en vraestelle te vergroot. “Dit help dislektiese kinders om gemiddeld 20 persent vinniger te lees en hulle maak die helfte minder foute.”

Kontak Sandra Stark by sandra@sanoptom.co.za of besoek www.disleksie.co.za

Kontak Susan du Plessis by susan@edublox.com of besoek www.edublox.co.za

KORREKSIE: In die artikel ’n Lewe met disleksie (Huisgenoot 16 Januarie 2014) is daar verkeerdelik in ’n foto-onderskrif genoem dat Edublox remediërende lesse aanbied. Edublox bied nie remediërende onderwys nie, maar wel opvoedkundige intervensie, wat breinoefeninge-, lees-, spel- en begripsopleiding behels.