Dit het twee maande geduur, maar die onderwyseres het seker gemaak dat haar 100 leerders elkeen ’n handgeskrewe brief van haar ontvang waarin sy hulle individueel vertel wat hulle spesiaal maak.

Die onderwyseres, Brittni Darras, van die Amerikaanse deelstaat Colorado, het met een van die ouers op dié spesifieke aand gesels.

Min het sy geweet wat die ouer haar sou vertel oor een van haar leerders se langdurige afwesigheid uit die klaskamer.

“Die dogter – ’n vriendelike, intelligente, pragtige, gedrewe jong vrou – het nie net beplan om haar eie lewe te neem nie, maar sy was reeds in die proses om dit te doen,” het Brittni op Facebook gedeel.

“Gelukkig het die polisie ’n Safe 2 Tell-boodskap gekry, ingebreek en haar gekeer.”

Safe 2 Tell is ’n organisasie van Colorado by wie kinders naamloos dreigemente, geweld en ander gevaarlike situasies kan aanmeld. In die dogter se geval was die gevaarlike situasie haar poging tot selfdood.

“Sy was gereed om die wêreld te groet,” het Brittni geskryf. “Sy het al haar sosialemediarekeninge gesluit en afskeidsbriewe gelaat.”

Brittni het die ontstelde ouer gevra of dit in die haak sou wees om ’n brief aan die dogter te rig. Die ouer het gesê sy sou dit opreg waardeer.

Toe die dogter die brief lees, het sy verstom gevra: “Hoe kan iemand sulke gawe goed oor my sê? Ek het nie gedink iemand gaan my mis wanneer ek weg is nie.”

Brittni sê sy het tot die besef gekom dat daar in alle waarskynlikheid nog van haar leerders is wat opbouende versekering kort.

in die daaropvolgende twee maande het sy toegewyd ’n handgeskrewe brief aan elkeen van haar leerders gerig waarin elkeen vertel is wat spesiaal en uniek aan hulle is.

brittni briewe 1

“Selfdood neem gedurig toe en kom ál meer algemeen voor. Ek dink dis dit ’n regstreekse gevolg van al die druk wat ons op kinders plaas: om suksesvol te wees, die beste in hul klas/sport/ensovoorts te wees,” het sy geskryf.

“Ons moet onthou elke mens is uniek, en dit is wat hulle spesiaal maak. Ons moet dit vier; nie probeer om dit te verander nie. Saam kan ons ’n verskil maak, en ons kan lewens red,” is die inspirerende onderwyseres se boodskap.

brittni briewe 2

Tawnye Kanumuri het in reaksie op Brittni se boodskap geskryf: “Jou storie het my so aangeraak. Ek is baie bly jy ruim tyd in vir jou leerders. Dit kan dalk hul enigste kans wees om hul lewe uit ’n ander oogpunt te sien.”

Bree Wuthier, een van Brittni se leerders wat ’n handgeskrewe brief ontvang het, sê sy was verbaas oor die lengte van die brief.

“Gewoonlik skryf mense net een of twee sinne, maar (die brief) was ongelooflik. Sy het so ’n fyn oog; sy kyk na dinge en luister werklik na haar leerders,” het Bree aan koaa.com gesê.

Brenda Nurre het die volgende op Brittni se Facebook-blad gedeel:

“Ek wens ons het meer onderwysers soos jy in ons skole gehad. Ek praat uit ervaring, want ons het byna ons dogter verloor.

“Ons as ouers was verstom, want sy het nooit tekens van depressie getoon nie. Vir hulle is ons ‘net die ouers’ en ons kinders dink ons is te oud om te verstaan waardeur hulle gaan.

“As ons hulle vertel hoe lief ons vir hulle is of hoe trots ons op die mens is wat hulle geword het, dink hulle dit word van ons ‘verwag’ om dit te sê. Om ander volwassenes te hê wat hulle kan vertrou, is voorwaar ’n groot seën.

“Dankie dat jy die moeite doen en na elkeen van jou studente uitreik!”

Skokkende statistiek wat deur die Sentrums vir Siektebeheer en –voorkoming bekendgemaak is, dui daarop dat 17 persent van hoërskoolleerders in dié staat verlede jaar selfdood oorweeg het. Agt present het daadwerklike pogings aangewend.

In Suid-Afrika word die nasionale selfdoodvoorkomingslyn sewe dae per week, 365 dae per jaar van agtuur soggens tot agtuur saans beman. Bel 0800-567-567 as jy in nood verkeer.?

Bronne: koaa.com, uk.news.yahoo.com, fox21news.com

Ook op Huisgenoot.com

Sadag-hulplyn: Dis hoe ’n vriendelike, empatiese stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn iemand se lewe kan red

Hierdie vrae meen kenners kan jou help om jou ware self te vind

Ouers in trane oor jong Asperger-lyer se roerende gedig

Jou hond kan ook aan depressie ly