Verhuising kan vir almal spanningsvol wees – veral vir kinders. Die kinders se ouderdom kan dit  nog moeiliker maak en veral adolessente kan sukkel om in ’n nuwe omgewing aan te pas nadat hulle alles moes agterlaat.

“Adolessente probeer gewoonlik hul eie identiteit vorm en hulle van hul gesin onderskei. Daarom is dit ’n ingewikkelder scenario, want hulle kan voel hulle het ’n sosiale sirkel gevestig en het ’n groep vriende van wie hulle hou en wat hulle vertrou,” verduidelik Mark Southwood, ’n kliniese sielkundige.

’n Verhuising kan ook moeiliker wees vir ’n enigste kind.

“Dit is omdat ’n enigste kind nie die steun van sibbe het nie,” sê Claire O’Mahony, ’n opvoedkundige sielkundige.

Die goeie nuus is dat daar goed is wat jy as ’n ouer kan doen om die aanpassing makliker te maak.

“Oop kommunikasie is belangrik om die oorgang minder stresvol te maak,” sê Claire. Sy stel voor jy bespreek die verhuising met die kinders ’n paar maande voor dit gebeur en verduidelik vir hulle waarom julle moet trek.

“Dit kan skadelike gevolge hê om vir jou kind te probeer jok of hulle te ‘verras’. Kinders is in staat om inligting te waardeer en verwerk as dit vir hulle gegee word op ’n vlak wat hulle kan verstaan,” sê Liana Kruger, ’n opvoedkundige sielkundige. Sy voeg by jy moet die kind of kinders net nader wanneer jy seker is julle gaan wel trek. Dit is ook deurslaggewend hoe jy hulle benader.

“Sluit (positiewe) woorde in wat jou kind sal verstaan. Moet byvoorbeeld nie sê julle trek, want pappa het sy werk verloor en julle het die geld nodig nie. Sê eerder pappa het ’n nuwe en opwindende geleenthed gekry om iets anders by die werk te doen en julle is almal deel van die avontuur, want julle gaan saam met hom,” voeg Liana by.

Mark stem saam. “Laat hulle verstaan die verhuising moet en sal plaasvind, maar julle wil dit so maklik moontlik vir hulle maak.”

Terselfdertyd is dit belangik om aan hul gevoelens erkenning te gee. As ’n ouer moet jy verstaan hulle kan bang en angstig wees.

“Hulle sal wil weet hoekom, hoe en waarom, en of julle ooit sal terugkom. Jy het dalk nie al die antwoorde op die vrae nie, maar probeer ’n mate van gerusstelling bied deur ten minste vir hulle tyd te gee om hul bekommernisse te opper en deur genoeg inligting te verskaf sodat hulle nie bang en verward voel nie,” sê Liana. Ouers moet ook nie die bekommernisse ignoreer nie.

“Laat hulle voel hul mening maak saak, al het hulle geen sê oor die verhuising nie. Luister na hul bekommernisse en besorgdhede en probeer jou bes om hulle gerus te stel or steun te bied waar van toepassing.”

Om soveel moontlik navorsing oor die nuwe gebied te doen, kan ook die kinders makliker laat aanpas. Vind soveel moontlik uit oor die nuwe buurt en skool. Bied hulle dieselfde sportaktiwiteite as waaraan jou kind voor die verhuising deelgeneem het? As die kinders oud genoeg is, stel Claire voor jy moedig hulle aan om ook die nuwe gebied na te vors en betrek hulle sodoende by die hele proses. Om hulle byvoorbeeld hul nuwe kamer se kleur te laat kies, sal hulle ook opgewonde oor die nuwe blyplek maak.

“Om hulle opgewonde te maak, kan insluit om by hulle te gaan sit en kyk watter geleenthede die nuwe stad bied wat nie in die oue beskikbaar is nie,” stel Mark voor.

Ná die verhuising sal dit ’n rukkie neem voor die kinders by die nuwe plek aanpas.

“Dit sal die meeste kinders drie tot vier maande neem om in hul nuwe omgewing aan te pas. Jy kan onttrekkingsimptome en akademiese agteruitgang bemerk. As dit ná ’n paar maande  voortduur, is dit die beste om professionele hulp te kry,” sê Claire.

Deur Samantha Luiz