’n App met toegevoegde werklikheid vir gr. 10-, 11- en 12-handboeke wat onlangs bekend gestel is, stel leerders in staat om op ’n nuwe manier met hul handboeke om te gaan. Dit word die LivingPages-app genoem en is van stapel gestuur deur Via Afrika Future, ’n afdeling van Via Afrika Uitgewers.

Maar wat is toegevoegde werklikheid? Wel, dis die werklikheid met toegevoegde (vermeerderde), rekenaar-gegenereerde elemente, soos klank, video of grafika. Dit is soos die teenoorgestelde van virtuele werklikheid, waar die regte wêreld deur ’n nabootsing daarvan vervang is.

Die app gee party van die Via Afrika-handboeke lewe deur die gedrukte woord met digitale inhoud aan te vul, wat direk na ’n mobiele toestel gestuur kan word. Toegevoegde werklikheid help die leerder bykomende inhoud sien wat met die bladsye te doen het.

Met hierdie app kan leerders onder meer eksperimente sien, na foto’s van internasionale bestemmings kyk en na poësie luister. LivingPages is op Android- en Apple-toestelle beskikbaar en werk met Via Afrika-handboeke wat in Engels, Afrikaans en agt Afrika-tale geskryf is.

Michael Goodman, Via Afrika se groepsbestuurder (uitgewery), sê: “Met hierdie app wou ons ’n betekenisvoller en innemender leerervaring skep. Die tegnologie van toegevoegde werklikheid stel die app in staat om die leerder in ’n digitale taal te stimuleer, wat hul primêre manier is om met die wêreld om te gaan.”

Via Afrika ontwikkel al ’n geruime tyd innoverende produkte wat ’n digitale ervaring met hul bekroonde boeke bied. ’n Voorbeeld hiervan is die MobiReader-app, wat opvoeders en leerders opvoedkundige materiaal van Via Afrika in e-boekformaat laat aflaai.

Michael noem volgens ’n verslag op Forbes.com (wat op sy beurt berig van The Gartner Group, ’n Amerikaanse firma wat fokus op inligtingstegnologie en raadgewing) dat daar teen 2015 vier keer soveel ontwikkelingsprojekte vir mobiele apps as projekte vir gewone rekenaars gaan wees. Volgens Michael is dit die rede hoekom Via Afrika nou leerders wil voorsien van opvoedkundige hulpmiddels wat hulle van vaardighede gaan voorsien wat hulle in ’n toenemend tegno-sentriese wêreld gaan nodig kry.

“Tegnologie het verander wat ons leer, maar ook hoe ons leer en werk. Die LivingPages-app verryk die leerervaring en verseker dat leerders in ’n digitale wêreld goed toegerus is,” sluit Michael af.