Die lewe is vol groot en klein teleurstellings. Hoe graag ons ook al ons kinders daarteen wil beskerm, dit is nie altyd moontlik nie. En eintlik is dit goed so, sê Claire O’Mahony, ’n opvoedkundige sielkundige van Sandton. Teleurstelling is ’n deel van grootword. As ons ons spruite nou al kan leer om teleurstelling te bowe te kom, sal hulle dié vaardigheid vir die res van hul lewe kan gebruik. Dit sluit in dat hulle moet besef dis nie die einde van die wêreld nie en dat hulle hul eie emosies leer verstaan, positief bly en planne beraam om ’n herhaling te probeer voorkom Hier is Claire se raad:

Jou laerskoolkind

  • Erken jou kind se teleurstelling. Help hom om sy gevoelens in woorde om te skakel deur byvoorbeeld te sê: “Jy lyk hartseer. Is jy dalk teleurgesteld oor jou eksamenuitslae?”
  • Skep ’n ruimte waar jou kind veilig voel om sy gevoelens te deel. Dis belangrik om van jongs af goeie kommunikasiebande met jou kind te vestig. So sal hy makliker sy emosies kan uitdruk.
  • Help jou kind om sy teleurstelling in perspektief te stel: Niemand is volmaak nie en almal maak foute. Leer jou kind as hy sy bes gedoen het en tevrede is met sy poging, is dit al wat saak maak.
  • Leer jou kind teleurstelling is ’n goeie geleentheid om te groei en te verbeter. Stel vrae wat hom kan leer om anders daaroor te dink, soos: “Wat kan ek volgende keer anders doen?” of “Wat het ek hieruit geleer?”
  • Bly positief. Stel die voorbeeld deur optimisties te wees en te bevestig jy glo in sy vermoë om weer te probeer.
  • Stel saam doelwitte vir die volgende toets of eksamen. Jy kan selfs belonings gebruik om jou kind aan te spoor. Maar moet hom nie ’n PlayStation beloof as hy in een toets goed vaar nie; moedig hom aan om deurlopend hard te werk vir ’n doelwit wat hy self ook wil bereik.

Jou hoërskoolkind

  • Moenie neerhalend wees nie. Erken jou kind se teleurstelling en moedig hom aan om daaroor te praat.
  • Vra hom hoe hy teleurstelling verstaan. Voe hy hy het homself, sy onderwysers of sy ouers in die steek gelaat? Dit sal jou help verstaan hoe om jou kind te help om deur sy teleurstelling te werk.
  • Probeer vasstel wat die oorsaak van sy swak uitslae is. Is dit ’n akademiese probleem wat met ekstra lesse opgelos kan word? Of ly jou kind dalk aan angs sodat hy onder druk nie so goed kan vaar nie? Moenie bang wees om professionele hulp in te roep indien nodig nie.
  • Verduidelik dat mislukkings ons help om raak te sien waarin ons goed is. Jou kind het dalk swak gevaar in wetenskap, maar sy rekeningkundepunte is uitstekend. Steun jou kind deurlopend deur positief te bly.
  • Tieners kan geneig wees tot selfkritiek soos “Ek’s dom; ek kan niks reg doen nie”. Herinner jou tiener daar is ’n verskil tussen in ’n toets misluk en in die lewe misluk.
  • Mislukking is nie die einde van die wêreld nie. Bespreek jou kind se verwagtinge en help hom korttermyndoelwitte stel sodat hy dit aan die einde van die jaar kan bereik.
  • Wees bereid om jou kind se vordering deurlopend te meet. As julle deur die loop van die kwartaal sy vordering en toetsuitslae saam bespreek, sal hy weet of hy op die regte spoor is of dalk nog harder moet werk. So weet hy wat om te verwag nog voor hy sy volgende rapport huis toe bring. S

- Shané Barnard

Ekstra bronne: psychologytoday.com, illinoisearlylearning.org

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.