In talle skole in Suid-Afrika word ’n afknouery is ’n “normale” deel van grootword beskou. Maar daar is niks normaals daaraan nie, nes daar niks normaals aan molestering of mishandeling is nie, sê Des Brown, ’n direkteur van BullyproofSA.

Wanneer ’n kind op die punt kom dat hy ’n vuurwapen skool toe neem, is hy al so kwaad dat hy homself wil seermaak of om die lewe bring of sy woede op die afknouers wil uithaal.

“In dié geval dink ek dit is 100 persent die skool se skuld,” sê Des.

“Iemand moes al agtergekom het die situasie vererger. Omdat die seun snaaks loop, moes die onderwysers op hul hoede gewees het dat hy ’n teiken vir afknouers kan wees. Die situasie moes lankal hanteer gewees het.”

Tog sê Des baie onderwysers word nie opgelei om die erns te verstaan van klagtes oor afknouers nie of hulle wil net nie betrokke raak nie. Hulle wil ook nie altyd erken daar is probleem met ’n afknouery in die skool nie, want dan moet hulle iets daaraan doen en hulle weet nie wat nie.

Des sê wanneer ouers bewus raak dat hul kind afgeknou word, moet hulle dadelik ingryp, want teen die tyd dat hulle daarvan hoor, is die situasie gewoonlik al baie erger as wat die kind sal erken. Ouers moet dadelik die skoolhoof en ook die onderwysdepartement nader. ’n Klag kan ook by die polisie ingedien word wanneer ’n kind liggaamlik afgeknou word, want dan is dit aanranding. Dit is ook belangrik om rekord te hou van die afknou-voorvalle.

Al moet afknouers aangevat word, moet die doel van die dissipline rehabilitasie wees, sê Des.

Bullyproof is ’n organisasie wat programme by skole en vir ouers aanbied om slagoffers van afknouery te help, maar ook om nog afknouery te keer en die kultuur onder kinders te verander dat dit aanvaarbaar is om ander af te knou.

WENKE Onderwysers aan ’n slagoffer:

  • Hulle moet vir die kind sê hy/sy kan gerus enige tyd met hulle gesels;
  • Hulle moet dit duidelik aan die kind maak dat hulle die klag ernstig opneem en die skoolhoof daarvan sal vertel, indien nodig;
  • Daar moet duidelike riglyne wees oor hoe kinders ’n klag kan indien, ook ’n bussie waarin hulle ’n klag naamloos kan ingooi;
  • Dit is belangrik om dadelik aandag aan die klag te gee. As die afknouer weet die onderwyser gaan iets daaraan doen, kan dit keer dat hy hom verder daaraan skuldig maak.
  • Onderwysers aan ’n afknouer:
  • Die oortreder moenie persoonlik afgekraak word nie, maar sy optrede moet aandag kry;
  • As die gedrag nie ophou nie, moet die afknouer berading kry en weet hy kan geskors word;
  • Afknouers moet individueel aangepraat word en nie in ’n groep nie;
  • As daar ander oorsake vir die afknouery is soos geweld by die huis of mishandeling, moet ’n professionele persoon se hulp ontbied word om die saak te hanteer.
Onderwysers aan ouers van boelies:
  • Die klem moet wees dat die kind swak gedrag toon; nie dat hy ’n afknouer is nie;
  • Die onderwyser moet ’n vertrouensverhouding met die ouers opbou sodat die ouers sal weet die onderwyser gee om en wil nie net die kind straf nie.
  • Onderwysers aan ouers van afknou-slagoffers:
  • Die onderwysers moet dit duidelik maak hulle wil met die ouers saamwerk om die kind te help;
  • Die onderwysers en ouers moet saamstem oor die strategie wat hulle gaan volg om die kind te help.
  • Ouers aan skool:
  • Die ouers moenie aanval nie, want dan word die kind as die probleem beskou pleks van die afknouer.
  • Die ouers moet na die onderwyser gaan met ’n oplossing vir die probleem;
  • Die ouers en skool moet saamwerk;
  • As die ouers nie hulp by die skool kry nie, kan hulle vra die onderwysdepartement moet ingryp.
  • Ouers kan ’n steungroep begin en dan saam die hoof gaan spreek. Die hoof sal gewoonlik ’n groep ouers ernstiger opneem as ’n enkele ouer.
  • Die skool moet ’n teen-afknouery-beleid hê. Daarin moet hulle duidelik uitstippel wat hulle as ’n afknouery beskou en wat nie.

Lees die artikel, Boelies het my laat knak, in die Huisgenoot van 10 Oktober 2013. Dit gaan oor ’n seun wat ’onderwyser in die kuit geskiet het – hy vertel hoe drie kinders hom getreiter het.